Inskrywings vir Aitsas stroom behoorlik in

‘n Handjievol van Afrikaans se grootste kunstenaars verlede jaar op die Aitsas-verhoog. (Foto: Verskaf)

Sedert inskrywings vandeesmaand vir die vyfde Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings geopen het, het meer as ʼn honderd inskrywings van kunstenaars uit die Afrikaanse musiekbedryf af ingestroom met die hoop om met een van dié gesogte toekennings vereer te word.

Die Aitsa-musiektoekennings, aangebied deur Pretoria FM, vind plaas op Dinsdag 19 September by die Choose Life Ouditorium in Moreletapark, Pretoria, en kunstenaars, liedjieskrywers, vervaardigers, bestuurders en platemaatskappye het nog ʼn paar dae tyd om hulle inskrywings in te stuur.

Maroela Media het vroeër berig dat dié toekenningsgeleentheid in 2019 vir die heel eerste keer aangebied is.

Bekendes soos Elandré, Eloff, Riana Nel, Corlea Botha en Irene-Louise van Wyk is al met ʼn Aitsa-beeldjie beloon en vanjaar se geleentheid beloof om nie teleur te stel nie.

Volgens Willie Spies, voorsitter van die Aitsa Trust, is die groeiende aantal inskrywings ʼn bewys dat Afrikaanse musiek ʼn bloeitydperk beleef en deurlopend nuwe talent oplewer.

Willie sê die kategorieë vir popliedjie van die jaar, liedjieskrywer van die jaar, luisterliedjie van die jaar en nuweling van die jaar weer uiters gewild onder vanjaar se inskrywings is.

Willie Spies op die Aitsas-verhoog. (Foto: Verskaf)

Selfs die nuwe kategorie, klassieke snit van die jaar, sorg reeds vir goeie mededinging.

Kategoriewenners ontvang vanjaar weer ʼn uiters unieke trofee wat spesiaal vir die Aitsas ontwerp is deur die bekende beeldhouer, Francois Visser, asook ʼn kontantprys van R10 000.

Die inskrywings vir alle kategorieë sluit om middernag op 26 Mei en slegs nuwe uitreikings vir die tydperk 1 April 2022 tot 31 Maart 2023 mag ingeskryf word.

“Ons gaan voortbou op die vorige jaar se suksesresep, en die finaliste sal na afloop van ʼn intensiewe beoordelingsproses oor ʼn tydperk van twaalf weke op radio aan die publiek bekendgestel word,” sê Willie verder oor vanjaar se geleentheid.

Beoordeling van al die inskrywings vind van 7 tot 9 Junie 2023 plaas, en die beoordelingspaneel bestaan uit ʼn paneel onafhanklike beoordelaars, wat Gisela de Villiers, AJ Opperman, Rian Swanepoel, Carlé van Deventer, Anaretha Naude en Henco Harmse insluit.

Die publiek sal weereens die geleentheid kry om vir hul gunstelingkunstenaar te stem, in ʼn kategorie wat spesiaal geskep word vir ‘Kunstenaar van die Jaar – volgens publieke stem’.

  • Die inskrywingsvorms met volledige besonderhede en kriteria vir inskrywings is op Pretoria FM se webwerf
  • Kaartjies vir die toekenningsaand is reeds beskikbaar op iTickets teen R250 ʼn kaartjie, maar diegene wat nou reeds hul kaartjies koop, sal ʼn afslag van 10% ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.