Land aan die gons oor skattige koor

Laerskool De Hoop se juniorkoor. (Foto: skermgreep)

’n Video van die Laerskool De Hoop in Somerset-Wes se skattige laerskoolkoor het Suid-Afrikaners aan die giggel gesit met ’n tong-in-die-kies-liedjie oor Eskom.

Kwakend het die kinders op die wysie van die bekende liedjie, “Die padda wou gaan opsit”, oor beurtkragstruikelblokke gesing.

Die video het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei, met byna 13 000 mense wat dit gedeel het, meer as 4 000 mense wat daarvan gehou het en byna 900 mense wat daarop kommentaar gelewer het.

Hoewel die Laerskool De Hoop musiek in die kollig plaas, het dit tog die dirigent, Liesel Ferreira, aangenaam verras om te sien hoe Suid-Afrikaners op die liedjie reageer.

Ferreira rig die junior en senior kore by die skool af, en is al sedert 2000 deel van die skool se personeelkorps.

Daar is nege musiekonderwysers by die skool wat toegewyd en deurlopend ’n liefde vir musiek by die kinders kweek.

“Die mikpunt van die musiekdepartement is om kinders se lewe met musiek te verryk en mense se harte aan te raak.

“Dis baie gewild in die skool om deel van die koor te wees, ons het selfs krieket- en rugbyspelers in die koor,” het Ferreira aan Maroela Media vertel.

Sy vertel skertsend dat sy ’n streng koorjuffrou is, aangesien sy sowat 120 kinders in die junior koor en 100 kinders in die senior koor afrig. Daar word nie net op musiek gefokus nie, maar ook op dissipline.

Daar is 1 200 kinders in die skool, en die skoolhoof, Wynand Cillié, het Ferreira al daarop gewys dat sowat ’n kwart van die skool se leerders in die koor is.

Cillié is ook baie trots op die skool se sterk musiekgees en die twee kore se prestasies.

Die twee kore het al menige kompetisie gewen en pryse losgeslaan, hoewel dit nie die fokus van die musiekdepartement is nie.

“Ons benadering is ingestel op opvoeding. Die kriteria vir kinders om in die koor geplaas te word, is bloot net dat hulle noot moet kan hou en oefeninge moet bywoon.”

“Ons wil vir soveel moontlik kinders die geleentheid gee om deel van die koor te wees.”

Ferreira het in die 1990’s die sêrgroep van Harmonie Vrouekoshuis by die Stellenbosch Universiteit afgerig. Dit is juis in dié tydperk dat die idee opgeduik het om ’n nuwe weergawe van die bekende, “Die padda wou gaan opsit”, te skryf en op te voer.

Roche Victor, een van die sêrgroeplede, het die liedjie verwerk om sodoende ’n Pink Panther-tema by die liedjie te voeg. Dit het natuurlik die grondslag gelê vir verdere verwerkinge wat in Ferreira se pad sou volg.

In 2015 het Ferreira besluit om die spot met Eskom te dryf, en so het dié weergawe van die bekende volksliedjie ontstaan. Die woorde van die liedjie is aangepas en Zandra den Hartog het dit vir ’n laerskoolkoor verwerk.

Met dié dat beurtkrag vanjaar weer Suid-Afrikaners in die gesig kom staar het, is die liedjie afgestof en het sedertdien vir reusevermaak gesorg.

“Die kore sing ernstige liedjies, maar ons hou daarvan om mense te laat lag met só ’n grapperige liedjie.”

Kyk na ’n video van Laerskool De Hoop se junior koor se weergawe van “Die padda wou gaan opsit” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.