Hollywood: Gunsteling-beer nou booswig; Marilyn Monroe gevier

Kevin Spacey. Foto: Evan Agostini/Invision/AP, File

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Kevin Spacey op pad hof toe

Die House of Cards-akteur Kevin Spacey is oortuig daarvan dat hy sy onskuld teen verskeie aanklagte van seksuele aanranding kan bewys.

In ’n verklaring wat hy op Dinsdag 31 Mei uitgereik het, verduidelik hy dat hy so gou moontlik na die Verenigde Koninkryk sal reis om homself in die hof te verdedig.

Dit volg ná daar verlede week vyf aanklagte van seksuele aanranding deur die Britse owerhede teen die Oscar-wenner aanhangig gemaak is.

“Ek waardeer die Britse kroonvervolgingsdiens se verklaring waarin hulle die media en die publiek sorgvuldig daaraan herinner het dat ek geregtig is op ’n regverdige verhoor, en onskuldig is totdat die teendeel bewys word,” het die verklaring gelui wat Spacey aan die kletsprogram Good Morning America gestuur het.

Aantygings is met die aanvang van die #MeToo-beweging vir die eerste keer gelug. Dit het daartoe gelei dat Spacey sy rol in die politieke dramareeks House of Cards verloor het.

Top Gun: Maverick haal reusesukses

Ná talle struikelblokke het die lankverwagte tweede Top Gun-rolprent op Vrydag 27 Mei die silwerskerm getref, en dit boonop met ʼn baanbrekerslag.

Tom Cruise het in egte “Maverick”-styl in ʼn helikopter wat hy self beman het opgedaag. (Foto: Robyn Beck/AFP)

Die rolprent het reeds $300 miljoen (sowat R4,6 miljard) by die internasionale loket verdien, waarvan $100 miljoen (sowat R1,5 miljard) die eerste naweek sedert die bekendstelling daarvan gemaak is.

“Dankie aan almal wat Top Gun: Maverick gaan kyk het en gehelp het om dit ʼn historiese naweek te maak,” het Tom Cruise, die hoofakteur van dié aksiebelaaide rolprent, in ʼn onlangse twiet sy dankbaarheid vir die uitsonderlike ondersteuning uitgespreek.

Die rolprent sou in 2019 al op die skerms gewees het, maar weens ingewikkelde aksietonele is die bekendstellingsdatum uitgestel. Die Covid-19‑pandemie het veroorsaak dat die première van die fliek keer op keer aangeskuif is.

Marilyn Monroe opnuut in die kollig

Die Hollywood-ikoon Marilyn Monroe sou op 1 Junie vanjaar 96 oud geword het.

Marilyn Monroe Foto: AP Photo/File

Dié blonde aktrise se naam het onlangs weer ʼn draai in mense se gedagtes gemaak toe die glanspersoonlikheid Kim Kardashian ʼn rok van Monroe na vanjaar se Met Gala gedra het.

Ter ere van die dag wat haar 96ste verjaarsdag sou wees, is daar van haar besittings op veiling verkoop.

Onder meer sal die rooi, glinsterende Gentlemen Prefer Blondes-rok wat deur William “Billy” Travilla ontwerp is, teen minstens $80 000 (sowat R1.2 miljoen) verkoop word.

Ander besittings sluit talle kostuums uit verskeie rolprente, handgeskrewe briewe, foto’s, vals oogwimpers, parfuum, ʼn sambreel, die swembroek wat sy in Let’s Make it Legal gedra het en die stoel wat gebruik is in Monroe se laaste fotosessie in 1962.

Rooifluweel-kolwyntjies is ook by die reusestandbeeld van Monroe in Palm Springs aan aanhangers uitgedeel om haar verjaarsdag te vier.

Justin Timberlake verkoop hele musiekkatalogus

Die “Cry me a river”-sanger Justin Timberlake, het ingestem om sy musiekkatalogus aan Hipgnosis Song Management te verkoop.

Volgens die Wall Street Journal is dié katalogus sowat $100 miljoen (sowat R1.5 miljard) werd.

Justin Timberlake en sy vrou, Jessica Biel. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

“Ek sien uit daarna om ’n vennoot van Merck Mercuriadis [stigter en hoof uitvoerende beampte van Hipgnosis Song Management],” het Timberlake in ’n verklaring gesê.

Nie net verkoop die 41-jarige sanger sy katalogus nie, Hipgnosis sal ook die kopiereg, eienaarskap en finansiële belange en die uitgewer se aandeel van Timberlake se toekomstige musiek hê.

Timberlake is nie die eerste sanger wat dié soort onderhandeling aangepak het nie.

Neil Young en Shakira het albei dele van hul katalogusse in Januarie vanjaar aan Hipgnosis verkoop.

Meghan Markle besoek skoolskietery-gedenkteken in Texas

Meghan Markle by die gedenkteken van die skoolskietery in Uvalde, Texas. (Foto: Chandan Khanna/AFP)

Meghan Markle, die hertogin van Sussex, het op Donderdag 26 Mei ʼn gedenkteken van die skoolskietery wat twee dae vroeër by Robb Elementary School in Uvalde, Texas, plaasgevind het, besoek.

Dié voorval het die lewens van 19 leerders en twee volwassenes geëis.

“Sy het hierdie reis in ʼn persoonlike hoedanigheid meegemaak om as ʼn ma haar medelye en persoonlike ondersteuning te betoon aan ʼn gemeenskap wat ondenkbare seer ervaar,” het ʼn woordvoerder van die Sussexe aan NBC gesê.

Haar man, prins Harry, en die egpaar se twee kinders, Archie en Lilibet, het nie die gedenkteken saam met Markle besoek nie.

Foto ter illiustrasie. (Foto: Sahinsezerdincer/Pixabay)

Winnie The Pooh nou ’n gruwelbeer

Die kopiereg van die bekende kinderbeerverhale Winnie the Pooh het vyf maande gelede verstryk.

Die stories, wat oorspronklik deur AA Milne neergepen is, is skaars beskikbaar vir openbare gebruik toe die eerste gruwelgolf die verhaalreeks tref.

Winnie the Pooh: Blood and Honey is ’n gruwelfliek wat die geliefde beer en sy vriend Piglet in nagmerrie-karakters omskep.

Kykers gaan glo sien hoe Winnie the Pooh en Piglet op ’n wraaktog gaan omdat hul versorger, Christopher Robin, hul verlaat en verwaarloos het.

Die datum waarop die rolprent uitgereik sal word, is nog nie bekend nie.

Koninklike Instagram gons

Die amptelike Instagram-bladsy van die Britse koningshuis is aan die gons om koningin Elizabeth II se platinum‑jubileum te vier.

Op Donderdag 26 Mei is PJ die koninklike Corgi bekendgestel. Dié oulike hondjie vorm deel van ʼn stel Instagram-plakkers wat deur die Britse koningshuis se sosialemediaspan beskikbaar gestel is.

Die koninklike Corgi. (Foto: The Royal Family/Instagram)

ʼn Indrukwekkende video van die koningin se kroningsuitrusting is ook op die Instagram-blad gedeel om bewusmaking te skep oor die spesiale platinum‑jubileum‑uitstalling wat van 7 Julie tot en met 26 September by die Windsor‑kasteel te siene sal wees.

Dié Instagram-bladsy het ook talle plasings van die koningin deur die jare gedeel om voor te berei ter viering van haar 70 jaar op die troon, waaronder ʼn video van Buckingham‑paleis se voorbereiding vir die vieringe.

Bronne: E! News, Hollywood Reporter, Variety, Screenrant

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.