Luister: Vernuwing, vooruitgang vir André Schwartz

André Schwartz. (Foto: Willem Botha)

Om ʼn nuwe liedjie bekend te stel is telkens soos om ʼn skoenlapper in jou hand vas te hou en dan te laat gaan.

Só vertel die sanger en liedjieskrywer André Schwartz in Maroela Media se ateljee oor sy splinternuwe enkelsnit, “Sal jy?”, wat pas die lig gesien het.

“Al het ek die liedjie al sowat twee jaar gelede geskryf, is ek nou eers emosioneel gereed om die liedjie uit te reik,” sê hy.

Die sanger spog met ʼn suksesvolle musiekloopbaan wat oor byna vier dekades strek en sê hy het met “Sal jy?” se klank gevoel dit is tyd vir vernuwing. Hy het internasionale kunstenaars soos Zayn Malik en Pink gebruik as verwysing vir die liedjie, sê hy.

“My laaste album, Die pad, klink beslis nie soos die eerstes nie. Ek is baie gelukkig met die mense wat my ondersteun, hulle stap graag die pad saam met my. Ek gaan nou nie iets radikaal doen nie, dit sal net dom wees en dit sal nie by my pas nie – maar ek was lus vir iets nuut.”

Die musiekvideo vir “Sal jy?” is deur die digitale produksieontwerper Seun geskep en vervaardig.

“Ek is regtig trots op hierdie video. Ek dink nie daar was al so iets gedoen in Afrikaanse musiek nie, want dit is soos ʼn installasie-kunswerk. Elke raam vertel ʼn deel van die storie en dis beeldskoon.”

André is die enigste Suid-Afrikaanse manskunstenaar wat die Andrew Lloyd Webber-stempel van goedkeuring dra vir die naamrol in The Phantom of the Opera in Suid-Afrika.

Sy vertoning Any Dream Will Do – My pad met Webber, word op 3 en 4 Oktober op die Momentum Beleggings Aardklop en op 10 en 13 Oktober op die Toyota US Woordfees in Stellenbosch aangebied.

André Schwartz. (Foto: Willem Botha)

Die musikante Bryan Schimmel en Mauritz Lotz is deel van die produksie.

“ʼn Mens vergeet dat daar soveel meer aan die Webber-liedjies en -lirieke is [as wat ons dink], want ons hoor dit so gereeld. Ons draai die liedjies op die kop. Jy gaan lirieke en wysies vir die eerste keer hoor.

“Ek vertel die storie van hoe Webber nog heeltyd op my lewenspad was; vandat ek as kind vir die eerste keer Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat gesien het en later die rol van Joseph vertolk het. Ek gebruik daardie narratief om die storie van my eie lewe te vertel.”

André, wat reeds in die 1980’s getref het met toevoegings tot die Afrikaanse musiekskatkis soos “Lief vir alles hier” en “Ek wil jou nooit weer sien”, sê hy is ná al die jare as kunstenaar steeds daagliks geïnspireer om nuwe musiek te skep.

“Ek het ʼn klavier, ʼn Petrof Concert Grande, by ʼn dierbare vriend van my geërf. Dis groter as die Steinway Grande. As ek vir ʼn paar dae verby haar stap – klaviere het vir my ʼn vroulike energie – is dit asof sy met leepoë vir my begin kyk. Dan moet ek voor haar gaan sit en ek moet begin speel.

“In daardie opsig is musikante baie gelukkig, want dit is waar baie van ons se genesing lê: in die oomblikke wat deur daai snare gaan.”

“Sal jy?” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met André Schwartz.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Sal jy?”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Natasja ·

Baie goeie artikels hierdie week met lekker verskeidenheid, dankie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.