Mathys Roets op herstelpad ná fratsongeluk

Mathys Roets sterk in ‘n hospitaal in Kaapstad aan nadat hy sy regter-femur gebreek het. (Foto: Mathys Roets/Facebook)

Daar is min in die lewe wat Mathys Roets onderkry, en ’n gebreekte regter-femur (bobeen) is nie een van daardie dinge nie.

Maroela Media het by Jané Roets, Mathys se vrou, ingeloer om te hoor hoe dit met die sanger gaan nadat hy Woensdagaand ʼn operasie ondergaan het en tans in ʼn hospitaal in Kaapstad aansterk.

Mathys het glo skeef gesit, sy been het vasgehaak en het gebreek in dié fratsongeluk.

Jané sê egter dat sy been hom minder pla as die feit dat hy ’n paar optredes weens die operasie moes afstel.

“Hy het ’n sterk gees, min kry hom onder. Hy gaan nie dat dié hom terughou nie. Hy is iemand wat grappies maak, sterk staan en aangaan.”

Hoewel Mathys ʼn operasie moes ondergaan, verduidelik Jané dat die herstelproses nie so ingewikkeld vir hom is nie aangesien hy reeds in ’n rolstoel is.

“Hy sal fisioterapie kry, daar sal gekyk word na sy wonde, maar dit gaan nie vir hom so moeilik wees soos wat dit vir iemand sou wees wat nie in ’n rolstoel is nie.”

Sy vertel egter laggend dat hy nie sommer die gras onder sy voete sal laat groei voordat hy na die verhoog toe terugkeer nie.

“Sy volgende optrede is op 24 Julie in die Atterbury Teater [in Pretoria]. Ek glo dat dit sy eerste groot optrede ná die voorval gaan wees.”

Mathys is vroeër vanjaar deur die FAK met ’n prestige-prys vir sy bydrae tot en die bevordering van die Afrikaanse taal vereer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ILSE ·

Baie sterkte. My ma het verlede jaar op 80 haar Femur gebreek. Sy het net omgedraai vanaf die yskas en toe gee haar been onder haar in. Dit was n lang proses van herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.