FAK-liedjies maak draai in buiteland

Stefan Jansen. (Foto: verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Liedjiebus-projek het vlerke gekry toe hul ambassadeur, Stefan Jansen, van die FAK se bekendste liedjies tydens sy Nederlandse toer opgevoer het.

“Daar was soveel hoogtepunte aan hierdie toer: om te kon sien hoe die Nederlanders Afrikaans as ‘streektaal’ vier, om die eerste sanger te kon wees wat ’n Afrikaanse toer van dié aard kon hou, en om te kon sien hoe baie mense aanklank by die Afrikaanse musiek vind, maar die mooiste deel van die toer was om die Liedjiebus internasionaal te kon vat,” het Stefan ná sy maandlange toer gesê.

Hy het tydens dié toer by verskeie kroeë, hotelle, sportgeleenthede en ouetehuise opgetree. Dit het hom opnuut laat besef hoe kosbaar Afrikaans en die Afrikaanse kultuur vir hom is.

“Ek het eendag in ’n ouetehuis gaan sing; alles van Laurika Rauch tot Gian Groen, en toe ek ‘Sarie Marais’ begin sing, was ek skielik oorweldig toe die saal vol bejaarde Nederlanders woord vir woord begin saamsing,” vertel hy.

“Daar was ’n tannie in die gehoor wat, toe ek klaar is met die tweede vers van die liedjie, ingesit het en self die derde vers begin sing het; toe besef ek weer dat die wortels van Afrikaanse musiek veel dieper lê as wat ons besef. Ek het gedog ek gaan oorsee toer, maar toe gaan ek op ’n ontdekkingsreis en besef net weer wat ons in Afrikaans kán doen.”

Hy bring hierdie nuutgevonde liefde vir Afrikaans terug tuisbodem toe, en beplan om sy Suid-Afrikaanse musiekwortels net verder in te slaan.

“Daarom het ek besluit om nou my trots en my liefde vir Afrikaans, en meer spesifiek ons Afrikaanse volksmusiek soos die ou FAK-liedjies, met die wêreld te begin deel,” sê Stefan.

“Vir my is volksmusiek baie belangrik; dit is waar ons musiek vandag die eerste keer wortelgeskiet het, en vandag is Afrikaanse musiek oral.”

Jansen dien sedert 2022 as die FAK Liedjiebus-projek se ambassadeur en het in dié tyd Suid-Afrika plat gereis om FAK-liedjies na verskeie gehore te bring.

Sedert Maart vanjaar het die Liedjiebus-span reeds 22 skole en 15 ouetehuise landwyd besoek.

Alhoewel hy dié musiektoer terdeë geniet het, kon hy nie van Suid-Afrika en ons mense vergeet nie.

“Afrikaanse mense is lekker mense, ons is warm mense, dit is ons kultuur. Ons braai en kyk rugby, ons praat nonsens en ons het ’n unieke sin vir humor. Ons kultuur is so mooi en ons besef nie hoe dit oorsee waardeer word nie.

“Daar is ’n liefde vir Afrikaans in die buiteland, daar is ondersteuning vir Afrikaans in die buiteland én daar is ’n toekoms vir Afrikaans in die buiteland.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Dis net jammer dat daar so baie uitheemse wysies in die FAK-liedere bundel is waarvan Sarie Marais een is. Oorsese wysies net met Afrikaanse woorde maak dit nie tradisioneel in my opinie nie. Meeste van die ou “volksliedjies” is eintlik Nederlandse, Duitse, Engelse of Amerikaanse volksliedjies.

Kirst ·

En meeste van ons het Nederlandse en Duitse bloed in ons are. Dis maar waar ons gene vandaan kom ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.