Juan Boucher ʼn bulletjie ryker

Juan Boucher se seun Bohdan is Donderdag gebore. (Foto: Shamodene Boucher/ Instagram)

Gelukwense het van oral ingestroom vir die sanger en liedjieskrywer, Juan Boucher, en sy vrou, Shamodene, ná hul seuntjie Bohdan Donderdagmiddag gebore is.

“Dit is ongelooflik, ek het beslis nou best of both worlds,” het ʼn moeë maar trotse Juan aan Maroela Media gesê.

Volgens Juan het alles goed met die bevalling verloop. Hy was net vol lof vir die span by die Mediclinic Stellenbosch en hul dokter wat ʼn totaal van sewe babas op 18 Januarie gevang het.

“Ons is regtig net só geseënd om ʼn gesonde seuntjie te hê. Dit is die heel belangrikste en ek is besonders dankbaar daarvoor. Boonop gaan dit ook baie goed met Shamodene – sy is ʼn ma duisend – ʼn mens kan klaar sien sy is heeltemal verlief en verlore as dit by Bohdan kom.”

‘n Foto van Juan Boucher en sy gesin wat hulle gedeel het om die nuus van Shamodene se tweede swangerskap te deel. (Foto: Shamodene Boucher/ Instagram)

Die tweejarige Novah, wat nou ʼn ousus is, het ook reeds ʼn kans gehad om haar boetie te ontmoet en is glo heel beïndruk met hom. “Sy hou hom nog bietjie soos ʼn speelding vas,” skerts Juan, wat ʼn spesiale lied, getiteld “Dogter”, vir haar neergepen het. “Ons sal haar by die huis nog mooi leer, maar sy sê net die hele tyd opgewonde ‘boetie, boetie’.”

Juan vertel hulle het mooi aan Bohdan se verjaarsdagdatum beplan. “Sangers neem mos maar gewoonlik blaaskans in Januarie, en met die dat Bohdan nou einde Januarie verjaar en Novah en my vrou vroeg in Februarie, kan ek hierdie spesiale dae saam met hulle vier. Die res van die tyd is ek maar gewoonlik op die pad om op die verhoog te wees.”

Die Bouchers het verlede jaar Pretoria vir die prentjiemooi Paarl verruil. Dit is hier waar Bohdan se kamer reeds ingerig en slaggereed staan om hom tuis te verwelkom. “Hy sal sekerlik vir eers by ons in die kamer bly, maar ja, ons huis is lekker groot en sy eie kamer staan slaggereed vir as hy groot genoeg is om daar in te trek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.