Luister: Steve skryf roerende liedjie vir sy skattige Romy-Lee

Steve Hofmeyr het ‘n liedjie vir sy dogtertjie, Romy-Lee, geskryf. (Foto: Verskaf)

Steve Hofmeyr het nog nooit ʼn geheim daarvan gemaak dat hy absoluut versot is op sy sewejarige krulkopdogtertjie, Romy-Lee, nie.

Die sanger deel gereeld grepe uit die lewe van die skattige grootoog op sosiale media, wat dui op ʼn hegte band tussen pa en dogter, en hy het ook nou ʼn liedjie vir haar geskryf en opgeneem.

Hy sing die liedjie eintlik al ʼn wyle, maar dit is so gewild in sy vertonings dat hy nie anders kon as om dit op te neem en uit te reik as ʼn enkelsnit nie, sê Steve in Maroela Media se ateljee.

Die liedjie heet “Romy” en die Afrikaanse lirieke is geskryf op die maat en melodie van “Cindy”, die bekende liedjie van ouds. Die groep Peter, Sue & Marc het destyds Springbok Radio se treffersparade met die oorspronklike, Engelse weergawe van die liedjie oorheers.

“Ek het daarop gereken dat min jong mense die liedjie sou onthou, maar ek is verbaas hoe baie mense wel die liedjie ken. Ek weet nou hoekom die liedjie destyds nie vir my soveel beteken het nie, want ek was self ʼn kind.

“Die goed wat in daai liedjie geskryf is, kan jy eers verstaan as jy self ʼn ouer word, en hierdie neurose sak oor jou neer en jy kom agter jy is in beheer van hierdie kind se lewe.”

Volgens Steve soek hy en die klavierspeler Rocco de Villiers al jare lank na ʼn projek om saam aan te pak, en kon hy aan niemand beter dink wat die sentimentele klank van die klavier kon vasvang soos Rocco nie.

“Die liedjie het ʼn pragtige wysie waaraan ek glad nie gepeuter het nie. Dit is nie ʼn post-moderne oefening nie: Ek soek daai wysie, ek soek daai sentiment en die pragtige klavier, al wat ek moes doen is om die lirieke in Afrikaans te skryf. Ek het dit nie direk vertaal nie, behalwe vir een strofe.

“Ek het vir Rocco gebel en na die ateljee genooi en gesê doen net dit wat jy altyd doen – en daar doen hy dit perfek. In die musiekvideo speel ek die klavier, maar moenie gefool word nie, dit is Rocco se klavierspel,” lag Steve.

Die musiekvideo sorg vir ʼn paar hartverwarmende en komiese oomblikke, aangesien Romy-Lee haar pa ʼn bietjie touwys maak in die kuns van ballet.

“Dit het ʼn bietjie oortuiging gekos, maar Romy-Lee speel in die video saam met my. Daar is so ʼn bietjie van ʼn katarsis in die video, so as jy gehuil het, kan jy lag ook, want ek slaan my naam met ʼn plank.

“Die kamera is baie lief vir Romy-Lee en daai groot ogies van haar wat so blink. Sy smelt jou. Dan kom Pappa in met denims en ʼn T-hemp, en verrek ʼn paar dyspiere terwyl ek ballet doen,” verklap Steve laggend.

Steve sê hy was verbaas toe hy die liedjie die eerste keer sing tydens ʼn optrede om te sien hoeveel ouers, oumas en oupas die trane weggepink het.

“Ek kan dit aanbeveel om weer ʼn ouer te word om ʼn ouer ouderdom. Oumas en oupas sal vir jou sê hoe lekker dit is, en jy is skielik net in beheer van jou prioriteite en jy kan al jou tyd aan jou kind bestee, soveel soos wat jy wil. Hierdie klein dogtertjie smelt my, en sy draai my om haar pinkie.”

Steve Hofmeyr op die verhoog. (Foto: Verskaf)

Steve is binnekort weer by die Voortrekkermonument in twee massiewe Steve doen Steve-konserte te sien. Steve beplan om van sy grootste treffers te sing, en verklap dat hy onlangs tydens ʼn steekproef gesien het sy treffer, “Pampoen”, bly sy gewildste liedjie by sy aanhangers.

“Ek het 230 liedjies wat ek geskryf het wat opgeneem is, dis 35 albums vol musiek. Ek kan kies en keur wat ek gaan doen en al wat ek nodig het, is dat jy daar buite kom vir die aand. Ons het met die vorige konserte reën gehad, wat nie lekker was nie, maar ons het nou al ʼn jaar gehad om te bid vir ʼn opelugaand.”

Die konserte vind op 27 en 28 April in die Voortrekkermonument se Amfiteater plaas. Kaartjies en inligting is op die webblad, Steve Doen, beskikbaar.

“Romy” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die artikel na die volledige ateljeeonderhoud met Steve Hofmeyr.

Kyk hier na die musiekvideo:

Wen:

Drie gelukkige Maroela Media-lesers staan die kans om elkeen ʼn dubbelkaartjie na die Steve Doen Steve-konsert te wen. Al wat jy moet doen om in aanmerking te kom vir die prys, is om jou besonderhede in die kompetisie onderaan die artikel in te vul.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is Donderdag 29 Februarie om 23:45.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit Donderdag 29 Februarie om 23:45.
  • Wenners sal lukraak gekies word.
  • Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees.
  • Lesers wat in die afgelope drie maande ʼn kompetisie op Maroela Media gewen het, sal nie dadelik weer in aanmerking geneem word om die betrokke kompetisie te wen nie.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media met die wenners in verbinding sal tree.
  • Sodra alle wenners gereageer het, sal hul name op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die pryse kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Wenners is self verantwoordelik vir alle reis- en verblyfkoste.
  • Deelnemers moet in Suid-Afrika woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Welgedaan Steve. Pragtige ou melodie in ‘n splinternuwe vars vorm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.