Luister: Bok van Blerk – ‘As ek Afrikaans sing, gaan mense my hoor’

Bok van Blerk. (Foto: Francois Olivier)

Op die omslag van Bok van Blerk se splinternuwe album, Hoor ons!, staan die sanger in ʼn suikerrietland met die suikerriet wat tot bo sy kop groei. Omring deur groen, deur groei, deur nuwe lewe.

Omring deur hoop.

“Ek wil ʼn positiewe boodskap daar buite plaas. Ek dink dit is baie belangrik vandag in Suid-Afrika om positief te bly, al is dit hóé moeilik. Dit is belangrik om nie negatief te dink en afbrekende goed daar buite te sit nie, want jy gaan nêrens kom deur negatief te wees nie,” sê Van Blerk in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Hy gesels enkele ure voordat Hoor ons! vanaand by Loftus Park in Pretoria vrygestel word.

Hoor ons! is Van Blerk, wat die Afrikaanse musiekbedryf in 2006 laat regop sit het met sy debuutalbum De La Rey, se sewende album. Sedertdien is hy een van die bekendste name op Afrikaanse musiekverhoë.

Van Blerk sê sy jongste album het deurgaans ʼn boodskap van hoop en nuwe lewe. Een van die liedjies op die album, “Was”, vertel die roerende boodskap van ʼn man wie se huis heeltemal in ʼn brand verwoes word en hoe hy ondanks die verwoesting nuwe hoop vind.

Van Blerk vertel die musiekvideo vir “Was” is geskiet by ʼn huis in Johannesburg wat net twee weke vantevore afgebrand het. “Die huis brand af, so dit is al jou herinneringe wat daarmee saam afbrand. Ons het ou beeldmateriaal wat my ma nog op ou film vasgelê het toe ons grootgeword het, ook in die musiekvideo gebruik. En soos ek deur die huis stap, en die foto’s optel, gaan jy terug na hierdie herinneringe van hoe jy grootgeword het. So, dit is eintlik baie kosbare materiaal wat ons gebruik het,” sê hy.

Bok van Blerk. (Foto: Francois Olivier)

“Aan die einde van die musiekvideo tel ek ʼn baksteen op uit die puin van die huis. En ek gaan na die volgende plek toe en tree ʼn nuwe huis af, en dan sit ek daardie baksteen van die ou huis as die hoeksteen van die nuwe huis neer. Metafories het dit vir my net soveel betekenis.”

Hy sê dié liedjie “Was” se boodskap sal vir elke mens iets anders beteken, maar dit is ʼn boodskap wat by enigiemand sal aanklank vind. “Ek dink mens kan dit so deurtrek na die alledaagse lewe van Suid-Afrikaners en Afrikaners tans. Ek dink nie jy moet jou vasstaar teen die verlies wanneer jy iets verloor nie. Dit is dalk die begin van iets nuuts, iets groters. Die begin van nuwe lewe.”

Van Blerk het self nie geweet hoe groot dié boodskap na die voorgrond sou tree toe hy daardie dag die musiekvideo gaan skiet het nie. “Dit het eintlik so half toevallig gebeur, maar ek glo nie eintlik in toeval nie,” sê hy met ʼn glimlag.

“Die huis waar ons die video geskiet het, is langs ʼn gholflandgoed. My laaste projek wat ek 14 jaar gelede as konstruksiebestuurder gedoen het voor ek begin sing het, was op daardie landgoed. Toe vat dit my so onverwags volsirkel terug na daar waar dit begin het.

“Ek het ʼn steen gevat en na die landgoed gestap, presies na die bouterrein waar ek die heel laaste keer ʼn konstruksiebestuurder was, en daardie steen neergesit daar waar ek my laaste bouprojek gedoen het. Volsirkel.”

Van Blerk sê toe hy met sy sangloopbaan begin het, wou hy van dag een af ʼn positiewe boodskap met sy musiek oordra. “My bedoeling was altyd nog om net trots te wees op wie en wat ek is,” sê hy. Daarom het hy ook besluit om die titel van die nuwe album Hoor ons! te maak.

Bok van Blerk. (Foto: Francois Olivier)

“Mens sien baie in die media hoe word Afrikaans aangeval en jy word half gesnoer. En die liedjie ‘Hoor ons’, wat ook op die album is, sê as ons aanhou praat en aanhou sing en die taal op ons hart en op ons bors dra, sal dit nooit vergaan nie. So hoor ons. As ek sing in Afrikaans, gaan mense my hoor. Hulle gaan my nie kan snoer nie. En dít is waaroor dit vir my gaan.”

Van Blerk verklap daar is ʼn jaar lank aan Hoor ons! gewerk en met baie idees en konsepte vir die album gespeel. “Ek dink ná ses albums raak jou idees partykeer bietjie op en dan moet jy nuwe inspirasie kry. Maar ek dink die feit dat ek nou see toe getrek het, het dinge vir my bietjie verander en weer nuwe inspirasie gegee,” sê hy.

En dié nuwe inspirasie het handig te pas gekom toe dit kom by ʼn unieke idee vir die albumvrystelling.

Bok van Blerk. (Foto: Francois Olivier)

Vanaand word Hoor ons! by Loftus Park in Pretoria bekendgestel waar Van Blerk van die nuwe liedjies op die album sal sing. “Dit is behoorlik ʼn vrystellingspartytjie. Ons idee was om ʼn gratis partytjie te hou vir die mense daar buite en hulle sal van die eerstes wees om die nuwe liedjies te hoor. Die tafels is gedek, die stoele is uitgepak, daar is ʼn groot skerm opgerig. Dit gaan baie gesellig en net lekker wees.”

Die musiekvideo vir “Was” sal môreoggend op Die Groot Ontbyt (DStv-kanaal 144) bekendgestel word.

Aanhangers kan vanaf môre Hoor ons! in alle vooraanstaande musiekwinkels kry en die album sal na verwagting middel September op digitale platforms beskikbaar gestel word.

Luister die podsending boaan die artikel vir die volledige onderhoud met Van Blerk.

Die Hoor ons!-albumvrystelling vind vanaand om 19:00 by Loftus Park (langs die Loftus Versfeld-stadion) plaas. Die geleentheid is gratis, maar kaartjies moet vooraf bespreek word deur “Bok” na 47887 te SMS. Standaardtariewe geld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.