‘Kaplyn’-vertoning weens noodgeval gekanselleer

Ilán van Staden in “Die Kaplyn” (Foto: Jannes Erasmus/Facebook)

Die tweede helfte van ʼn uitvoering van die musiekblyspel, Die Kaplyn, moes Saterdagaand weens ʼn noodgeval gekanselleer word. Die Kaplyn is ʼn aangrypende verhaal van die gebeure tydens die Grensoorlog in die 1980’s.

Jannes Erasmus wat die regie en teks behartig het, het Sondagoggend aan Maroela Media gesê sy vrou (Bernice West) het hom tydens die pouse in die derde vertoning van die dag gebel. Sy wou weet waar hy is en of hy bewus is wat met Ilán van Staden gebeur het.

Van Staden vertolk die rol van Ben jnr., een van die hoofrolle.

“Ek het na die agterverhoog gehardloop waar Ilán op die betonvloer gelê het. Die hele rolverdeling het rondom hom gestaan, hulle hande op hom gelê en was besig om vir hom te bid.”

Van Staden se hartklop was in daardie stadium ongeveer 200 slae per minuut.

“Hy het gesê dit het al in die verlede met hom gebeur, maar dit gebeur glad nie gereeld nie – gewoonlik een keer elke jaar en ʼn half.”

Erasmus het die dokter ontbied wat Van Staden ondersoek het en bevestig het dat hy beslis nie die aand met die vertoning sal kan voortgaan nie.

Ilán van Staden (Foto: Verskaf deur Ilán van Staden)

“Ilán was baie ywerig en wou met alle mag met die vertoning voortgaan, maar ons het geweet dit is hoegenaamd nie ʼn opsie nie.”

Erasmus het saam met twee van die hoofrolspelers, Johan Vorster en Jacomien de Wet, die slegte nuus met die gehoor gedeel.

“Hulle reaksie was verstommend en ek haal my hoed af vir die menslikheid van die gehoor. Een man het selfs opgestaan en gevra of die gehoor vir Ilán kan bid. Die hele gehoor het saam gebid. Ek het nog nooit só iets in my loopbaan teëgekom nie.”

Teen die tyd dat die ambulans opgedaag het, het dit reeds baie beter met Van Staden gegaan. Hy is op die toneel gestabiliseer en is Sondag reeds weer in die twee vertonings vir die dag om 11:00 en 15:00 te sien.

Erasmus het sy dankbaarheid uitgespreek vir die gehoor se reaksie, veral omdat baie van hulle van só ver gereis het om spesiaal die vertoning te kom sien.

Die troepe in ‘n toneel uit die musiekblyspel “Die Kaplyn”. (Foto verskaf)

AfriForum Teater sal met die betrokke kaartjiehouers kontak maak sodra ʼn vertoning gereël is. Vorster het aan Maroela Media gesê hulle sal hul bes doen om elkeen te akkommodeer wat die volledige vertoning weens die onvoorsiene omstandighede misgeloop het.

Erasmus het in ʼn plasing op sosiale media Saterdagaand gesê daar is baie om voor dankbaar te wees.

“Dankie Here dat Ilán oukei is – we love you brother. Dankie aan elke gehoorlid wat die omstandighede verstaan het en selfs aangebied het om vir hom in te tree. Dankie vir my cast dat julle ʼn laer om hom getrek het en hom in julle gebede toegevou het. Dankie aan suster Vorster [akteur Duandré Vorster se ma] wat onmiddellik hulp verleen het. Hoe sterker die boodskap, hoe sterker is die aanslag. Lord, we will praise You in the storm.

“Mag die Here en sy engele hierdie teater en elke mens wat daar instap beskerm en seën. Alle eer aan U.”

  • Die Kaplyn is nog tot Sondag, 4 Junie by die AfriForum Teater op die planke. Die produksie word met trots aangebied deur AfriForum Teater en Inhoudhuis Musiek, wat ook die skeppers van die gewilde Die Gelofte -musiekblyspel is. Die teks is deur regisseur Jannes Erasmus geskryf, musiek en lirieke is deur Johan Vorster en Jacomien de Wet behartig, terwyl die orkestrasie deur Francois Lessing en musiekregie deur Vorster en Lessing versorg is.
  • Klik hier om kaartjies te bespreek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Delia ·

Verseker moet hy by n kardioloog uitkm, ten minste vir n EKG en n hartsonar. Ongeag of by geimmuniseer is of nie. En het hy flougeval of dalk n konvulsie gekry. Geskiedenis en ooggetuies belangrik.
Ilan laat jou ordentlik ondersoek. AsB

Robert ·

“Mag die Here en sy engele hierdie teater en elke mens wat daar instap beskerm en seën. Alle eer aan U.” Amen daarop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.