Kom sit aan vir Willie Strauss se ‘KOStelik’

Willie-Strauss

Willie Strauss deel nog ‘n paar idees wat jou Kerstafel ekstra spesiaal hierdie jaar sal maak. Foto: Willie Strauss se Facebook-blad.

Mense dink kunstenaars hou grendelkonserte omdat hulle die geld nodig het, maar die waarheid is dat hulle optree nodig het, sê die kookboekskrywer, sanger en kabaretkunstenaar Willie Strauss.

“Ek mis dit om saam met ʼn gehoor te kuier, hulle te hoor lag en vir hulle te kook. Ek smag daarna soos roosterbrood na vissmeer smag,” skerts hy.

Daarom het Willie en sy vriende koppe bymekaargesit en die grendelkonsert KOStelik aanmekaar geslaan.

Willie sê hy kon die konsert weens inperkingsmaatreëls nie voor ʼn gehoor opneem nie, maar hy kon hom ʼn gehoor verbeel. “En darem sal ek nou weer my musiek en kos met mense kan deel, al is dit in die kuberruim en oor ʼn afstand. Ek hoop dat mense dit net so baie sal geniet om te kyk soos ek dit geniet het om dit op te neem.”

Daaroor bestaan nie twyfel nie, want die program laat die mond water. Willie gaan kook uit sy kookboek, Daar is ʼn engel in my koskas, en die heerlike geure en nostalgie gaan saam in die pot prut.

“Ek word begelei deur Roelof Colyn op die klavier. Ons werk al jare saam en dit was ʼn lekker nostalgiese reis om weer saam met hom te werk.”

Op die program is ʼn paar skeppies ou gunstelinge van Willie se gewildste liedjies soos “Dry Land” en “Klasie”, waarvan gehore nooit genoeg kan kry nie. Dit word saamgeklits met nuwe lekkernye soos “Engel in die koskas” en “Sinkhuisliefde”.

Sonder sekere bestanddele kan dit ook nie, en “Rooiborsduif”, soos getoonset deur Henry John Williams, en “Die Fees” van NP van Wyk Louw, soos getoonset deur Wilhelm Joubert, kry ook plek op dié konsert se resep. Hoe dan anders?

ʼn Kultuurkok moenie snoep wees met ʼn knypie humor nie meen Willie, en daarvoor sorg ʼn aweregse weergawe van die lied “Rooikappie”. Kom luister self hoe die meisie met die rooi mantel in Afrikaans kan dans – met of sonder ʼn wolf.

Boer Damian Engelbrecht daag betyds op vir die feesmaal en kom speel sy trekklavier op van die liedjies. En die Kokkedoor-finalis en skilder Lientjie Wessels kon ook nie nee sê vir al die geure uit Willie se kombuis nie en kom kuier saam. Sy gaan ook wys hoe om ʼn spesiale gegeurde sout te maak. “Want Lientjie is ʼn gesoute kok!” knipoog Willie.

Die produksie is opgeneem in die Cullinan Premier Hotel en moontlik gemaak deur GingerLove. As jy nog nie weet wat GingerLove is nie, is dit tyd om uit te vind, meen Willie en hy gaan sy aanlyn gehoor sommer ook wys hoe om dié wondermiddel in ʼn gereg te gebruik. “Vir ʼn skep vol skop,” sê hy.

Om Willie se tafel kan dinge dan net nog geselliger raak met ʼn voorlesing van ʼn Jeanne Goosen-kortverhaal.

Moenie toelaat dat die inperking jou droëbek laat nie. Trek uit jou skoene, gooi ʼn glas wyn en sit saam aan vir Willie Strauss se KOStelik.

Bespreek by: https://satheatre.co.za/product/kostelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.