Luister: Biggy vertel van lewe voor dáái liedjie

Biggy (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Adrian Entwistle (23), oftewel Biggy, het byna oornag een van Suid-Afrika se bekendste sangers en kletsrymers geword met sy gewilde treffer “Dames”. Die refrein “Dames, sê my wat jou naam is, my naam is Adrianus” is tans die lirieke wat soos ʼn wafferse oorwurm in almal se koppe draai en maak ook sy verskyning in talle meme’s en video’s op sosiale media.

Tog sou die 15-jarige Biggy nooit kon raai dat sy lewe só vinnig sou verander nie, hoewel hy nou alles het waaroor hy destyds net gedroom het.

“Ek het in gr. 7 ʼn gedig geskryf vir skool en toe wil niemand glo dat ek die gedig self geskryf het nie, maar ek hét! Toe ek almal se reaksie op my gedig sien, het iets vir my begin sê dat ek ʼn talent het vir skryf,” vertel hy aan Maroela Media.

Biggy het tussen Despatch en Port Elizabeth grootgeword en het van vroeg af al geweet dat hy ʼn kletsrymer wou word.

“Ek het by my ouma op ʼn plaas naby Despatch gebly tot ek so ses jaar oud was, en toe het ek by my ouers gaan woon daarna. Ons het nie DStv gehad nie en ek het nie van dieselfde musiek as my ouers gehou nie. Maar toe ek eendag by ʼn vriend gaan kuier het en ons MTV gekyk het, het ek besef dit is wat ek wil doen.

“Ons het na mense soos Biggie Smalls, Eminem en 2Pac geluister. Maar dis veral mense soos Die Antwoord en Jack Parow wat groot rolmodelle vir my was om in Afrikaans te kletsrymek het al hul eerste CD’s gehad. Ek het net na hulle geluister en gedink ‘sjoe, ek like dit, hierdie is my vibe’,” sê hy.

‘n Skermskoot uit “Dames”, die nuwe kletsrymer Biggy se eerste enkelsnit.

Biggy was pas op hoërskool toe hy vir die eerste keer ʼn liedjie opgeneem het. Hy en ʼn vriend het dit in die vriend se ouers se slaapkamer opgeneem omdat hulle rekenaar en mikrofoon daar was. Hulle het die liedjie oral opgelaai, maar dit het nie veel aftrek gekry nie, omdat niemand geweet het wie hy is nie.

Maar vanjaar het alles vir Biggy verander toe sy eerste enkelsnit “Dames” soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het en bo-aan al die musieklyste, insluitend Maroela Media se Afrikaanse Top-20, gaan lê het. Dié liedjie is tans bo-aan Apple Music SA se top-5-lys en die musiekvideo vir “Dames” het ook reeds meer as 2 miljoen trefslae op YouTube gelok.

Hoewel baie mense onder die indruk is dat Biggy se naam van die Amerikaanse kletsrym-legende Biggie Smalls af kom, sê hy dit is nie die geval nie.

“ʼn Vriendin het vir my die naam gegee toe ek nog op skool was. Ek probeer altyd terugdink, maar ek kan nou nog nie onthou hoekom sy my Biggy genoem het nie. Maar van toe af het al my vriende ook die naam begin gebruik en dit het net gebly,” sê hy.

Biggy se treffer “Dames” het Afrikaanse musiekliefhebbers gaande. (Foto: Facebook via @BiggyMusiek)

Biggy vertel dat hy ná matriek ʼn hele paar betrekkings gehad het, voordat hy bekend geword het. Hy het ʼn ruk lank vir ʼn maatskappy gewerk wat geboue se dakke opsit, hy was ʼn kassier by ʼn gimnasium én hy het programmering begin bemeester.

“Ek het nie ʼn oomblik gehou van die ander werke nie, behalwe die programmering. Ek het gedink dit is waarheen my pad gaan, tot ek een dag op ʼn 12 uur lange skof ‘Dames’ geskryf het – tóé het my lewe verander.”

Biggy sê sy roem was onbepland en dat hy nie verwag het dat “Dames” so goed gaan doen nie.

“Almal vra vir my: ‘Hoekom sit hierdie liedjie so in my kop vas?’ En dit is net omdat dit flow met die beat. Daai ‘Dames, sê my wat jou naam is’-deel is maklik en mense hoef nie te dink om dit te onthou nie,” sê hy.

