Nuwelinge maak golwe op Top-20

Lisie Basson. (Foto: Petal and Leaf Photography/Verskaf)

Lisie Basson, wat as deelnemer aan die Die Kontrak in die vierde plek geëindig het, het onlangs haar debuutenkelsnit, “23”, uitgereik.

Die liedjie is uit die jong musikant se eie pen en sluit vandeesweek by die Maroela Media Afrikaanse Top-20 aan in die 20ste plek.

Die nuweling Wilma van Heerden maak vandeesweek skoonskip op die Top-20 met haar debuutenkelsnit, “SySoen”, wat pas die no. 1-posisie op dié treffersparade ingeneem het.

Die Heuwels Fantasties en Appel se “Nora Vlok” verloor dus vandeesweek die eerste plek, en val drie plekke terug tot in die vierde plek.

Juan Boucher se “Dans met gevaar” vaar ook baie goed en klim hierdie week na die tiende plek. Die musiekvideo vir dié liedjie is reeds meer as 230 000 keer op YouTube gekyk.

In vandeesweek se Top-20 is daar sewe liedjies wat klim, ses wat hulle plekke verloor, ses wat onveranderd bly en een nuwe liedjie wat die week die Top-20 betree.

  1. Wilma van Heerden – “SySoen”
  2. Barto – “Impulsief”
  3. Bernice West – “Lyfie”
  4. Die Heuwels Fantasties saam met Appel – “Nora Vlok”
  5. Barto – “H2Oë”
  6. Brendan Peyper – “Nee of ja”
  7. Eloff – “Swipe regs”
  8. Dodo Nyoka – “Foto’s”
  9. Sakkie saam met Francois van Coke – “Hey jy”
  10. Juan Boucher – “Dans met gevaar”
  11. Droomsindroom – “Hey sonneblom”
  12. Zaan Sonnekus – “Monitor”
  13. Brendan Peyper – “Toer om die vloer”
  14. Barto saam met Marissa – “Ons twee genoeg”
  15. Eloff – “Witblits”
  16. Prop – “Kwaaitjie”
  17. Droomsindroom – “Ek ly aan”
  18. Eloff – “Johnnie Blou”
  19. Nicholis Louw – “Coco Pops en kaas”
  20. Lisie Basson – “23”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music- en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe bekendstellings:

Suid-Afrikaanse mans het almal meestal genetiese groot of mooi bene of kuite en dié vertoon natuurlik baie mooi as hulle ʼn kortbroek dra, maak nie saak watter seisoen nie. Caroline Grace het juis saam met haar span besluit om die bogenoemde onderwerp te gebruik in haar nuutste liedjie, “Kortbroek”.

“Die idee spruit uit ‘n toevallige gesprek oor hoe Suid-Afrikaanse mans uitstaan as gevolg van ’n kortbroek. Dit is die een ding wat almal altyd in Engeland oor kommentaar gelewer het: my man met sy kortbroek in die koudste moontlike weer. Ons het ook lekker gesinspeel op beurtkrag en Charlize Theron se interessante stelling dat net 44 mense Afrikaans praat. Alhoewel dit glad nie geskryf is met my man in gedagte nie, klink dit asof ek direk oor hom sing.”

Die musiekvideo van die liedjie stel ook nie teleur nie. Een van die manne van ʼn bekende klerehandelsmerk is ook, met sy kortbroek, in die video te sien.

Die 19-jarige Tamlyn Wessels was agt maande lank in die hospitaal aan die begin van haar hoërskoolloopbaan. Guillain-Barré-sindroom is by haar gediagnoseer en in die hospitaalsaal, wat vir maande haar tuiste was, het sy haar passie en talent vir liedjieskryf ontdek.

Haar debuutenkelsnit, “Enigste een”, wat handel oor daai eerste liefde: jy is nog nie seker hoe ʼn verhouding werk nie omdat dit bloot jou eerste kys of verhouding is. “As jy in ’n verhouding is, hoop jy altyd dit gaan uitwerk, langtermyn, en ek sing oor my hoop dat die verhouding sal werk,” vertel Tamlyn.

Ander liedjies wat ook uitgereik is, is Yolanda Fouché  se “Wikkel en weeg”, Pietfrik se “Verdwaal”, Dihandri se “Tydloos”, Wynand Strydom se “Terug na jou”, Prop se “Sêra sê ja!”, Jennifer Zamudio se “Kom terug”, Mari Bosman se “Hoogety” en KrisJan se “Vuur”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.