Boekresensie: Daar is ’n engel in my koskas

Daar is ’n engel in my koskas deur Willie Strauss word uitgegee deur Human & Rousseau

Hierdie resepteboek is ’n visuele én kreatiewe fees vir die oog – en dan praat ek nie eens van die gastronomiese verleiding vir al wat smaakknoppie is nie. Die kunstenaar, Willie Strauss, wens sy resepte en stories sal jou “op ’n heerlike, nostalgiese reis neem” en hy “hoop die engele speel saam met jou in jou kombuis”.

Hy kook en bak op ’n manier soos sy ma, ’n een-keer-deur-die-kombuis-kok, aangesien hy graag eksperimenteer met nuwe geregte en dan sy eie kop en hart volg. Hy het op ’n plaas in die Boesmanland grootgeword en dié besondere streek se gulhartigheid is in sy geregte en gebak te proe.

Die titels van die onderskeie hoofstukke in Daar is ’n engel in my koskas laat mens naderskuif om eers Strauss se interessante skrywes te lees voordat jy omblaai om na ’n resep te soek.

In Môre, Engel. Het jy lekker geslaap? verskyn staatmakerresepte wat jy vir ontbyt aan jou gaste kan bedien terwyl julle heerlik om die kombuistafel kuier. Jou gaste kan smul aan geregte soos gebakte biltong, granaatmuffins en peer-en-neutkonfyt.

In Seëninge van ’n Jewel-stoof deel Strauss die kosbare herinneringe wat hy het van sy ma wat op bakdag groot gebak het. “Die engele het saam met die deeg onder die lap gaan lê om die rysproses aan te help.” Hy onthou ook hoe hulle as kinders baklei het oor wie die korsie mag kry. “Ons het die bevoorregte ontvanger van die broodkorsie die ‘witbroodjie’ gedoop.” Die heerlike gebak in hierdie hoofstuk sluit in: kleintydse stormjaers, botterskorsie-en-lemoenbeskuit en patatbrood met karamelversiersel.

In Hou op vis vir komplimente gesels hy oor kleintydse seebesoeke en hoe hy graag weggelê het aan snoek – volgens hom die natuur se tandestokkieverskaffer – en tjips. Hy deel dan die allerheerlikste visresepte soos visbobotie, kerrievis en gebakte tamatiesardyne.

In Heilige koeie vertel hy dat sy pa wintervakansies op Vyfbeker bees geslag het en dat die biltong en droëwors dan saans voor die TV uitgehaal is om te geniet. Smullekker resepte van geregte soos sjokoladebeesstert, frikkadelpastei en beesvleis-en-bierpastei sal jou mond laat water.

In Mak soos ’n lam beweer Strauss dat lamsvleis wat in ’n buiteoond gebak word deur die engele self gaargemaak word. Die geur van lamspastei herinner hom glo aan die vlaktes van Boesmanland. Sy skaaplewerkoekies, skaapskenkel-en-stertjiebredie en oondgebraaide skaapnek sal fynproewers beïndruk.

In Re-spek-tabel gril hy vir die onthougeur van kokende varkvleis wat aan hulle as koshuiskinders opgedis is. Vandag ken hy darem ’n hele paar uithalerresepte wat die herinneringe van die oninspirerende koshuiskos verdryf. Sy geregte soos varktjops met pynappel en patats, varktjops in rooiwyn en gebakte varknek in lemoensous sal jou jou lippe laat aflek.

In Jy kan nie met hoendervlerke vlieg nie verklap hy dat daar uitspattige Poolse bantams in sy tuin by die Sinkhuis skrop. Hy deel lekker hoenderresepte wat jou gaste sal laat vra vir meer. Van die resepte sluit in grondboontjiehoender, hoender-inni-kombers en ’n geurige hoenderbobotie.

In Eet tog net jou groente, my engelkind onthou hy hoe sy ma gedreig het: “Eet jou groente of jy kry nie poeding nie.” (Hy is vandag nog ’n soettand wat van poeding en soetgoed hou.) “Gelukkig kan jy groentegeregte opdollie en selfs die gehardste groentebeswaardes sover kry om hul fiemies te los en die sprong te waag.” Sy aspersies in fillodeeg, pampoenrol met heuning-en-lemoensous en botterskorsiekoekies met sous is wenners.

