Konsert om Wollies se kosnood te verlig

Die Wollies-diereskuiling in Pretoria-Noord is desperaat vir kosskenkings. (Foto: Facebook)

Monte de Dios, die pragvenue in Pretoria, en ʼn rits bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars het hande gevat om ʼn konsert ten bate van die Wollies-diereskuiling in Pretoria-Noord op die planke te bring.

Konsertgangers kan uitsien na groot name op die Monte de Dios Dome-verhoog, onder andere  Juanita du Plessis en haar kinders, Franja en Ruan Josh, Demi Lee Moore en Kurt Darren.

Om toegang tot die konsert te verkry, moet konsertgangers per persoon ʼn sak honde- of katkos groter van 10 kg of meer saambring. Die konsert self is egter gratis en die kunstenaars tree ook gratis op.

Die inisiatief is deur Leon Pheiffer, eienaar van Monte de Dios, en die sanger en Jacaranda FM-omroeper Martin Bester van stapel gestuur.

Pheiffer vertel dat hy ʼn geruime tyd al op Facebook gesien het dat Wollies in die knyp is met geld en kos vir die meer as 1 000 weggooidiere wat by hulle skuiling gehuisves word.

Daarom wou hulle ingryp deur ʼn konsert te reël waar konsertgangers met honde- of katkos “betaal”. “Ons het blitsvinnig die konsert aanmekaar gesit. Die kunstenaars het almal een na die ander ingestem om gratis op te tree,” sê Pheiffer.

Een van Wollies se Facebook-pleidooie om kos. (Foto: Facebook)

Kaartjies kan teen R0 op Tixsa aangekoop word aangesien slegs 500 mense toegang tot die konsert het weens Covid-19-regulasies.

“Ons mikpunt is om 500 sakke kos in te samel, maar ons hoop vir meer,” sê hy.

Kaartjies is beskikbaar by Tixsa. Kontantdonasies kan ook gemaak word wanneer ʼn kaartjie aangekoop word.

Die konsert vind op Saterdag 1 Mei van 10:00 tot 16:00 by die Monte de Dios Dome in Pretoria plaas. Nadia Vorster, Kalinka Kilian, Ampie, Kirsten Richard, Pierre Nel, Abel Knobel, CH2, CheraLee, Rayne en Jemma Catherine sal ook optree.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.