Luister: Nuweling Ché, Snotkop sing warm somertreffer

Hoewel die jong sangeres Ché ʼn nuwe gesig in die Afrikaanse musiekbedryf is, is sy reeds sedert sesjarige ouderdom gewoond daaraan om haar talente op die verhoog ten toon te stel.

Ché se debuutenkelsnit, “Ek like hoe jy dans”, is pas uitgereik. Snotkop, ongetwyfeld een van die land se grootste kunstenaars, is ook in dié snit te hoor.

Die liedjie is saam met Ernst Kleinhans van Select Musiek geskryf. “Die doel van die liedjie is om mense te motiveer. Jy is anders en jy moenie skaam wees daaroor nie. Die boodskap van die liedjie is om net jouself te wees,” vertel Ché in die Maroela Media-ateljee.

Ché het op agtjarige ouderdom vir die eerste keer in Amerika aan die talentkompetisie ARTS deelgeneem waar sy die liedjie “My Boy Lollipop” uitgevoer en in die modelkategorie deelgeneem het.

Op nege het sy haar eerste album opgeneem en op tien is sy deur Select Musiek gekies om aan te sluit by die groep MuzikKids, wat onder meer by die Krone 5- en Krone 6-vertoning opgetree het.

Ché in ‘Ek like hoe jy dans’.

Ché vertel dit is vir haar ʼn voorreg om ʼn groot naam soos Snotkop aan haar debuutenkelsnit te koppel.

Sy lag wanneer sy vertel haar ma, Chantel, het die meerderheid van Snotkop se kletsrym-gedeelte geskryf. “Ek het nie geweet sy kan rap nie, maar dit is toe nou baie goed.”

Die musiekvideo vir “Ek like hoe jy dans” is in een dag geskiet deur die bekende videograaf Christiaan Wolf.

“Snotkop word in ʼn hologram vertoon. Ons beeld ʼn lekker danspartytjie uit en ek dans saam met ʼn paar dansers. Daar is ook ʼn lekker TikTok-deel in vir die Suid-Afrikaanse TikTokkers om te doen,” verduidelik Ché die konsep van die video.

Snotkop en Ché. (Foto: Christiaan Wolf)

Sy vertel hulle het vroeg die oggend begin skiet en eers baie laat die aand klaargemaak. “Dit was eintlik ʼn rowwe dag, maar ek is verskriklik gelukkig met die eindresultaat.”

Haar kop staan weer Amerika toe, sê sy. “Ek wil Afrikaans saam met my vat. Ek wil graag daar ʼn paar snitte opneem en vrystel. Dit is die plan vir die volgende twee jaar.”

“Ek like hoe jy dans” is op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.