Luister: Arno Carstens sing vir geliefdes buite SA

Arno Carstens. (Foto: Joe Dreyer)

Arno Carstens, voorsanger van die Springbok Nude Girls en ook solokunstenaar, se jongste enkelsnit, “Hoe gaan dit”, is pas bekendgestel. Die snit is deel van Arno se langverwagte kortalbum Sewe sakke hoop, ʼn versameling van vyf liedjies, wat in Mei uitgereik word.

Dit is die eerste nuwe Afrikaanse musiek uit Arno se pen sedert sy album Die Aandblom 13 in 2016 verskyn het.

Dié bekroonde sanger en liedjieskrywer vertel in Maroela Media se ateljee dat “Hoe gaan dit” in die emosies en leemtes delf wat ʼn mens ervaar wanneer vriende en familie emigreer. In hierdie lied lewer Arno ook kommentaar op die werklike invloed wat afstand oor vastelande op vriendskappe het.

“Ek het altyd by twee vriende in Johannesburg gekuier wanneer ek van die Kaap af hierheen gekom het. Hulle het intussen oorsee getrek en nou dat hulle nie meer hier is nie, ervaar ek ʼn mate van verlies en leegheid.

“Ek dink ʼn klomp mense in Suid-Afrika behoort hiermee te kan vereenselwig. Baie ouers het kinders wat oorsee bly, en dan is daar mense soos ek wie se vriende en geliefdes geëmigreer het.”

Hoewel die liedjie, waarvoor daar ook ʼn musiekvideo uitgereik is, diep emosies wek, is dit ʼn lighartige snit. “Dit is ʼn soort lighartige brief wat jy aan ʼn vriend stuur, maar daar word op ʼn seker manier hartstogtelike gevoelens hierin verwoord.”

Op die vraag of Arno dit self sal oorweeg om Suid-Afrika te verlaat, sê hy dat dit nie iets is wat hy sommer weer sal doen nie.

“Ek het al vir ʼn paar jaar oorsee gebly, maar dit het ongelooflik vervelig geraak. As jy iets daar anderkant ervaar, wil jy dit tog met iemand deel. Ek het altyd iemand in Suid-Afrika gebel en toe net besef dit is my huis.

“Wat ek die meeste van Suid-Afrika gemis het, was die fauna en flora, en familie en vriende. Dit is die goed wat jy mis: die horison, sonsondergange en jou mense.”

Arno is al meer as drie dekades in die musiekbedryf. Hy het oor die jare plaaslik en internasionaal groot sukses bereik en word as een van die voorste kunstenaars op die Suid-Afrikaanse musiektoneel beskou.

Arno Carstens kuier by Maroela Media.

Die Aandblom 13 was ʼn eerbetoning aan sy grootwordjare. Die musiek in hierdie album is ʼn tentoonstelling van Arno se besonderse vermoë om verhale van liefde, ontwaking en verandering in betekenisvolle liedjies te omskep.

In sy musiek is hy ewe tuis in Engels en Afrikaans. Dit is wel vir hom belangrik om onderskeid te tref.

“Die musiek verskil nie regtig nie, maar dit is anders om in Engels te skryf. Die musiek is melodies en die woorde kom maklik. Om in Afrikaans te skep, is effens moeiliker. Dit is ʼn beskrywende taal, en jy kan emosies en stories verwoord wat ʼn mens werklik voel.”

“Hoe gaan dit” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.