FAK huldig Christelike sanger

Piet Smit is deur die FAK vir sy jarelange bydrae tot die plaaslike musiekbedryf vereer. (Foto: Verskaf)

Die bekende Christelike sanger Piet Smit is die afgelope naweek in Wellington in die Wes-Kaap vir sy jarelange bydrae tot die plaaslike musiekbedryf vereer.

Smit is by ʼn spoggeleentheid met die Andrew Murray-FAK-toekenning vereer wat deur Elizma Smith, die FAK se kultuurorganiseerder vir die Kaapprovinsies, aan hom oorhandig is.

Vyf van sy albums het goue status bereik en Heer U maak my nuut het platinumstatus behaal. Dit is ʼn prestasie wat nog deur geen ander oorspronklike geestelike album in Suid-Afrika behaal is nie.

Smith se sangloopbaan het in 1994 afgeskop en sedertdien het hy al 34 albums uitgereik.

“Koning David se talle Psalms is voorbeelde van hoe ʼn mens die Here deur sang kan dien. Nie almal van ons is koning David nie, want die Here gee vir ons verskeie talente,” se Smith.

Smit het sy dank uitgespreek teenoor die FAK en die Andrew Murray-stigting vir die groot eer wat hom te beurt geval het.

“Al wat ʼn mens kan doen is om die Here te dank vir die talente wat hy vir jou gegee het. As ʼn mens so ʼn gawe ontvang, moet jy dit tot die beste van jou vermoë en tot eer van sy naam doen,” was Smit se woorde.

Tydens die glansgeleentheid het die teoloë dr. Susan Rakoczy en Laurie Gaum pryse ontvang vir hulle Christelik-akademiese artikels en werksessies wat deur hulle gefasiliteer is.

Van links na regs: Andries van Aarde, Roedolf Botha, Laurie Gaum, Ernst Conradie, Piet Smit en Louis Jonker. (Foto: Verskaf)

Louis Jonker, Jan Botha en Ernst Conradie het die Andrew Murrayprys vir die boek Die Bybel in fokus: Hoe gelowig én denkend te lees gewen, terwyl Roedolf Botha met die Desmond Tutu-Gerrit Brand-Prys vir sy debuutboek Jesus-leierskap weggestap het.

Andries van Aarde het die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys gewen vir sy boek in twee volumes Jesus, Paul and Matthew wat deur die Cambrige Scholar’s Publications uitgegee is.

Andrew Murray (1828-1917) was ʼn bekende teoloog en een van die voorste godsdienstige skrywers wat Suid-Afrika nog opgelewer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Naomi ·

Baie geluk Piet Smit jy verdien dit ja gebruik jou talent geskenk deur ons Hemelse Vader

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.