Musiekvideo: Frikkie van Biljon sing oor daardie ware huis

Frikkie van Biljon. (Foto: Anton Ras Photography)

Hoewel hy ’n sakeman is, klop Frikkie van Biljon se hart warm vir musiek, sy familie en om die hartsnare te roer met treffende musiekvideo’s, soos dié van sy jongste enkelsnit, “Huis”.

“Die nuwe liedjie se musiekvideo versinnebeeld die idee dat jou huis nie ’n plek is nie, maar ’n persoon of mense. Die jonggetroudes in die video leer ook daardie les wanneer hulle in hul nuwe huis intrek en dan die realiteite van die lewe in die gesig moet staar,” sê Van Biljon.

Die huis se nommer, 91, is ook ’n herinnering aan die bekende Psalm 91, wat die belangrikheid van ’n vesting beklemtoon.

’n Deel van dié video is by ’n praghuis in die ooste van Pretoria geskiet en die ander deel is by die Atterbury Teater verfilm. Lizelle le Roux, ’n kranige vioolspeler, se talent is ook vir die musiekvideo ingespan.

“Wat dit anders maak is dat kykers ’n stukkie van hulself in die video sal kan vind. Die storielyn is so geskryf dat dit eg voel,” sê hy.

Die paartjie wat in die musiekvideo te sien is, word deur 7de Laan se Rikus Strauss en Blyde Smith gespeel.

Van Biljon, wat aan die stuur van Plectrum, ʼn IT-sakeonderneming, staan, het in Potchefstroom studeer. Dis daar waar hy sy vrou, Corlia, ontmoet het.

Dié egpaar het vier woelwaters en het in 2021 Suid-Afrikaners aan die gons gehad met hul “boerdery in die stad”.

Die Van Biljons het die afgelope paar seisoene omtrent 38 verskillende gewasse, van lemoene, vye, turksvye, suurlemoene, granate tot pers wortels, gewone wortels, rooi rissies, spanspekke en waatlemoene gekweek.

Hoewel dié pa van vier ’n gesinslewe, ’n sakeonderneming en ’n voet in die vermaakbedryf balanseer, behou hy ’n glas-halfvol-lewensuitkyk.

“Ek was nog altyd so besig, dit is hoe mense my ken,” het hy tydens die verfilming van “Huis” se musiekvideo aan Maroela Media vertel.

Kyk hier na Van Biljon se jongste musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.