Mengelmoes liefdesgedigte kry lewe by Aardklop

Anna Davel (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Mixtape van die liefde, ʼn Momentum Beleggings Aardklop-teaterproduksie wat op Antjie Krog se gelyknamige bundel gegrond is, bied poësie op ʼn toeganklike manier vir ʼn wye gehoor aan.

“Ek dink regtig enigiemand wat lief is vir gedigte sal dit geniet om hierdie produksie met woordkuns en musiek te kyk,” sê Anna Davel in ʼn onderhoud met Maroela Media. Davel het die produksie in samewerking met Alexa Strachan geskep.

“Afgesien van die goeie mengelmoes digkuns, is daar ook verskeidenheid in die aanbieding. Dit wissel van ligte tot meer ernstige gedigte, daar is bekende gedigte wat reeds getoonset is en ander verwerkings wat gewilde radiotreffers is.”

Mixtape van die liefde strek oor temas, kultuurgroepe en generasies heen, maar op die ou end word almal ewe hard omgedolwe, platgetrek of opgehef deur die liefde.

Gehore kan uitsien na verwerkings van onder andere NP van Wyk Louw, Koos du Plessis, Boerneef, Joan Hambidge en Jeanne Goosen se poësie wat deur kunstenaars soos Jana Cilliers, Mathys Roets, Anna Davel, Christo Davids, Stephanie Baartman, Laurinda Hofmeyr en Leon Gropp deur voordrag en toonsettings aangebied word.

Die produksie word ook vergesel van ʼn kunsuitstalling onder die kuratorskap van Dineke van der Walt. Kunstenaars wie se kunswerk uitgestal sal word, sluit John Robbertse, Amy Jane van den Bergh, Amé Bell, Jayne Crawshay-Hall, Balekane Legoabe, Neil Badenhorst, Olivia Botha, Kevin Collins, Sanet Visser en Almero Welgemoed, in.

Mixtape van die liefde is op 5 Oktober by die AfriForum Teater in Pretoria en op 6 en 8 Oktober by Laerskool Jan Celliers Kultuursentrum in Johannesburg te sien. Kaartjies is op die AfriForum Teater se webwerf en by Ticketpros beskikbaar.

Maroela Media het vroeër berig dat Momentum Beleggings Aardklop vanjaar in Pretoria, asook in Potchefstroom en Linden, aangebied word. Die fees vind van 30 September tot 2 Oktober in Potchefstroom plaas en van 6 tot 9 Oktober wip die fees se teaterproduksies in Linden op.

Besoek Aardklop se webwerf en hou die fees se sosialemediaplatforms dop vir meer inligting oor die feesprogram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.