Groot name wéér vanjaar by ‘Hartenbos in Afrikaans’

Jo Black en Karen Zoid op die verhoog by Hartenbos in Afrikaans in Desember 2018. Albei kunstenaars sal weer vanjaar deel van dié konsertreeks wees. (Foto: In Afrikaans/Facebook)

Dit is dalk nou eers September, maar daar is reeds talle wat uitsien na Desember se ontspan, somerson en baljaar op die strand.

Vakansiegangers, wat in Hartenbos en omliggende gebiede is, kan egter uitsien na veel meer as net ʼn gewone wegbreekkans en kan nou reeds hul plekke bespreek vir die derde Hartenbos in Afrikaans-konsertreeks wat op 21, 27 en 28 Desember by die ATKV-Hartenbos Amfiteater sal plaasvind.

“Hartenbos in Afrikaans is ʼn topgehalte-produksie danksy die kreatiewe insae van Johan Vorster, Matthys Maree, Carien Laubser en baie ander groot name in die bedryf,” sê Jacomien de Villiers, besturende direkteur van In Afrikaans.

“Dit is ʼn unieke produksie met ʼn regstreekse orkes wat veral toeskouers wat nie die groot konserte in die stede kan bywoon nie ook die geleentheid gee om deel van hierdie musiekskouspel te wees. Die konsert het ʼn visuele komponent, maar waaroor dit werklik gaan, is om die treffers te bied wat die publiek wil hoor. Mense kom van oor die hele land in Hartenbos bymekaar om dié konsertreeks in vrolike vakansieluim te geniet.”

De Villiers sê die eerste twee konsertreekse was ʼn wegholsukses wat in 2017 en 2018 deur sowat 30 000 feesgangers bygewoon is. Die kaartjies vir die gala-geleentheid was reeds lank vooraf uitverkoop en die span by Inhoud Huis Musiek het geen ander keuse gehad nie as om ’n opvolgreeks te reël en dit moontlik ’n jaarlikse instelling te maak. 

Robbie Wessels in aksie op die verhoog van Hartenbos in Afrikaans in Desember 2018. (Foto: In Afrikaans/Facebook)

“Vanjaar se konsertreeks bied iets vir elke musieksmaak en -voorkeur, of jy nou hou van langarm of meer ernstige akoestiese verwerkings,” sê De Villiers.

Van die land se grootste kunstenaars, onder wie Jo Black, Robbie Wessels, Karen Zoid, Leah, Appel, Biggy, Roan Ash, Juanita du Plessis, Francois van Coke, Early B en Jan Bloukaas, sal op die verhoog te sien wees. Spoegwolf sal ook vanjaar vir die eerste keer deel van die konsertreeks wees.

“Ons probeer altyd om musiek te maak wat lewens verander. Daarom het ons kunstenaars soos Jo Black en ander gekies, wat hoop bring deur hulle musiek. Ons wil vanjaar baie spesiale oomblikke vasvang wat werklik mense se harte sal aanraak,” sê De Villiers.

Sy verklap ʼn paar hoogtepunte en groot verrassings kan verwag word, waaronder nuwe enkelsnitte deur Robbie Wessels, Leah, Karen Zoid en Appel wat die gehoor sal gaande hê.

Roan Ash sal vanjaar weer deel wees van Hartenbos in Afrikaans. (Foto: In Afrikaans/Facebook)

Ook die bekendes vertel hulle sien uit om by Hartenbos in Afrikaans op die verhoog te wees. “Ek is regtig opgewonde oor vanjaar se reeks – dit gaan nog groter as laas jaar wees!” sê Jo Black.

Robbie Wessels sê op sy beurt die konsertreeks is een van die bestes waarvan hy al deel was. “Die In Afrikaans-konsertreeks is die beste manier om die Desembervakansie mee af te sluit. Dis ʼn great show met van ons land se grootste kunstenaars in die hartjie van Hartenbos by die amfiteater. Verlede jaar se gees was fantasties en ek glo vanjaar gaan dit nog lekkerder en groter wees.”

Buiten die musiek, sal daar ook verskeie kos- en drankstalletjies en ander uitstallers wees. Toegangskaartjies kan by die hekke gekoop word op die onderskeie dae vanaf 15:00 of aanlyn by iTickets.

Kaartjies sal ook vanaf 19 Desember by die ATKV-inligtingswoonwa te koop wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Swartwolf ·

Ek voel die genade dat ek nie na jb hoef te luister nie.

Liendempers ·

Dink mens noem dit swartgallig. Sluk n Rennie, dalk voel jy beter seun.

JV ·

Wens hulle wil ‘n paar minder bekendes ‘n kans saam met die bekendes gee soos onder andere Stefan Visagie. Die man mag maar sing. Ons is elke jaar op Hartenbos saam met al ons familie, dit is elke jaar dieselfde sangers wat optree, hierdie jaar gaan ons dit n mis gee.

Jax ·

Ek gaan dit beslis n mis gee. Behalwe vir Juanita, is dit verseker nie musiek wat ek na luister nie.
Net die name van sommiges, sit my alreeds dwars!

Francois ·

O nou sien ek – dis net kunstenaars wat “hoop bring deur hulle musiek” wat gekies is…

Tanya ·

Ek was verlede jaar daar, dit was n fantastiese belewenis. Ek sal verseker hierdie jaar weer daar wees, ek mis dit vir niks in die wereld nie. Ek wens net die organiseerders wil groter families in ag neem. Die kaartjies is nie goedkoop nie, en groter gesinne kan nie noodwendig daardie pryse bekostig nie.

Swartwolf ·

Stem saam, hy is in elk geval ‘n beter kunstenaar en musiekant as die res saam.

Jerry ·

Die ATKV sal nooit Steve nooi nie. Daarom ondersteun ek die FAK heelhartig.

dj slapgat ·

Opreg dankbaar dat ek 500km ver van Hartenbosh gaan wees. Kan dan my musiek in rus en vrede in my huis luister. Dankie vir die waarskuwing. Groete

Kraai ·

Haai nee julle , gee almal hier n kans, ons as Afrikaners word reeds afgejak en afgekraak. Hoekom moet ons nou wees soos ander rasse wat mekaar niks gun nie, Staan tog net EENKEER op vir Afrikaans. Ek het ook n bree verskeidenheid van smaak, maar hel…….dit is nie goed om nog verdere negatiewe kommentaar te lewer nie. ons het dit NIE ook nou nodig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.