Helpmekaar maak musikale meesterskuif

Franco Prinsloo (Foto: Yolandi Yacobsz)

Of dit nou die silwerskerm of kassie, kerk of katedraal is; die kans is goed dat jy al een van die meer as 470 besonderse werke van die wêreldbekende komponis-dirigent Franco Prinsloo (35) raakgeluister het. Dié bekroonde maestro is pas as Helpmekaar Kollege in Johannesburg se nuwe koormeester aangestel.

Volgens Klaus König, skoolhoof, is Prinsloo se aanstelling as dié privaat skool se nuwe koormeester ’n reusevoorreg. “Franco is nie net ’n wêreldklaskomponis nie, maar hy het die vermoë en natuurlike aanvoeling om jongmense op ’n emosiebelaaide reis te neem wat musiek as universele taal ontsluit; wat elke koor- én gehoorlid aanraak en inspireer.

“Gesoute resensente is gewis in die kol wanneer hulle sê dat hy uiteenlopende musiekstyle naatloos en harmonieus tot ’n unieke idioom vervleg. Ons is mateloos opgewonde én oortuig daarvan dat Franco ons koor met sy uitgebreide oeuvre – wat wissel van die ingewikkeld verweefde toontapisserie van Latynse tekste (soos Sanctus) tot aangrypend eenvoudige toonsettings soos Totius se Psalm 139-beryming (Deurgrond o Heer en ken my hart) – tot ’n splinternuwe vlak gaan neem,” sê König.

Prinsloo, ’n boorling van Middelburg in Mpumalanga en tans ook dirigent van onder andere die Akademia-universiteitskoor en Vox Chamber Choir, het musiek aan die Noordwes-Universiteit studeer en sy genootskap (fellowship) in komposisie aan die Londen College of Music voltooi. Volgens hom is sy koorliefde beslis deur Awie van Wyk, destyds die geliefde en gerekende dirigent van die Potchefstroom Universiteit (PUK) -koor, aangevuur en geslyp.

“Helpmekaar is ’n prestigeskool met ’n ongelooflike mooi en gevestigde koorkultuur. Met dié nuwe geleentheid ontvang ek ’n musikale erfporsie wat oor jare deur my voorgangers gevestig is. Dit is rééds steenkool wat tot diamant gevorm is, wat ek kan koester en verder slyp,” vertel Prinsloo op die vooraand van sy eenmalige a cappella-program Requiem wat Vrydagaand in Pretoria deur die Vox Chamber Choir uitgevoer word.

Prinsloo het die Vox Chamber Choir in 2017 met agt lede op die been gebring as “laboratorium” vir sy komposisies. Dié koor het intussen gegroei tot 38 lede, spog met agt albums, drie Sama-benoemings en ’n goue medalje by die Wêreldkoorspele.

Prinsloo en die Vox Chamber Choir is onlangs ook met ’n Aitsa-musiektoekenning bekroon vir klassieke snit van die jaar vir “Wieglied”, wat deel van Prinsloo se reeks Ghoera Liedere vorm. Prinsloo is voorts benoem vir ’n Suid-Afrikaanse fliek- en televisietoekenning (Safta) vir die komposisie van die klankbaan vir die kykNET-dramareeks Donkerbos.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat vanjaar ’n erepenning vir prestasie in die kunste aan Prinsloo toegeken het, beskryf hom as een van die opwindendste en aktiefste komponiste in die land. “Hy word as spesialiskomponis geag wat hom op die uitbouing en bevordering van die Afrikaanse kunslied en koormusiek toespits, terwyl sy kontemporêre klassieke musiek op die groot- en kleinskerm die toon aangee.”

Van Prinsloo se kontemporêre werke sluit in die klankbaan vir die rolprente Wonderlus (2016) en Meisies wat fluit (2020), asook treffertelevisiereekse soos Nêrens, Noord-Kaap en Donkerbos.

Sy klassieke komposisies word egter nie net plaaslik deur kore soos die Universiteit Stellenbosch se koor uitgevoer nie, maar die diepgang waarmee hy elke stuk betekenisvol soos ’n skilder ets, kan wêreldwyd gehoor word.

Een van sy besliste hoogtepunte in die afgelope bykans twee dekades as komponis is toe die Kiëf Simfoniese Koor in die oorloggeteisterde Oekraïne in Junie vanjaar van sy oorspronklike werke uitgevoer het. “Dit was deel van dié koor se 30ste bestaansjaarviering. Een van die komposisies wat hulle uitgevoer het en wat my baie na aan die hart lê, is Missa pro defunctis, ’n dodemis.

“Dit bestaan uit vyf bewegings wat elkeen gekomponeer is nadat ek iemand spesiaal aan die dood afgestaan het. Al kon ek slegs by een halfuur lange repetisie via WhatsApp-video-oproep inskakel en die konsert net op YouTube volg, sal dié koor se unieke klank, midde-in die onsekere omstandighede waarin hulle leef, my ewig bybly,” sê Prinsloo.

Vir Prinsloo is musiek deel van sy identiteit. “Deur musiek te skep en ’n gemeenskap van koorsangliefhebbers saam te snoer, ongeag waar in die wêreld, vervul ek my roeping. Elke mens wat koorsang kies, het ’n passie, ’n behoefte om hom- of haarself uit te druk. Musiek bied ’n seldsame platform, ’n veilige ruimte waar jy uiting kan gee aan al die emosies waarmee jy op ’n daaglikse grondslag gekonfronteer word.

“Musiek is nie net die onbegrensde gom wat mense saambind nie, maar ’n Godgegewe instrument om ander te inspireer; terapie wat onwetend en ongesiens genees. Wat ’n voorreg om dié geskenk nou ook by Helpmekaar verder te ontdek en ontgin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.