Musiekvideo: Waldo Greeff, Carma sing duet oor menswees

Carma en Waldo Greeff sing saam op die lied “Skadu’s van grys”. (Foto: Verskaf.)

Die musikant Waldo Greeff en die blondekop sangeres Carma se splinternuwe duet, “Skadu’s van grys”, is pas uitgereik.

Die musiekvideo vir die liedjie is vandag (Vrydag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

Die snit is uit Greeff se eie pen en volgens die musikant handel die liedjie oor die kompleksiteit van menswees.

“Die liedjie is vir my ekstra spesiaal want dit beklemtoon hoe kompleks die mensdom is en dat ʼn mens se persoonlikheid baie grys areas het. Alles is nie altyd net swart of wit nie,” sê Greeff, wat al vir langer as ʼn dekade ʼn bekende liedjieskrywer is in die Afrikaanse musieklandskap.

Hy het voorheen liedjies vir bekendes in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf soos Kurt Darren, Steve Hofmeyr, Andriëtte en die Grammy-bekroonde Soweto Gospel-koor geskryf.

Greeff het ook twee Huisgenoot Tempo-musiektoekennings ingeoes en sy liedjie “Ons huis is hier” is in die FAK Sangbundel opgeneem.

Die tema van “Skadu’s van grys” en die sterk kommersiële pop-aanslag sal van dié snit ʼn treffer onder Afrikaanse musiekliefhebbers maak, sê Greeff. “Ek hoop dat dit mense se hartsnare sal raak.”

Carma, die Potchefstroomse sangeres wat onlangs met die enkelsnit “Oase” gedebuteer het, sê dit was ʼn groot voorreg om saam met ʼn ervare musikant soos Greeff te werk.

“Dit is ʼn ongelooflike mooi liedjie. Toe Waldo my nader om die snit op te neem, het ek nie vir ʼn oomblik gehuiwer om ja te sê nie. Ek glo luisteraars sal daarby kan aanklank vind want dit is ʼn pragtige ballade met ʼn sterk, roerende boodskap.”

Die musiekvideo is by die pragtige De Harte-venue net buite Pretoria geskiet. Yellow Lemon Media het die verfilming en vervaardiging behartig.

“Daar is pragtige tonele van my en Carma by die vleuelklavier asook individuele skote van ons elkeen,” vertel Greeff oor die video.

“Ek het besluit om vir Carma te nader om saam met my ‘Skadu’s van grys’ op te neem nadat ek haar pragtige lied ‘Oase’ gehoor het,” voeg hy by.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.