Gauteng, Wes-Kaap maak skoonskip in koorkompetisie

Mareli Roodt, Laerskool Muldersdrift se koordirigent, sê dit is die vierde jaar dat dié laerskool se senior koor, wat uit gr. 4 tot 7-leerders bestaan, aan die grootste koorkompetisie in die land deelneem. Foto: Verskaf.

ʼn Laerskool naby Krugersdorp aan die Wes-Rand en twee buurlaerskole in die Wes-Kaap is as die nasionale wenners in die Sing in Harmonie-skolekoorkompetisie aangewys.

Meer as 250 skoolkore van oor die land heen het aan vanjaar se kompetisie deelgeneem. Uiteindelik het net 18 kore dit Sondag in die eindronde uitgespook om met die louere as die beste stemme weg te stap.

Laerskool Muldersdrift het die afgelope naweek Gauteng se naam hooggehou toe dié skool se senior koor die informele afdeling van Sing in Harmonie se nasionale eindronde gewen het. Die Laerskool Panorama in Welgelegen en Laerskool Monte Vista het onderskeidelik die junior afdeling en die formele kategorie in die senior afdeling gewen.

Mareli Roodt, Laerskool Muldersdrift se koordirigent, sê dit is die vierde jaar dat dié laerskool se senior koor, wat uit gr. 4 tot 7-leerders bestaan, aan die grootste koorkompetisie in die land deelneem.

“In die eerste jaar is ons as die beste nuweling in Sing in Harmonie aangewys, voorverlede jaar het hulle algeheel derde gekom en nou het ons die nasionale finaal gewen. Ek is ongelooflik trots op dié kinders. Ons het as span hande gevat en saam hoog gevlieg. Dis só ’n groot voorreg.”

Roodt vertel sy het vier jaar gelede die skoolkoor geërf. “Dit was ’n ontdekkingsreis vir my gewees. ’n Hele nuwe wêreld het oopgegaan. Sing in Harmonie skep nie net ’n ongelooflike geleentheid vir skoolkore nie, maar ook vir beginnerkoordirigente.”

Herlie Esterhuizen, koordirigent van die Laerskool Panorama, sê dit is die eerste keer dat hulle aan Sing in Harmonie deelgeneem én gewen het. Die koorlede is almal gr. 2 en 3-leerders.

“Dit is absoluut ongelooflik. Daar is nie genoeg byvoeglike naamwoorde om hierdie prestasie te beskryf nie. Dit is net ’n wen en klaar. Dit is ’n fantastiese groep kinders.”

René Rabe, koordirigent van die Laerskool Monte Vista, sê hul prestasie is haar afskeidsgeskenk. Sy tree aan die einde van die jaar af. “Dit is ’n absolute hoogtepunt. Ons voel baie ingenome.”

Sing in Harmonie is Anthonie Bougas van Supersterre-faam se geesteskind. Dit is tans die grootste skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika, gemeet aan televisieblootstelling, pryspakette en die aantal inskrywings.

Bougas is die aanbieder, skrywer en vervaardiger van dié gesogte kompetisie, waar honderde kore van laerskole en hoërskole oor die land heen, teen mekaar meeding om die titel as Suid-Afrika se beste skoolkoor.

“Dié wenkore het ons almal in trane gehad. Die standaard was ongelooflik hoog vanjaar. Die kore het geskitter. Die kompetisie het vanjaar geweldig gegroei. Ek dink Sing in Harmonie skep ’n nuwe platform vir kore oor ons hele land,” sê Bougas.

Woodhill College, die Laerskool Nelspruit, Laerskool Van Riebeeckpark, Bryanston Parallel Medium, Laerskool Panorama, Laerskool Kragbron, Laerskool Kruinpark, Laerskool Phalaborwa en Laerskool Rustenburg het in die junior afdeling teen mekaar te staan gekom.

Laerskool Impala, Laerskool Muldersdrif, Laerskool Nelspruit, Curro Hazeldean, Laerskool Van Riebeeckpark, Laerskool Monte Vista, Monument Primêre Skool, Laerskool Kragbron en Laerskool Louw Geldenhuys het in die senior kategorie kragte gemeet.

Sing in Harmonie word reeds vir die sesde jaar aangebied en sedert 2017 word die kompetisie met trots deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) as kultuurvennoot ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John Bradley ·

Ruil asb net die onderskrif van Laerskool Panorama en Laerskool Monte Vista se foto’s asb.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê John

Baie dankie vir die kommentaar. Die twee foto’s se onderskrifte is omgeruil en behoort nou reg te vertoon.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.