Jonge Niamh sing Kerslied vir goeie doel

Niamh se eerste oorspronklike Afrikaanse enkelsnit, “Kersfees in die vreemde”, is net betyds vir Kerstyd uitgereik. (Foto: Niamh Beatrix Smith/Facebook)

Niamh Beatrix Smith se jongste enkelsnit is weereens die bewys dat jy nie ʼn talentsoekkompetisie hoef te wen om jou sangloopbaan te verseker nie.

Maroela Media het berig die 12-jarige Niamh (uitgespreek Neave) het in Oktober die top-drie van die Ierse been van die Junior Eurovision-kompetisie gehaal, maar Jessica McKean is uiteindelik as die wenner aangewys. Volgens die Ierse media was dit ʼn naelskraapse oorwinning. Jessica sal Ierland nou in Nice in Frankryk by die Junior Eurovision-kompetisie verteenwoordig.

Daar wink egter reeds nuwe musiekhorisonne vir Niamh wat Dinsdag haar eerste oorspronklike Afrikaanse enkelsnit, “Kersfees in die vreemde”, net betyds vir Kerstyd uitgereik het.

Sy het die liedjie ten bate van die liefdadigheidsorganisasie Reach for a Dream geskep, en wat die uitreiking selfs nog meer spesiaal maak, is dat Niamh en haar gesin vir die eerste keer in vyf jaar weer ʼn ware Somerkersfees op tuisbodem gaan kom vier.

Die jong sangeres het harte vroeër vanjaar plaaslike begin verower met haar weergawe van die treffer “Klein tambotieboom” van die alternatiewe groep Die Heuwels Fantasties. Die liedjie is binne ʼn week meer as 5 000 keer op YouTube gekyk.

“Kersfees in die vreemde” vermeng Keltiese en Suid-Afrikaanse klanke op ʼn unieke manier. (Foto: Niamh Beatrix Smith/Facebook)

Niamh se gesin is oorspronklik van Welgemoed in Kaapstad, maar het ʼn paar jaar gelede na Ierland verhuis. Dit is in die tyd dat sy ʼn veilige hawe in die nuwe en vreemde omgewing deur haar musiek gevind het.

Alda, Niamh se ma, sê sy sing reeds van kindsbeen af, maar het sedert die gesin se emigrasie eers werklik met haar sangtalent begin woeker.

“Alhoewel Niamh duidelik ʼn diep liefde vir Ierland het, het sy nie haar Suid-Afrikaanse wortels vergeet nie,” het Alda gesê.

Die vervaardiger van die lied, Riaan Steyn, van Traxtudio in Kaapstad, sê Niamh se Kerslied is enig in sy soort. “Dit vermeng Keltiese en Suid-Afrikaanse klanke op ʼn unieke manier.”

(Foto: Niamh Beatrix Smith/Facebook)

Die snit, waarin die Suid-Afrikaanse Jeugkoor gehoor kan word, beeld uit hoe Kersfees anders en tog dieselfde is vir mense oor die wêreld heen.

“Dit gaan oor hoe Kersfees, net soos musiek, mense bymekaar kan bring – ongeag hul kultuur, land of taal.

“Ek het juis Reach for a Dream gekies om baat te vind by die lied omdat die organisasie ’n onvergeetlike verskil maak in die lewens van kinders met lewensgevaarlike siektes – kinders wat baie dikwels Kersfees in die ‘onbekende’ moet deurbring,” vertel Niamh oor die liedjie wat sy self gekomponeer het.

Carla van Eeden, ʼn 10-jarige meisie van Kaapstad wat al meer as ’n jaar teen kanker baklei, was die inspirasie vir die lied en geldinsamelingsprojek. “Carla is die dapperste en liefdevolste kind wat ek ken en sy verdien om oor en oor genoem te word.”

“Niamh is ʼn toonbeeld van hoop en haar moed om voort te gaan om haar en ander se drome ’n werklikheid te maak, is inspirerend,” sê Natalie Lazaris, sakehoof van Reach for a Dream. “Ons is dankbaar dat sy gekies het om ons stigting deur haar musiek te ondersteun, aangesien dit diegene wat hul grootste stryd stry, sal help om hul drome te verwesenlik. Ons is ten volle agter Niamh en sien daarna uit om haar deur hierdie ongelooflike reis te ondersteun.”

Niamh het vanjaar ook twee ander snitte ten bate van Make-a-Wish Ireland uitgereik. Om verdere momentum by haar geldinsamelingspogings in Ierland te voeg, het Niamh ook aan ʼn oorspronklike Engelse Kersliedjie, “Christmas All Year”, gewerk. Geskryf en gekomponeer deur Niamh en in samewerking met Niamh Noade, ’n 14-jarige sanger van Noord-Ierland, ook bekend as The Girl with the Harp, sal “Christmas All Year” kort na “Kersfees in die vreemde” ook op alle groot musiekstromingsplatforms beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.