Luister: Debuutalbum ‘onverdiende guns’ vir ‘Die Kaplyn’ se Ilán

Ilán van Staden reik eersdaags sy debuutalbum uit. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

As iemand twee jaar gelede vir Ilán van Staden sou sê dat hy teen die einde van 2023 twee musiekspele en ʼn debuutalbum agter sy naam gaan hê, sou dié 27-jarige sanger dit nimmer as te nooit geglo het nie.

Vandag is dit egter presies waar Ilán se lewe en loopbaan is, en sy dankbaarheidsbeker loop omtrent oor.

“Hierdie album is vir my ʼn monument van jare, ek praat van ʼn dekade, se bloed, sweet, trane, hoop, drome, teleurstelling en goeie goed. Daar is liedjies op hierdie album wat ek al vier jaar gelede geskryf het, wat nou eers die lig sien en dit moes so wees,” het Ilán in Maroela Media se ateljee oor sy debuutalbum, My mense, vertel.

Hy beskou dié album as ʼn getuienis van sy lewe, en die mense wat deel daarvan vorm.

“Hierdie album is stukke van my, my geskiedenis, drome en kosbare mense wat inspraak het in my lewe.”

Die eerste enkelsnit van uit My mense, “SMK (Sondagmiddagknippie)”, is vroeër vandeesmaand uitgereik. Die meesterbrein agter dié liedjie was Inhoudhuismusiek, die platemaatskappy waarmee Ilán ʼn kontrak het, se Johan Vorster.

Ilán het byna onmiddellik aanklank by die idee van die liedjie gevind, aangesien dit hom herinner het aan ʼn tydperk in sy lewe waar hy bedags skool gehou het, en oor naweke en in die aande as musikant opgetree het. In daardie tyd was daardie Sondagmiddagrustigheid van onskatbare waarde vir Ilán.

Ilán van Staden in “Die Kaplyn” (Foto: Jannes Erasmus/Facebook)

Sy lewe het ʼn onverwagse draai in die teaterwêreld gemaak toe hy in 2022 in Die Gelofte en vroeër vanjaar in Die Kaplyn gespeel het. Ilán bieg dat hy aanvanklik maar bra onbekwaam op die verhoog gevoel het, maar dat rustigheid en gemak later deurslaggewend in sy toneelspel geword het.

Dié rustigheid was in die rou eerlikheid van teater opgesluit, en sy vertroue dat die regte boodskap aan die regte mense oorgedra sou word, het met elke vertoning versterk.

Teen die einde van Die Kaplyn se speelvlak, het Ilán mense laat skrik toe hy tydens ʼn pouse inmekaar gesak het.

“Ek sou nie sê dat ek oorwerk was nie, maar ek was beslis in ʼn ritme van eet, slaap, teater. Dit is ʼn wonderlike ritme om in te wees, maar daardie gegewe dag was ek dalk bietjie gedehidreer en oormoeg,” onthou hy.

In die laaste toneel van die tweede bedryf, moes ʼn paar spelers ʼn liedjie sing terwyl hulle erge oefeninge gedoen het. Teen die einde van die toneel het Ilán besef dat iets drasties fout is. Hy het die verhoogbestuurder gevra of hy ʼn bietjie buite kan gaan staan tydens die pouse, maar het inmekaar gesak voordat hy behoorlik kon asem skep. Sy hart het 226 slae per minuut geklop.

Alhoewel ʼn vasberade Ilán met alle mag en krag terug op die verhoog wou klim vir die tweede bedryf, het Jannes Erasmus, skrywer en regisseur van die verhoogproduksie, geweier en ʼn ambulans ontbied.

Ilán van Staden in “Die Gelofte”. (Foto: verskaf)

Ilán raak vandag steeds bewoë wanneer hy dink aan die gehoor daardie dag. Nadat hulle in kennis gestel is dat die vertoning weens Ilán se gesondheid uitgestel moes word, het hulle in gebed vir hom getree.

Vandag gaan dit goed met hom, en weens elkeen wat uitgereik het na Ilán met verwysings, kon hy die regte dokters te siene kry.

Sy album is maar net nog ʼn uitvloeisel van sy getuienis, sê hy.

“Hierdie album is vir my die bewys dat wanneer jy jou planne voor die voete van Jesus neersit, doen Hy soveel meer as waarvoor jy ooit kon vra.”

  • Luister boaan na ʼn volledige klankonderhoud met Ilán van Staden.
  • My mense is 29 September op alle digitale platforms beskikbaar.

Luister hier na “SMK (Sondagmiddagknippie)”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.