Luister: Treffermaker Juan Boucher gesels oor musiek, nuwe lewe in die Kaap

Juan Boucher. (Foto: Verskaf)

Die sanger en liedjieskrywer Juan Boucher toer nog volstoom die land plat met sy gewilde Afrikaanse treffers, maar dit is in die hartjie van die Paarl in die Wes-Kaap waar sy jong gesin telkens vir hom wag om huis toe te kom.

Juan en sy vrou, Shamodene, en hulle tweejarige dogtertjie, Novah, het onlangs Pretoria verruil vir dié prentjiemooi Kaapse dorp. ʼn Babaseuntjie, wie se naam nog nie bekend is nie, maak ook eersdaags sy opwagting.

“Pretoria sal altyd in my hart bly, maar ek het Paarl toe geskuif, naby aan die Taalmonument,” vertel Juan in Maroela Media se ateljee.

“Ek wou graag die gees van die omgewing in my skryfwerk vasvang, en ons wil ook ons kinders daar laat skoolgaan. Die familie word groter, die musiek raak meer en dit is lekker om op hierdie stadium in Suid-Afrika te wees.”

Juan Boucher. (Foto: verskaf)

Juan se jongste enkelsnit, “Suid”, saam met die sangeres Tasché Burger, is tans ʼn stoere gunsteling onder Afrikaanse musiekluisteraars en beklee tans die 13de posisie op die Maroela Media Afrikaanse Top-20.

“Ek en Tasché het die liedjie saam in die Paarl geskryf. Ons het gesukkel om aan ʼn titel te dink, maar ons het geweet ons moet ʼn liedjie wat uit die hart kom, skryf.

“Ons het aan die voet van die Paarlberg gesit met die skuifdeur wat wawyd oop is en die laaste van die herfswind het buite gewaai. Mense vlieg ook graag met hulle duiwe in die Paarl, en ons skryf toe neer: ‘Die blare val, die duiwe vlieg suid’.

“Van daar het ons die liedjie klaar geskryf en opgeneem, en die musiekvideo in Dwarskersbos geskiet.”

Die musiekvideo is reeds meer as ʼn halfmiljoen keer op YouTube gekyk. Die liedjie verskyn in Juan se jongste album, getiteld Die Rower, wat agt snitte bevat.

“Die agt liedjies op Die Rower is ‘n weerspieëling van my siel. Dit is wonderlik dat ek [die musiek] nog so diep binne in my het, dit vloei uit my uit. Dit is hoekom ek dit doen, vir geen ander rede nie. Ek doen dit om met mense te connect. Dankie dat almal saam luister.”

Hy vertel hy het ʼn vakansiehuis op Dwarskersbos en daar is dit tyd om skoene uit te skop.

“Dit is so ʼn lieflike plek, want dit is so Afrikaans soos Pretoria. Om in die Paarl te bly, tussen die berge, is ongelooflik.

“Ons is geseënd om te kan bly waar ons wil, maar die Paarl is een van daai plekke wat ʼn mens moet beleef om dit te waardeer.”

Die Rower en “Suid” is op alle groot digitale platforms beskikbaar. Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Juan Boucher.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Suid”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.