Die Piesangskille gly tot bo-aan dié Top-20

Die Piesangskille (Argieffoto)

Die alternatiewe Afrikaanse groep, Die Piesangskille, neem hierdie week die nommer een posisie op Maroela Media se Afrikaans Top-20 in met “Inge 2”. Die lied was veral die afgelope naweek baie populêr op verskillende stromingsplatforms en het tot die topposisie op ons treffersparade geklim.

Bernice West stel nie met haar jongste lied, “As Hy weer kom”, teleur nie. Dié lied, soos “Lyfie”, is ʼn mengsel van pop, alternatief en ʼn bietjie van die musiekstyl wat “maskandi” genoem word, en maak sy verskyning in die derde plek op die Top-20.

Die tradisionele lied, “As Hy weer kom”, gaan natuurlik oor die wederkoms. Bernice het wel ʼn paar nuwe verse bygeskryf om dié lied haar eie te maak. Die musiekvideo van dié lied is geskep om die idee van God se wederkoms uit te beeld. “Waarmee gaan jy besig wees as Jesus terugkom?” wil sy vra.

In vandeesweek se Top-20 is daar vyf liedjies wat klim, twaalf wat hulle plekke verloor, een nuwe liedjie wat op die Top-20 verskyn en twee liedjies wat onveranderd bly.

1. Die Piesangskille – “Inge 2”
2. Appel – “Foute”
3. Die Piesangskille – “Lyntjie”
4. Bernice West – “As Hy weer kom”
5. Brendan Peyper – “Toer om die vloer”
6. Eloff – “Koue kole”
7. Barto – “Impulsief”
8. Rooksein – “Hey jy”
9. Barto – “H2Oë”
10. Jay – “Stoutgat”
11. Die Heuwels Fantasties saam met Appel – “Nora Vlok”
12. Appel – “Diana”
13. Ricus Nel – “Khaki”
14. Appel – “Suikerbos”
15. Riana Nel – “Wat nou?”
16. Janie Bay saam met Elandré – “Die einde”
17. Bobby van Jaarsveld – “Toe, nou en altyd”
18. Droomsindroom – “Jonk en danig”
19. Dodo Nyoka – “Frikkie vir ʼn rukkie”
20. Snotkop – “Marakas”

Nuwe uitreikings:

Wilma van Heerden (Foto: Spotify)

Vita Lu se nuwe uitreiking, “Versekerd”, met Jason Bradley is ʼn huldeblyk aan dié ontslape sanger wat sedert 2003 sy stempel op die plaaslike countrymusiek-toneel afgedruk en jare internasionaal op feeste in onder andere Nashville, Texas in die VSA, en Nieu-Seeland opgetree het. Jason is in Augustus 2022 na ʼn lang siekbed oorlede. Bruce Wallis, bekende musiekvervaardiger en dromspeler, het toevallig op ʼn demo-lied afgekom waar Jason een van Vita Lu se liedjies sing. Vita wou die lied eintlik aan ʼn ander kunstenaar voorlê, maar het besluit om Jason se nagedagtenis te vereer. Sy het die liedjie by die Suid-Afrikaanse Musiekregteorganisasie (Samro) onder sy naam geregistreer, al het hy nie die liedjie self geskryf nie. Vita het gesê dit sal verseker dat Tina, Jason se vrou, ook van die opbrengs uit dié lied kan kry indien dit ʼn inkomste sou verdien.

Wilma van Heerden is terug met ʼn tweede liedjie, “Maklike wiskunde”, wat sy onlangs uitgereik het. Sy het haar debuut in die musiekbedryf gemaak met die vrystel van haar gewilde lied, “SySoen”, wat ook op verskeie trefferparades was. “Maklike wiskunde” is geskryf deur Nicholas Jordaan en Hugo Ludik van die groep ADAM en handel oor die liefde. Liefde is eenvoudig, net soos wiskunde, as jy die regte formule gebruik, vertel Wilma.

Ander liedjies wat uitgereik is, is Jovan en Thelma saam met Steve Hofmeyr se “Boer se gebed”, Bernice West se “As Hy weer kom”, Zoé se “Hier”, Tino se “Vas en los” en Francois van Coke saam met Loufi se “Ons is die vuur”.

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music- en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wikkie ·

Mense, mense, die Bernice West meisie bring darem net iets anders na Afrikaanse musiek. Sy rock, letterlik en figuurlik. Ek skiet geen van die ander kunstenaars se musiek af nie, maar Bernice is kookwater. Ek love haar weergawe van As Hy Weer Kom. Ek rave sommer agter my lessenaar. Bons op-en-af soos ‘n tiener in ‘n nagklub.

Kyk, Suid Afrika en Afrikaans hét talent.

Nommer 7 ·

Stem saam. Dit is die verskil tussen ‘n kunstenaar en ‘n “entertainer”. ‘n Kunstenaar kom altyd met iets nuuts en oorspronklik na vore. Jy ervaar nie deja-vu met dit wat kunstenaars jou bied nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.