Biggy sê meeste van sy liedjies gaan oor dinge wat met hom gebeur het of wat hy ervaar het. “ʼn Kwaai beat, catchy tune en ʼn goeie storielyn waarmee mense hulleself kan vereenselwig, dís wat ʼn goeie liedjie maak.”

Biggy skryf nie net popmusiek nie, maar ook dieper liedjies en liefdesliedjies. “Ek skryf ook oor wat ek op die hart het. Baie liedjies het ek geskryf in tye toe dinge nie so lekker was nie. Ek skryf net wat ek ken, ek probeer dit real hou,” sê hy.

En is Adrian en Biggy dieselfde mense? “Nee,” sê hy. “Biggy is ʼn persona; dit is wie ek is as ek in die kollig is. As ek nie op die verhoog is nie en ek is nie besig om musiek op te neem nie, is ek stil en nederig, dis maar net hoe ek grootgemaak is. Baie mense dink ek is iets anders as hulle my musiek hoor, omdat ek die Biggy-persona op die verhoog en voor die kameras het, maar ek is eintlik baie stil,” sê hy.

Biggy se treffer “Dames” het Afrikaanse musiekliefhebbers gaande. (Foto: Instagram)

Biggy se dagboek vir optredes is reeds vir die res van die jaar vol bespreek. Mense na wie hy opgekyk het, bel hom nou om saam met hom te sing, maar presies wié dit is wil hy nog nie verklap nie. “Ek het amper begin huil toe hy bel. Ek het altyd die ou se musiek geluister, en nou bel hy my!”

“Mense het op skool geweet ek kletsrym, maar daar was nie regtig iemand wat my gemotiveer het of in my geglo het nie. Niemand het vir my gesê ek het ʼn talent daarvoor nie. Mense op skool het soort van ʼn grap van my gemaak. Op skool sou ek nooit kon dink dat ek dit in die bedryf gaan maak nie; dit was net ʼn droom en nou is dit my lewe,” sê hy.

Biggy is tans besig om aan ʼn vollengte album te werk en het onlangs ʼn tweede enkelsnit, “Good Looking”, uitgereik. Hy onderneem ook om nog meer vermaaklike musiekvideo’s op te neem.

Biggy se musiek is op alle digitale platforms beskikbaar en ook binnekort in musiekwinkels landwyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Helizna ·

Buggy ek is mal oor jou liedjie en hoop alles gaan altyd net beter vir jou gaan.

Elsabé ·

Kyk, ek het groot respek vir jou as jongmens wat eers harde hande arbeid verrig het. Maar ongelukkig moet ek ook sê, dat hierdie liedjie van jou, Dames, die grootste klomp snert onder die son is. Maar, ek is oortuig daarvan dat jy groot sukses in jou sang loopbaan sal behaal, sou jy die regte liedjies kies.

Wilhelm ·

Nie ‘n aanhanger van rap nie, maar “Dames” steek in mens se kop vas! Well done Biggy!!

Susan ·

Smaak verskil…. Different strokes for different folks. As jy nie daarvan hou nie, change die channel. No need om te kritiseer nie . Eish die memsdom is ‘n snaakse spesie

Alida ·

Biggy gaan al die pad bank toe lag. Ek stem saam jou Susan. Smaak verskil. Ek myself hou nie van rap nie maar gun ander waarin hulle ookal goed is.

A ·

En so condition ons mans, seuns, dogters en vrouens deur die media dis aanvaarbaar om objectify te word en niks self respek te he nie.

Mercury ·

Mense wat kritiek lewer besef nie hoe moeilik dit is om musikaal met nuwe idees vorendag te kom nie. En ja, die publiek koop meer poppy/kommersieele musiek en dit maak dit soveel moeiliker vir ernstige musikante om hul loopbaan aan die gang te kry en tog beskaam die kreatiwiteit nie, want niemand het ooit gedink een van die grootste kreatiewe moderne liedjies, Bohemian Rhapsody sal vrrkoop nie.

Biggy fan ·

Hey biggy! Keep up the good work! Ek werk in ‘n sales departement net vol DAMES… en ons praat elke dag oor jou en quote jou elke dag! In fact, vanoggend het ons een kollega koekies werk toe gebring. Sy gaan toe na ons CEO toe en se vir hom “DAMES, SE MY WAT JOU NAAM IS”, toe se die engelsman net “Kenneth”.. Ek love jou vibe!

Carlien ·

Ek is mal oor daai song, luister dit elke dag en sing kliphard saam terwyl ek my heupe skud..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.