Luister: Leah sing oor klein jakkalsies in prettige popsnit

Leah kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Die sangeres en aanbieder Leah het lankal reeds Afrikaanse musiekliefhebbers se harte oorwin met treffers soos “Volmaan”, “Ek noem jou myne” en “Move aan”.

Haar splinternuwe enkelsnit, “Ek like jou”, is ʼn pop-liedjie wat gewaarborg is om woema in enige partytjie te sit en selfs nog meer voete te laat jeuk as haar vorige snitte.

Leah vertel in die Maroela Media-ateljee die lirieke van “Ek like jou” is geïnspireer deur haar man, Hennie.

“Hy maak my baie lag, maar hy maak my ook partykeer mal. Hy los sy vuil klere op die vloer en speel heeltemal te veel gholf. Ten spyte van al die goed waaroor ek sing wat mans doen om ons as vroue te irriteer, like ek my man nog steeds verskriklik baie,” vertel die sangeres laggend oor die tema van die enkelsnit.

“Daar is altyd foute en imperfeksies in ʼn verhouding, daar’s klein jakkalsies wat inkruip, maar partykeer moet jy net ʼn treë terug gee en dit laat vaar. Solank jy bereid is om vir mekaar te baklei en nie met mekaar nie, maar dit is ook makliker gesê as gedaan.”

Die Universal Musiek-skryfspan het saam gewerk aan die konsep van die liedjie, wat geskryf is deur Roux Cloete. Dirk van Niekerk het die liedjie vervaardig.

“Ons het besluit om internasionale pop-klanke te gebruik as inspirasie vir die klank van ‘Ek like jou’. Daar is ook ʼn akkoord in die liedjie wat amper klink soos ‘Don’t stop believing’ van Journey. Toe ek die eerste keer die vermenging van die liedjie hoor was dit beslis iets wat vir my uitgestaan het,” vertel Leah.

Die voormalige Boer soek ʼn vrou-aanbieder en gesig van die mediese leefstylprogram Duidelik Dapper op kykNET, verklap dat sy meestal ballades sou sing as sy kon, maar dat die Afrikaanse mark en feeste waar sy optree nie altyd vir ballades vra nie.

“In intiemer venues en teaters kan jy weer ʼn bietjie terugval op jou ballades en as ek die geleentheid kry om dit te doen, gryp ek dit aan. Ek hou daarvan om my energieke kant op die verhoog uit te leef, maar ek is ook ʼn diep mens. Ek probeer altyd om ʼn balans tussen die twee te vind.

“As alles goed gaan sal my volgende enkelsnit ʼn bietjie meer ernstig wees en ek gaan dalk ʼn risiko of twee neem.”

Die fiksheidsmodel Jaco de Bruyn vertolk die hoofrol in die musiekvideo vir “Ek like jou”. “Hy is so ʼn gawe ou. Hy was nederig en gereed om enigiets te doen in die video. Hy was ʼn bok vir sports – en hy is mooi, ek mag mos nou ʼn mooi man waardeer. Ons kon so bietjie met hom spot en hy het dit gevat. Dit het ʼn baie lekker element tot die video gebring.”

Jaco de Bruyn en Leah op die stel van die musiekvideo vir “Ek like jou”. (Foto: Facebook)

Die video se storie word vertel deur die liedjie se lirieke. Dit is geskiet by Hall of Frame, ʼn venue in Pretoria met hokkies wat uit verskillende temas en dekor bestaan en spesiaal ingerig is vir fotosessies en video-opnames.

“Ek dink dit het dit prettig gemaak. Ons wou graag buite die boks dink en ek dink ons het dit reggekry. Die video beeld my persoonlikheid uit en is bloot sommer net om te geniet en ʼn pret te hê.”

“Ek like jou” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.