‘Dis Opera’ spog met nuwe aanbieder

Charl van Heyningen, nuwe aanbieder van die bekende RSG-program Dis Opera (Foto: Verskaf)

Dis Opera, die bekende RSG-program wat sedert 2010 deur Wouter de Wet aangebied word, slaan op 17 November ʼn nuwe koers in.

“Ek was aanvanklik nogal uit die veld geslaan toe RSG my genader het,” vertel Charl van Heyningen wat binnekort by De Wet as aanbieder oorneem. “Ek het gedink ‘Wow! Wat ’n lekker geleentheid om my kennis en musiek met luisteraars te deel’.”

“Ek het vir ’n groot gedeelte van my lewe opera geslaap, geëet en gedrink as operasanger en het ongelooflik kennis opgebou in daardie tyd. Nou kan ek bietjie terugploeg,” vertel Van Heyningen opgewonde. Operamusiek vind nie aanklank by enige musiekliefhebber nie, maar dit lê hóm baie na aan die hart.

“Dis die drama en grootsheid daarvan wat dit so besonders maak. En natuurlik die menslike stem wat in al sy glorie pryk,” verduidelik Van Heyningen. Hy het nie spesifieke voorkeure nie, maar bieg dat Mozart sy gunsteling is, met Verdi ’n kortkop agter.

Hoewel musiek en opera Van Heyningen se eerste liefde is, is dit nie al wat hy in sy loopbaan aangepak het nie.

Van Heyningen het opera by die Hochschule für Musik und Theater  in München, Duitsland, studeer. Hy het in talle operas soos Die Barbier van Seville (as Figaro), Carmen (as Morales), Die Huwelik van Figaro (as Die Graaf) en Don Giovanni (Die Don), as liriese bariton opgetree. Later het hy ʼn graad in regte by die Universiteit van Johannesburg voltooi. Ná afloop van sy LLB-graad het Van Heyningen besluit om eers op sy akteursloopbaan te fokus en later sy klerkskap te voltooi, maar toe los die vermaaklikheidsbedryf hom nie.

Van Heyningen is bekend vir sy rolle in televisiereekse soos Vleuels (as Les), Wolwedans in die Skemer (as speursersant Conrad Nolte) en Die Mannheim-Sage (as Prinsloo). Hy het in 1987 oorklanking vir die rolprent ʼn Wêreld sonder grense behartig en tree gereeld as stemkunstenaar vir radio- en TV-advertensies op.

“Ek moet nogal groot skoene vol staan deur by Wouter oor te neem,” vertel Van Heyningen. “Daarom het ek besluit om hom nie te probeer nadoen nie, maar eerder my eie ding te doen.”

Hy verduidelik dat musiekboffins se behoeftes ewe belangrik as Jan Alleman s’n is: “Ek gaan steeds probeer om die fynproewer tevrede te stel, maar ek gaan beslis ook nuwe luisteraars probeer lok deur my aanbod by tye meer toeganklik vir die breër publiek te maak.”

Hy wil graag daarop fokus om ʼn sterker sosiale media-interaksie met luisteraars te kweek deur nuwe Facebook-, Twitter- en Instagram-blaaie spesifiek vir Dis Opera te begin. Die program kry binnekort ook sy eie e-posadres, [email protected].

Dis Opera word Sondae om 21:10 op RSG 100 tot 104 FM uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rupert Ashford ·

Newwermaaind Wouter de Wet se skoene (ja hulle is ook groot), maar Johann Botha wat die oorspronklike aanbieder was het reuse spore getrap – hy was die man wat my na opera musiek laat begin luister het met daardie program.

John ·

Ja Rupert, Johann het vuur en vlam gebring en almal tot ons Mimi het die program geniet. Waarom klassieke musiek gelyk gestel word aan gevaarlike pornografie en eers saans wanneer-die-kinders-slaap aangebied word, sal net die kwaai antie weet. Hoe kry jongmense blootstelling aan die klassieke. Willem kan ook maar plek maar vir iemand anders want hy is van 6 uur soggens besig om die stasie te ‘plaaslik’. Waarom nie ook die program een middag in die week herhaal nie…. vir jonges. Vroeèr dae is ‘n hele simfonie op sekere middae uitgesaai. En ons almal lewe nog. Watter mens kan Sondagaand wakker bly tot 11 uur met die volle werksweek wat voorlè? Asseblief!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.