Dit gaan goed met Else-gesin 5 weke ná ongeluk

Dit gaan goed met Chris en Chanelle Else se baba, Clara, nadat sy in Desember by ‘n stel trappe afgetuimel het. (Foto: verskaf)

“Jy weet nooit hoe jy so iets sal hanteer voordat dit met jou gebeur nie. Wat ek wel weet, is dat daar ʼn bonatuurlike kalmte oor ons gespoel het nadat die ongeluk gebeur het.”

Só onthou die sanger, Chris Else, die gevoel wat hy en sy vrou, Chanelle, ervaar het nadat hul 11 maande oue dogtertjie van ʼn stel buitetrappies afgetuimel het. Dit is vandag presies vyf weke sedert dié ongeluk gebeur het, en hoewel dit die Else-gesin geruk het, lewer hulle vandag ʼn getuienis van dankbaarheid.

Clara het vroeg in Desember in haar loopring gespeel voordat die fratsongeluk gebeur het. Chris het pas teruggekom van ʼn twee weke lange musiektoer in Suid-Amerika.

“Dit was ʼn normale dag vir ons,” vertel Chris aan Maroela Media. “Ons huis is redelik plat, daar is nie enige trappe nie en is meestal kindervriendelik. Daar is wel drie trappies by die agterdeur in die kombuis. Op ʼn manier het die agterdeur oopgeswaai, ons vermoed dat dit nie behoorlik ingehaak was nie, en dat ons hondjie dit per ongeluk oopgestoot het.

“Ek het Clara in haar loopring gesit en nie eers my rug vir vyf sekondes gedraai nie, toe is sy reeds verby die muur tussen die kombuis en sitkamer. Ek was net te laat om haar te keer.”

Clara het by die trappe afgetuimel, en by die loopring uitgeval toe sy die tweede trap tref. Sy het haar kop teen die grond gestamp, en hoewel Chris en sy vrou hulself boeglam geskrik het, is hulle dankbaar dat sy nie haar kop teen die rand van een van die trappe gestamp het nie.

“Ons kon dadelik sien dat sy baie seergekry het. Sy het vreeslik geskree. Ons het met haar na die naaste hospitaal gejaag, waar hulle ʼn MRI-skandering gedoen het. Daar het hulle vasgestel dat sy ʼn breinbloeding opgedoen het.”

Die dokters het vir die bekommerde ouerpaar gesê dat hulle Clara die volgende ses weke moet dophou om seker te maak dat sy nie enige kommerwekkende simptome toon nie. Dié simptome sluit onder meer epileptiese aanvalle en braking in.

In die vyf weke ná die ongeluk, is Chris dankbaar om te sê dat Clara nog nie enige van dié simptome getoon het nie.

Chris en Chanelle is dankbaar vir klein Clara se herstel. (Foto: verskaf)

“Dank die Vader daarvoor. Ons glo dat sy ten volle herstel het, en weer gesond is.”

Nadat Chris die nuus van die fratsongeluk in Desember op sosiale media gedeel het, het mense ʼn laer van gebed om die gesin getrek.

“Ons is deur ʼn ongelooflike moeilike en stresvolle tyd. Om ses weke te wag om te sien of iets gebeur … jy kan jouself indink wat alles deur ʼn mens se kop gaan. Ons het maar net sterk gestaan in geloof, en mense het so saam met ons gesin gebid.

“Dit is die grootste geskenk wat ons kon kry, ons is so ongelooflik dankbaar vir die ondersteuning en gebede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vinny ·

Sjoe sulke dinge gebeur so vinnig. baie sterkte julle, bly die kleinding vorder goed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.