Luister: Wêreldreisiger, musikant skryf Afrikaanse album op geboorteplaas

Christof Berg kuier by Maroela Media. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Elke keer wanneer sy plaaswerkers saam met hom ʼn musiekvideo maak – en daar was nou al ʼn paar video’s – word die geleentheid gevier met ʼn amptelike vertoning op die plaas waar dit vir die eerste keer saam gekyk word.

Só vertel Christof Berg, die musikant wat onlangs Afrikaanse luisteraars se aandag getrek het met die enkelsnit “Wil jy sien hoe lyk die hemel”, tydens ʼn onlangse besoek aan Maroela Media se ateljee.

Die musiekvideo vir die liedjie, wat al 21 000 keer op YouTube gekyk is, is ook met behulp van sy plaaswerkers gemaak.

“Ons het twee bekwame voormanne wat daagliks die fort hou. Die plaaswerkers raak ook nou gesout met die video’s en is deesdae omtrent soos ʼn filmspan. Hulle het dan ook die reg om die video eerste te sien sodra dit gereed is omdat hulle my daarmee gehelp het.

“Dit is altyd ʼn groot bron van opwinding op die plaas,” sê Christof met ʼn glimlag.

Hy het onlangs teruggekeer na die familieplaas, Witkraal, reg in die middel van Suid-Afrika, waar hy tussen die soutpanne grootgeword het.

Dierevoer, pekanneute en “bietjie beeste en skape” is ook op Witkraal se doenlysie. Christof vertel hy fokus meestal op die skep van sy eerste Afrikaanse album.

As musikant het hy die wêreld vol getoer en in meer as 40 lande opgetree. Hy toer ook steeds deur Suid-Afrika, daarom maak dit sin om Witkraal in die Vrystaat as basis te gebruik.

“Dit is stil daar. Ek kan daar vroeg op staan in die oggend en werk aan my album. Ek het vir my ʼn ateljee daar ingerig en neem dag en nag musiek op.”

Hy erken dit is ʼn groot taak om ʼn vollengte- Afrikaanse album te skryf. “Ek wil ook nie iets uitreik wat net halfpad reg is nie. Elke keer as ek by die huis is, neem ek ernstig die pen op en skryf aan die album.

“Ek wil hê die album moet die gees van my geboorteplaas vasvang.”

‘n Skermgreep uit die musiekvideo vir “Movie”.

Sy jongste uitreiking is getiteld “Movie”. Al het dit ʼn Engelse titel, is dit ʼn Afrikaanse liedjie wat geïnspireer is deur Christof se wêreldreise, wat aanvanklik begin het toe hy as jong pianis op ʼn passasierskip gewerk het.

Die aktrise in die musiekvideo, wat oudergewoonte op die plaas geskiet is, is ʼn Italiaanse vriendin van Christof wat al die pad van Kaapstad gevlieg het om in die video te verskyn.

“Ek het uit noodsaak die liedjie geskryf, want ek moes inderhaas ʼn gaping in ʼn vertoning vul met ʼn oorspronklike snit. Ek het gesit en terugdink aan my reiservaringe en die lekker herinneringe wat daarmee saamgaan.

“Die liedjie het eers verder gedraai as net dit wat luisteraars hoor, want ek moes dele uitsny. Benewens Arabië en Indië het ek met die liedjie se verse in Lisbon, Japan en China gaan draai, maar die liedjie het te lank geraak.”

“Movie” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Christof Berg.

Kyk hier na musiekvideo vir “Movie”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elsje ·

Absoluut PUIK Christof! Dit is altyd lekker om jou liedjies te luister en met my familie te deel. Hou so aan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.