Luister: Rooksein herontdek studentejare, eie klank

Dian Maritz, Megan Tait en Renier van der Westhuizen. (Foto: Rooksein/Instagram)

Al is Rooksein vandag ʼn immergewilde musiekgroep met liedjies wat mense na aan die hart lê, onthou hulle steeds die dae toe hulle as onbekende studentegroep in Potchefstroom se kroeë gespeel het.

Dit was juis tydens hul studentejare wat Dian Maritz, Megan Tait en Renier van der Westhuizen se paaie die eerste keer gekruis het.

Soms is dit vir hulle moeilik om daardie eerste paar jaar saam te onthou, maar wanneer hulle dieper delf in die musiek wat hulle destyds geskryf het, is dit asof hulle weer onbekende studente met ʼn droom is.

Dit is presies wat gebeur het toe hul jongste enkelsnit, “So onskuldig”, weer die lig gesien het, vertel die drietal in Maroela Media se ateljee.

“‘So onskuldig’ kom al jare lank saam met die groep,” sê Renier.

“Ek het amper sewe jaar terug begin werk aan die liedjie, so hy was maar nog altyd daar gewees.

“Ons gesels gereeld oor die verskillende seisoene in ʼn mens se lewe, en hoe jou klank was in daardie tydperke. Dit is lekker om terug te kon gaan na wie ons was as studente. Hierdie was vir ons vreeslik sentimenteel.”

Die musikante erken hulle het die afgelope ruk verskeie uitdagings ervaar, maar hulle is vandag positief oor waarheen hulle en hul musiek op pad is.

Vir ʼn wyle het die groep musiek gemaak wat hulle vermoed het mense wou hoor, en in die proses het hulle bietjie van hul eie klank en styl verloor. Dit is egter iets van die verlede, sê Renier.

“Hierdie jaar is ons fokus daarop om baie liedjies te skryf en baie vertonings te doen,” sê Dian.

“Ek dink die volgende liedjie is nie te ver nie. Ons het vir ʼn rukkie van die pad afgedwaal en liedjies uitgereik wat ons gedink het die mense wou hoor. Mense kan gereed maak vir Rooksein soos wat Rooksein moet wees.”

Wanneer hulle terugdink aan daardie aanvanklike besluit om die groep te stig, is dit vir hulle moeilik om te bepaal wat presies tot hul uiteindelike sukses gelei het.

(Foto: Rooksein/Instagram)

“Op die einde van die dag, kies dit [ʼn loopbaan in musiek] jou. Ek sal sê dat ons al drie hard werk om musiek te skryf en te maak, maar ek dink ook dat ons drie soos ʼn legkaart pas. Ons vul mekaar goed aan.”

“Vandat ons begin het, kon ons die Here se hand daarin sien,” voeg Renier by.

“Dit was nooit iets wat ons self moes druk nie; dit was iets waaraan ons gehoorsaam moes wees.”

Benewens hulle droom om musiek te maak, was dit vir elkeen in die groep belangrik om ook ʼn graad te verwerf.

Uiteindelik het elkeen nie net een nie, maar twee grade verwerf. Hulle het ook voortdurend gespook om aan die uniekheid van hulle klank en musiek te werk, en hulle het ses liedjies self uitgereik voordat hulle ʼn platekontrak geteken het.

“Ons was een van die eerste groepe wat ʼn deurbraak in hierdie digitale era gemaak het. Dit was baie werk.”

ʼn Beker boeretroos lê hul na aan die hart

Renier het in 2022 ʼn koffiewinkel, West Café, saam met sy suster Bernice in die ooste van Pretoria geopen.

“West Café gee my hoendervleis wanneer ek daaraan dink,” vertel Renier.

“Ek het ʼn besonderse liefde vir kosmaak en die kosbedryf. Net so met my sussie, wat ʼn liefde vir koffie en mense het.”

Hy onthou hoe hy begin werk het ná sy studentejare en hoe hy besef het dat dié lewenspad hom nie beskore is nie. Hy het toe al geweet hy wil sy eie ding doen.

“Die droom het daar begin groei. Later het ek gesien ons het ʼn bietjie van ʼn handelsmerk met die musiek begin bou en dat dit iets is wat vir ons ʼn inkomste kan genereer.”

Hy en Dian het onlangs nog ʼn koffiewinkel, Montreal, in Stellenbosch geopen en beoog om eersdaags nog ʼn franchise in Somerset-Wes te open.

“Ek sien uit vir West Café; ons groei stadig maar seker. Dis gek om te dink dat iets waaroor twee kinders, van ʼn dorpie êrens in Noordwes, gedroom het, nou ʼn plek geskep het waar mense so welkom voel.

“Die aand voordat ons oopgemaak het, het ons gebid dat mense welkom sal voel en dat dit sal voel soos ʼn huis weg van die huis af. Tussen al die dinge wat nie perfek is nie, is dit wat West Café geword het.”

  • Luister boaan na ʼn volledige klankonderhoud met Rooksein.

Luister hier na “So onskuldig”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

skurweberg ·

Dis ‘n roeping vir julle. Geen negatiewe boodskap vir die jeug nie. Baie mooi. Dis wat ons wil hoor eerlik en reguit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.