Nuwe somertreffer, reisplanne vir Irene-Louise

Irene-Louise van Wyk. (Foto: Jorietha Rabie Photography)

Ná die sukses van haar enkelsnit “Tekkies brand”, die onlangse Afrikaans is Groot-konsertreeks en ʼn hele rits treffers uit Irene-Louise van Wyk se kraal, is dit veilig om te sê dat ʼn somerseisoen vir haar musiekloopbaan aangebreek het.

Dié Afrikaanse popster se splinternuwe enkelsnit, “Ek sê so”, is reeds ʼn gewilde treffer op al wat ʼn treffersparade is. kykNET-kykers sou ook die hele Desembervakansie gereeld dié liedjie hoor, aangesien dit die temalied vir dié Afrikaanse DStv-kanaal se somerveldtog is.

Sy is ook binnekort op pad na Australië en Nieu-Seeland, waar sy saam met Jay, Lianie May en Ivan Roux op ʼn paar Afrikaanse musiekfeeste gaan optree.

“Dit is ongelooflik hoe die Here werk,” sê Irene-Louise in ʼn onderhoud met Maroela Media en verduidelik dat “Ek sê so” eintlik per toeval kykNET se aandag getrek het.

Sy verduidelik voorts dit was Marius Opperman, wat onder meer aan die stuur van die kykNET Buite Ekspo is, wat haar as ʼn potensiële kunstenaar vir kykNET se veldtog aanbeveel het nadat sy by een van sy geleenthede opgetree het.

“Alles het ten goede uitgewerk nadat hy my naam genoem het tydens ʼn vergadering met kykNET. Ek het nie geweet kykNET soek iemand nie en dit was uiteindelik iemand se mooi woorde oor my wat vir my die kontrak losgeslaan het,” sê Irene-Louise.

“Ek sê so” het ook pas die Maroela Media Afrikaanse Top-20 betree in die 18de plek. “Mense is mal oor die liedjie, want dit het dieselfde sokkieritme as ‘Tekkies brand’,” bespiegel Irene-Louise.

Die liedjie is geskryf deur Paulo Azevedo, Danny Smoke en Roux Cloete.

Irene-Louise van Wyk. (Foto: Jorietha Rabie Photography)

Die musiekvideo, wat reeds byna 60 000 keer op YouTube gekyk is, is ʼn “baie persoonlike video”. Sumé Baard, dogtertjie van die Getroud met rugby-aktrise Mandi du Plooy-Baard, vertolk die rol van Irene-Louise toe sy klein was.

“Die plakkate teen die muur van ʼn jong Britney Spears en Destiny’s Child beeld die nostalgie van die negentigs – toe ek ʼn klein dogtertjie met groot drome was – uit. Die video beeld uit hoe my drome bewaarheid is.”

Luther van der Watt van Yellow Lemon Media en Irene-Louise het saam aan die konsep vir die video geskaaf. “Ek is mal oor die detail in die video – daar is selfs ʼn foto van my ma wat op die spieël pryk. En klein Sumé het die video gedra. Mense sal haar dalk ook van die Afrikaans is Groot-verhoog onthou.”

Daarom het sy besluit om haar tasse vir ʼn paar weke te pak en in Australië en Nieu-Seeland te gaan optree, al beteken dit sy moet lank weg wees van haar driejarige dogtertjie, Kelsey.

“Ek is mal oor reis en ek kon nie nee sê vir hierdie geleentheid nie. Gelukkig het ek ʼn ongelooflike ondersteuningsnetwerk. Dit gaan só lekker wees om my aanhangers in daardie dele van die wêreld te ontmoet en dit gaan baie beteken vir my loopbaan.”

Sy is so behep met reis dat sy van volgende jaar af haar aanhangers gaan bederf om saam met haar na onder meer Disneyland in Parys, Frankryk, te reis. Dié reise sal in samewerking met Toerbroers plaasvind.

“Ek het reeds ʼn reisplan bymekaargesit. Ek sal later al die besonderhede op sosiale media deel, maar mense wat belangstel, kan solank begin spaar,” sê sy borrelend.

“Ek sê so” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.