Jong blues-musikant maak opslae ná Karlien-duet

Jacob Swann.

Hoewel die jong blues-musikant Jacob Swann beter bekend is vir sy Engelse musiek, is hy stadig maar seker besig om Afrikaanse harte te verower met sy sielvolle musiek.

Hy het onlangs die liedjie “Lief” saam met Karlien van Jaarsveld uitgereik. Dié liedjie vaar baie goed op Afrikaanse treffersparades en beklee tans die 12de posisie op die Maroela Media Afrikaanse Top-20.

Swann, wat oorspronklik van die Kaap afkomstig is, vertel aan Maroela Media dat hy as eerstejaarstudent op Stellenbosch begin musiek maak het.

“Destyds was daar ʼn gesonde blues-toneel op Stellenbosch en tot voor die inperking in 2020 het ek hoofsaaklik in daardie kringe beweeg en in groepe daar gespeel,” sê hy.

Van Jaarsveld en Arnold Coleske van Coleske Artists het hom vroeër vanjaar uit die bloute gebel en gevra hoe hy daaroor sou voel as sy die liedjie vir haar nuwe album sou opneem.

“Aanvanklik sou sy die liedjie self gesing het en ek het glad nie ʼn probleem daarmee gehad nie. Dit het egter so ontwikkel dat dit uiteindelik ʼn duet geword het.

“Die liedjie het beslis ʼn nuwe lewe van sy eie gekry. Ek het werklik nie verwag dat dit so goed sal vaar nie.”

Sedertdien het talle deure in die Afrikaanse musiekbedryf vir hom oopgegaan en sy dagboek is deesdae propvol toekomstige vertonings in Gauteng en Limpopo.

Dit is egter sy Engelse kortalbum getiteld Brother wat onlangs vir ʼn Sama-toekenning (South African Music Awards) benoem is. Hy is saam met kunstenaars soos Pat McKay en Watershed in die kategorie vir beste volwasse kontemporêre album benoem.

“Gedurende die inperking kon ons nie optree nie en ek het besef die enigste manier hoe ek nog ʼn inkomste kon maak deur musiek is om ʼn album te skryf wat gestroom kan word. Die album bevat ʼn verskeidenheid van uiteenlopende genres.”

Oor die Sama-benoeming is hy uiters beskeie. “Dit was nog nooit my droom om vir so ʼn toekenning benoem te word nie, maar ek voel steeds geëerd om erkenning te kry vir my werk. Dat iemand daar buite van my musiek hou, is genoeg vir my. Die benoeming was baie onverwags.”

Jacob Swann se musiek is op alle groot digitale platforms soos Apple Music en Soundcloud beskikbaar.

Kyk hier na die video vir “Lief” saam met Karlien van Jaarsveld:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.