In Engel, moenie in my slaai kom krap nie deel Strauss heerlike slaairesepte soos kweper-en-pastaslaai, beet-en-kerrielensieslaai en hoender-en-koeskoesslaai. Hy vertel ook grappenderwys van sy oefensessies in die plaaslike gim.

In Haai, jy mousse nie vertel hy dat kosmaak vir hom is “soos om ’n brief van jou ma deur die pos te ontvang”. “Die lees van die boodskap tussen die reëls is die bereiding van die gereg. ’n Mens moet met jou hande werk en die kos kan voel en ervaar.” Mens kan sy liefde vir soetigheid ervaar in sy musiekengel-koekstruif, engelroomys met maraschino-kersies en sago-meringuepoeding met vyekonfyt.

In Padkos, onthoukos sê hy reguit dat “wanneer dit by padkos kom, is die remme los”. Hy roep glashelder herinneringe op van desjare se piekniek hou by sementtafeltjies onder ’n groot boom langs die grootpad. Sy padkosresepte sluit in jaffles met maalvleis, Ouma Le Roux se vetkoek en oondgebakte frikkadelle.

In Klein engele kom kleinkoekies aan die beurt. Strauss onthou hoe sy ma gesorg het dat haar kinders elk hulle eie koekieblik propvol verskillende soorte koekies gekry het om koshuis toe te neem om die hongerpyne in die week mee te stil. Hy deel van sy gunstelingkoekies se resepte in hierdie hoofstuk. Laat jou kombuis binnekort ruik na dadel-en-vyeballetjies, engelefudge en grondboontjiebotterkoekies.

In Maar jy lyk soos ’n tert, Engel dink hy aan hoe ’n tert jou “in ’n feestelike stemming plaas en jou wil laat kuier om ’n kombuistafel”. Sy uithaler uie-en-tamatie-onderstebotert, rooibostee-melktert en appeltert sal die teetafels behoorlik laat kreun.

In O, koek! Jy is ’n engel bring Strauss hulde aan die groot koek. “Bring die seremonie van die groot koek terug, sê ek. Nooi vriende oor. Haal uit die porseleinteestel met sy fyn koekbordjies, die antieke opdienbord, die blinkgepoetste koekspaan, die koekvurkies en die teelepels.” Sy smullekker koeke sal maak dat jy sommer dadelik begin bak en uitnodigings stuur vir ’n bederftee saam met dierbares. Sy prentjiemooi granaatkoek, Sinkhuis-sjokoladekoek en sjokoladevrugtekoek vat … wel, die koek.

In Skud jou partytjievere reg onthou hy die garagepaarties van weleer en die heerlike afwagting om dalk met jou oogappel te kon vasdans voordat die aand om was. Hy deel die resepte van sy gunsteling- nostalgiese eetgoed wat jou ook met heimwee ver sal laat terugdink. Sy botterskorsie-en-spektertjies, biltong-en-bloukaasquiche en taai hoendervlerkies beloof om jou smaakknoppies te laat tintel.

Strauss se “feestelike kos-memoir” met “plat-op-die-aarde bestanddele” verdien applous. Dit help die ywerige kok om ’n “verskeidenheid watertandetes blitsvinnig op te tower. Nét om die engele in jou koskas te laat sing”.

Ek is baie bly oor my kopie van Willie Strauss se Daar is ’n engel in my koskas. Ek het reeds die heerlike wortelkoek op bl. 164 gebak en het baie komplimente daarvoor gekry. Vanaand probeer ek die frikkadelpastei op bl. 54, en te oordeel aan die foto gaan ek behoorlik kan spog daarmee. Frank Ellis se volkleurkosfoto’s komplementeer Strauss se resepte op ’n manier wat jou skaamteloos verlei om ’n resep uit te toets. Die skaal gaan aanstons kreun!

Gaan lees gerus hier meer oor Willie Strauss, die veelsydige kunstenaar, koskenner en geliefde televisiepersoonlikheid. Jy kan Daar is ’n Engel in my koskas ook aanlyn bestel en jou verlustig aan verskeie ander produkte wat Strauss verkoop vanuit sy Sinkhuis op Cullinan.

Daar is ‘n engel in my koskas is by toonaangewende handelaars beskikbaar.
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R325-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.