Nianell skyn eindelik soos sý wil

Nianell (Foto: Verskaf)

Presies 20 jaar nadat Nianell bekendheid verwerf het met haar trefferliedjie “Who Painted the Moon”, het sy haar jongste enkelsnit “Shine” bekendgestel, en sy meen dié twee liedjies verteenwoordig haar lewensreis oor die twee dekades.

Nianell het “Shine” reeds twee jaar gelede geskryf, maar dit eers teruggehou. Sy het die liedjie nou uitgereik omdat dit verteenwoordig hoe sy tans in haar lewe voel.

“Dit het my ʼn paar jaar geneem om myself regtig te aanvaar, vergewe en lief te hê. Maar nou is ek so gemaklik met wie ek is – dit is tyd om te skyn.”

Sy wil met hierdie liedjie mense aanmoedig om hul lig helder te laat skyn en om nie terug te hou nie.

“Nie een ander mens is jy nie, en niemand anders kan jou lig laat skyn nie. Dit was vir my ʼn reis om te kom waar ek nou is, maar ek het net weer besef hoe belangrik dit is dat die buitewêreld nie jou lig moet demp nie. Jy is in beheer van jou eie lewe en lig.”

Nianell sê destyds met “Who Painted the Moon” was sy op ʼn baie donkerder plek in haar lewe as waar sy nou is, daarom verteenwoordig die titels van die liedjies haar gevoel van die oomblik so goed.

“My hart was so seer, ek was baie stukkend en ek was onseker oor wie ek is. Maar nou shine ek my lig helder! Ek word in September vanjaar 50 ek weet presies wie ek is, waarvan ek hou en ek doen waarvan ek hou.”

Nianell saam met haar drieling, Tayden, Kaeley en Jade (Foto: Verskaf)

“Ek het ʼn ongelooflike man in my lewe, my kinders is op hoërskool en dit gaan werklik goed met my.”

Nianell het die afgelope paar jaar minder op musiek en meer op lewensafrigting gefokus. Sy het twee boeke, Knowing Who I Am en Life Simplified, gepubliseer, wat handel oor die tema dat die lewe nie met mense gebeur nie, maar dat jy, saam met God, ʼn medeskepper van jou lewe is. Sy bied ook sessies aan waar sy mense leer om hulself te aanvaar nes hulle is. Sy gebruik musiek om mense te help om met hul gevoelens in aanraking te kom.

Sy sê “Shine” het veral met haar gepraat in die tyd van Covid-19. Sy hoop dat mense daarby kan aanklank vind en dat dit hulle hoop kan gee in ʼn tyd wat nie vir almal maklik is nie.

“Elke keer as ek ‘Shine’ hoor, glimlag ek, dit is vir my so wonderlike liedjie. Dit herinner my aan die diep aanvaarding, vrede en geluk wat ek vir myself het. Ek probeer nie meer die buitewêreld beïndruk nie en ek vind nie geluk buite myself nie. Ek hoop dit kan ander help om ook so te voel.”

Nianell het sowat 30 nuwe liedjies geskryf wat sy oor die volgende paar maande gaan uitbring. “Shine” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.