Musiekvideo: Dis ‘koue pizza’ en dankbaarheid vir Ilán van Staden

Ilán van Staden. (Foto: verskaf)

Met ’n geduldige hart, onwrikbare geloof en ’n onblusbare passie vir musiek het Ilán van Staden deur die jare heen toegewyd aan sy musiekdroom voortgebou. Toe die deure uiteindelik vir hom begin oopgaan, was hy verstom in die wete dat dié droom skielik werklikheid geword het.

Van Staden het onlangs bekendheid verwerf vir sy rol as Christiaan in Jannes Erasmus, Johan Vorster en Jacomien de Wet se musiekblyspel, Die Gelofte, hoewel hy nooit gedink het dat hy in dié hoedanigheid op die planke sal wees nie.

Wanneer hy dink aan die kronkelpad wat hom na De Wet, een van die direkteure van Inhoudshuis Musiek, se huis in Pretoria gelei het, lag hy verstom. Hy het nooit gedink dat sy musiekloopbaan by ’n lukrake ontmoeting met ’n kennis van De Wet in Mosselbaai sou begin nie.

“Dit het gevoel asof die vrou regdeur my kyk. Ek dink nie iemand het al so na my gekyk nie.”

Die kennis wou weet wat Van Staden met sy toekoms beplan, waarop hy natuurlik met sy musiekdrome geantwoord het.

“Sy het eintlik vreemd gereageer. Ek het glad nie verwag dat haar eerste vraag daaroor sou wees of ek al by ’n platemaatskappy ingeteken is nie.”

Hy het egter nie dié gegewe perd in die bek gekyk nie.

Ná die ontmoeting het Van Staden die geleentheid gekry om voorbeelde van sy musiek vir De Wet en Vorster te stuur, ’n senutergende ervaring vir die jong, nederige sanger.

“Ek en my vriend het al die pad huis toe van Mosselbaai af gebid. Dit was vreesaanjaend om ongelisensieerde musiek net so per WhatsApp te stuur.”

Die vrees het egter stelselmatig in opgewondenheid verander. Ná middagete met Vorster en De Wet, het Van Staden nie net ’n kontrak gehad nie, maar ook ’n rol in ’n musiekblyspel.

Hy lag wanneer hy dink aan hoe vinnig sy lewe verander het.

“Ek het nooit gedink dat ek in ’n musiekblyspel sou wees nie.”

Ná meer as 60 uitverkoopte vertonings by die AfriForum Teater in Pretoria, weet Van Staden egter dat hy nog ’n lang pad met musiekteater sal stap.

“Soen my op my mond”, ’n duet vanuit Die Gelofte wat hy saam met Bernice West uitgereik het, het lank op speellyste geboer en is vandag steeds ’n uiters gewilde Afrikaanse liedjie.

(Foto: verskaf)

Gebore en getoë in Krugersdorp het Van Staden van kindsbeen af geweet dat musiek deur sy are pols. Hy het egter steeds by die Noordwes-Universiteit (NWU) aangeklop om ’n graad in die sak te kry.

Hoewel hy alte lekker op die verhoog en agter die mikrofoon baljaar, is Van Staden ook ’n man met respek vir die akademie. Hy het in 2019 sy meestersgraad in omgewingsbestuur by die NWU verwerf.

Van Staden het in dié rigting begin werk, hoewel sy hart nog sterk vir musiek geklop het.

“Ek het eendag besef dat, hoewel dit ’n wonderlike onderneming was waarvoor ek gewerk het, dit nie is waar ek hoort nie.”

Met dié loopbaankrisis het hy by sy ma, wat in daardie stadium ’n onderwyseres by ’n privaat skool was, gaan afpak. Met nog ’n onverwagse draai, het sy ma vir hom vertel dat daar ’n pos vir Geografie-onderwyser by die skool waar sy gewerk het, oopgegaan het.

So het Van Staden in 2018 ’n onderwyser geword en daarmee saam ’n musiekskool op die been gebring.

“Ek het ’n passie vir kinders en dis wonderlik om te weet dat ek ’n aandeel het in die musiekopleiding van jong, talentvolle musikante.”

Met elke verandering wat in sy lewe en loopbaan gebeur het, is daar een ding wat nooit verander het nie – sy geloof.

“Mense en omstandighede verander, maar die Here nie. Hy bly konstant getrou.”

Met sy splinternuwe enkelsnit, “Koue pizza”, hoop Van Staden om mense opnuut te bekoor.

Hy het dié liedjie reeds in 2020 geskryf, maar het gewag vir die regte geleentheid om dit uit te reik.

“Ons was so uitgehonger vir mense, samesyn en geselskap dat ons elke kuier, elke pizza-aand gekoester het. Ek het die idee vir die liedjie gekry die oggend ná so ’n pizza-aand – ’n pizza met koue stukkies avokado, spek en feta het vir my geloer en ek het geweet dat die liedjie oor die pizza moet gaan oor wat oorbly ná ’n aand van samesyn.”

Die musiekvideo is by BakeHouse in Hazelwood, Pretoria, opgeneem en vang jong verliefdheid behoorlik vas.

Kyk die musiekvideo van “Koue pizza” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.