Musiekvideo: Dans in die donker met Ruan Josh se ‘Ligte af’

Beurtkrag? Dans dan in die donker, sê Ruan Josh wat met sy jongste enkelsnit, “Ligte af”, Suid-Afrikaners wil oortuig dat beurtkrag nie ʼn stokkie voor hulle partytjie- en braaiplanne hoef te steek nie. Ondanks die nimmereindigende beurtkrag-uitdagings kan jy steeds kies om pret te hê.

“Die liedjie is inderdaad deur die daaglikse frustrasie van ontydige beurtkrag geïnspireer,” vertel Ruan laggend in die Maroela Media-ateljee.

Met “Ligte af” verbreek Ruan sy stilte van die afgelope twee jaar. Dié danssnit met sy Euro-popklank gaan die voete laat jeuk en aanhangers landwyd hul dansskoene opnuut laat blinkvryf.

“Ek sal daarvan hou as mense die persoon naaste aan hulle wil gryp en die heupe bietjie swaai, terwyl daar natuurlik uit volle bors saamgesing word,” sê Ruan oor dié liedjie wat hy saam met sy talentvolle suster, Franja, geskep het.

Die snit gaan oor daardie oomblik wanneer die ligte afgaan … net voor jou gaste opdaag en jy nie weet of die kuier verby is nog voor dit behoorlik kon begin nie.

Dan, sê Ruan, moet jy juis die vuur aansteek en kuier tot die son opkom.

“Ek is maar altyd ʼn ewige optimis en probeer die beste van elke saak maak. Op hierdie manier dryf ons deur musiek die spot met ons frustrasies.”

Ruan het soos menige Suid-Afrikaner al ʼn goeie dosis ongemak weens beurtkrag verduur.

“Ons het in ʼn stadium fase 6- of fase 7-beurtkrag op die plaas gehad. Ek het in die aand ná ʼn konsert by ʼn donker huis ingestap en as ek die volgende oggend vroeg moet opstaan om te begin boer, was die krag weer af.

“Suid-Afrikaners sit almal in dieselfde bootjie en uit ervaring het ek geleer dat mense ontvlugting soek. Ek glo ‘Ligte af’ gaan help om die bitterheid wat mense as gevolg van beurtkrag ervaar, te verdryf.”

ʼn Splinternuwe musiekvideo vir “Ligte af” debuteer ook vandag (Vrydag) op Maroela Media.

“Ek het gedink dit moet sommer net ʼn lekker en eenvoudige musiekvideo wees. Die video vertel ʼn storie waarin elke kyker homself kan inleef en dit beeld die voorreg uit om in hierdie tye wél toegang tot ʼn vorm van kragopwekking te hê.

“Ons het die video by ʼn huis in Garsfontein geskiet, en dit gaan oor ʼn straatbraai wat later ʼn kuier in die huis word,” brei Ruan uit.

Zuider Energy stel in “Ligte af” se musiekvideo sy Tesla Powerwall-battery ten toon. Volgens Ruan kan energie danksy hierdie herlaaibare litium-ioon battery gestoor word en daarom kan die partytjie voortgaan.

Ruan is self aan die stuur van die kreatiewe en uitvoerende aspekte van sy musiekvideo’s. Eric Graham van ETG Creative behartig die verfilming en vervaardiging.

Wysers, ʼn vollengte album waaraan Ruan al vyf jaar lank werk, sien ook binnekort die lig. “Ligte af” is die eerste enkelsnit van die album wat uitgereik word. Hy beplan ook om binnekort saam met Franja die land plat te toer.

“Ligte af” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Ligte af”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.