Luister: Manie Jackson sluit die jaar af op ʼn hoë noot

Die gewilde sanger Manie Jackson se alomgewildheid vier hoogty en sy loopbaan stoom voortdurend tot nuwe hoogtes voort.

Sy jongste album, Op ʼn hoë noot, doen dié titel gestand en is van omslag tot omslag gevul met eersteklas musikale bederf.

Die album beslaan ʼn keurige versameling van 15 Afrikaanse en Engelse liedjies – van immergroen bekendes tot blinknuwe skeppings, wat enigiets van kontemporêre stukke tot country, goue oues en selfs ʼn paar geestelike items insluit.

“Tydens die beplanningsfase het hulle gesê ek moet ʼn klassieke album doen,” vertel Jackson in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media.

“Ek was onseker of ek dit kan doen, want ek het nog nooit in my lewe ʼn sangles gehad en nie eens in die skoolkoor gesing nie, so dit gaan ʼn bietjie rof wees vir my om so iets aan te pak. Hulle daag my toe uit en sê kom ons kyk hoe ver kom ons.”

Hy het liedjies gekies wat as classics beskou word. “Toe hulle vir my sê “Liefling”, het ek gesê die liedjie is al soveel keer opgeneem en dit is só ʼn groot treffer, hoe doen jy dit? Gelukkig het hulle my kans gegee om betrokke te wees by die produksie. Ek het gaan sit en die liedjie heeltemal verander sodat hy een honderd persent ʼn ballade is. Dit is mos maar ʼn hartseer liedjie oor mense wat baklei en vergifnis.”

Die oorspronklike werke op die album wissel van dieper en meer ontspanne snitte soos “Donker hart”, “Vrou uit ʼn miljoen” en “Goeie genade” tot dansbare liedjies soos “Santa Maria” en “Lief en lewe”, sowel as ʼn country-jodel-liedjie in die vorm van “Onthou se jodel”.

Om die album meer soos sy eie te laat voel, het hy ʼn hele paar persoonlike gunstelinge ook gekies.

“My ma het vanjaar 70 geword en sy is nog altyd ʼn Nana Mouskouri-aanhanger. Ek het grootgeword met daai musiek, so toe besluit ek om vir haar 70ste verjaardag ‘Cuccurucucu Paloma’ op die album in te sluit,” vertel Jackson.

Manie Jackson. (Foto: Facebook)

Manie Jackson. (Foto: Facebook)

Dekweergawes sluit ook uitvoerings van Al Martino se “Blue Spanish eyes en Bobby Vee se “Take good care of my baby” in.

Daar is ook twee geestelike liedjies op die album. “My platebaas het gesê ek moet die ‘Onse Vader’ doen, want dit sal goed inpas, maar ek het gevoel dit is ʼn baie swaar lied wat ʼn mens altyd laat dink aan die orrel,” lag hy.

“Ek het nagte omgesit en gewonder wat ek kan doen met dié liedjie, en toe vat ons die liedjie en ons bou hom op die wysie van ‘Auld Lang Syne’. Hulle was al klaar met die liedjie, toe sê ek nee wag, nou raak dit eers weer vervelig, kom ons bring die ou Onse Vader op die einde terug. So, dit is nogal iets heeltemal anders en ʼn baie groot produksie.”

“Praat ek mense engele tale”, een van sy eie gunstelinge, is ook op die album. “Mense beskou dit altyd as ʼn Christelike liedjie, maar dit handel oor die liefde – die Grootste Liefde van alles.”

“Die Hemel weet”, Manie se duet saam met sy persoonlike held, die toe sewejarige Keagan Rossouw, is ʼn juweel wat hartsnare behoorlik sal roer. Keagan ly aan ʼn seldsame beenmurgsiekte en is ook gehoorgestrem, maar laat geensins toe dat dit ʼn demper plaas op sy merkwaardige sangtalent nie.

Die sanger beplan om binnekort te toer met die nuwe album en skerts dat hy eers die liedjies se woorde moet inoefen. “Ek is al amper 40, so dit raak al hoe moeiliker om die liedjies te leer. Teen die tyd dat ek met die album toer, sal ek hopelik al die woorde uit my kop uit ken. Ek vra altyd met die eerste paar optredes die mense om verskoning – hulle moet my maar vergewe en gelukkig doen hulle dit – dan sit ek die woorde daar êrens neer. Ek het skool redelik goed deurgekom deur op te let in die klas, ek hou nie van leer nie!”

Op ʼn hoë noot is by groot musiekhandelaars en op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Trudie, Maloney vsn Heerden ·

Dit is so mooi dit vat so aan ‘n mens se hart, Dankie Manie,

Moreen Hattingh ·

Dankie Manie dis net jy wat met daardie engel stem so kan sing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.