Luister: Kaap vanjaar ook in rocker Francois van Coke en vriende se visier

Francois van Coke kuier by Maroela Media. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Zaan Sonnekus, Spoegwolf, Neon Dreams, Elandré, Early B en Loufi is van die kunstenaars wat vanjaar op die Francois van Coke-konserte in Pretoria en Kaapstad te sien sal wees.

Francois, die rocker wat sedert 2018 sy musikant-vriende nooi om saam met hom ʼn massiewe konsert in van die land se grootste arenas te hou, is in September vanjaar ook in Kaapstad te sien.

Hy vertel in Maroela Media se ateljee dat dit die eerste keer in vyf jaar is wat hy en sy groep, Die Gevaar, die konsert in die Kaap saam met groot name soos Tasché, Jack Parow, Van Pletzen, Hunter Kennedy en Die Heuwels Fantasties uitvoer.

“Ek dink ons is dit aan die Kaap verskuldig om vir die eerste keer in vyf jaar daar ook ʼn vertoning te lewer. Ons is self van die Kaap af, so ook die meeste van die kunstenaars wat saam met my optree.

“Nou moet die Kaapse mense ook lekker wees en na die vertoning kom kyk. Die kultuur om na lewendige vertonings te gaan, is nie so groot in die Kaap soos in Pretoria nie, so ek hoop die mense het al gesien hoe groot die vertoning in Gauteng is, en kom ondersteun ons in Kaapstad,” sê Francois.

Gautengers kan uitsien na Spoegwolf en Early B op die verhoog op Vrydag 18 Augustus by die SunBet Arena in Pretoria, terwyl Kapenaars opgewonde kan wees oor Van Pletzen en Elandré se verskyning by die Grand Arena, GrandWest in Kaapstad op Saterdag 16 September.

Francois van Coke. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Dit is die eerste keer dat Zaan Sonnekus, Loufi en Neon Dreams saam met ou hande soos Tasché en Jack Parow die verhoog met Francois gaan deel. Francois se rockgroepe, Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel, gaan ook ʼn draai op die verhoog maak.

Francois en die jong rocker Zaan, wat in 2018 paaie gekruis het, het ook onlangs ʼn nuwe enkelsnit uitgereik, getiteld “Almal baklei”.

“Ek het in die laaste twee jaar baie meer sy naam gehoor en ons het op meer vertonings saam begin speel. Hy is ʼn talentvolle jong man wat goeie liedjies skryf. Toe ek vanjaar se vertoning aanmekaar gesit het, het hy omtrent eerste in my kop opgekom en ek het hom gebel om te vra of hy sal belangstel.”

As jong man het Francois ʼn groot passie vir rugby ontwikkel en vertel dat hy dit sterk as ʼn loopbaankeuse oorweeg het voordat musiek die oorhand gekry het.

“Ek is bly musiek het die oorhand gekry, want ʼn mens kan dit ʼn bietjie langer doen as om rugby te speel,” lag hy.

Hy vertel hy was in 1995 die eerste en laaste keer teenwoordig op ʼn Rugbywêreldbekerwedstryd op Nuweland in die Kaap, en hy vertrek binnekort na Frankryk om die wêreldbeker daar te beleef.

“Ek en my vrou gaan Suid-Afrika teen Ierland kyk saam met ʼn toergroep en ek speel ʼn paar liedjies op die bus.”

Francois is ook ʼn pa van twee jong spruite, Alex (7) en Max (3), en vertel laggend dat hy onlangs ʼn week alleen by die huis saam met dié twee woelwaters deurgebring het toe sy vrou na die buiteland gereis het.

“My vrou sien uiteraard gereeld alleen om na die kinders, want ek toer baie. So dit was ʼn slag my beurt. Om sake te bemoeilik het ons besluit om ʼn week voor haar vertrek ʼn nuwe babahondjie te kry. Dit was eintlik lekker om kosblikke te pak en huiswerk te doen, goed wat ek nooit doen nie.”

“Almal baklei” is beskikbaar op alle groot digitale platforms. Kaartjies na Francois van Coke en Vriende is hier beskikbaar.

Kyk hier hoe Francois met Maroela Media gesels oor pa-goed:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.