Pierneefteater: ’n Tuiste vir die kunste in die hartjie van die Moot

Jopie Koen (links) saam met Jannie du Toit in 2018. (Foto: Verskaf)

Met sy 150 sitplekke bied die Pierneefteater in die hartjie van die Moot in Pretoria ʼn verhoog vir etlike kunstenaars – kunstenaars wat telkemale terugkeer na die intieme atmosfeer vir musiek-, teater- en kinderteaterproduksies.

Dié teater het ook nog altyd vir minder bekende kunstenaars se amateurproduksies ʼn voet in die deur gebied.

Nou is die toekoms van dié teater egter in die gedrang nadat talle konserte gekanselleer is weens die instelling van die algehele afsonderingstydperk in Suid-Afrika in ʼn poging om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp.

Jopie Koen, eienaar en stigter van die Pierneefteater, het ʼn lang pad deur die Suid-Afrikaanse teaterlandskap gestap voordat sy in Maart 2003 vir die eerste keer dié teater se deure oopgestoot het.

Sy vertel sy het as kind op die plaas Geluk in die Frankfort-distrik grootgeword met ouers wat ʼn liefde vir die kunste by haar gekweek het.

“My ma, Hettie, het ons as kinders aan die slaap gesing voor die klavier en my pa, Gerrit, was baie lief vir lees,” vertel sy.

Ná skool het sy in die staatsdiens begin werk en daar deel geraak van die kunsteklub. Deur dié klub het sy die teaterveterane Petru Wessels en Carel Trichardt ontmoet tydens hulle eerste Kersklanke-konsert op die Universiteit van Pretoria se kampus.

Jopie (heel regs) saam met Amanda Strydom (heel links) en Coenraad Rall (middel). (Foto: Verskaf)

Die teatergogga het gebyt en uiteindelik het Koen uit haar pos in die staatsdiens bedank om, eers as vrywilliger en later voltyds, in Wessels en Trichardt se Teaterhuisie te werk. “Daar is niks wat ek van teater weet wat ek nié by hulle geleer het nie,” vertel Koen.

Toe die Teaterhuisie se deure later sluit, het Koen besluit om haar eie teaterdroom te bewaarheid en só is die Pierneefteater gebore.

Mathys Roets het nog die eerste aandprogram in die Pierneefteater aangebied, onthou sy. Daarom tree hy ook sedertdien elke jaar in Maart tydens die teater se verjaardagkonsert op.

Koen het deur die jare ook talle ander hegte vriendskappe met ander mense in die bedryf gesluit en een van dié vriendskappe is met sanger en liedjieskrywer Jannie du Toit. Koen en Du Toit se paaie het gekruis toe Du Toit en die ontslape musikant Christa Steyn gereeld in die Pierneefteater opgetree het.

ʼn Ondersteuningsfonds wat gestig is om die deure van dié teater oop te hou, is juis Du Toit se inisiatief, en is aanvanklik sonder Koen se medewete van stapel gestuur.

“Daar was al drie geleenthede waarby Jannie my voete totaal en al onder my uitgeslaan het. Die eerste keer was toe hy een jaar saam met ʼn paar ander kunstenaars gekonkel het om as ʼn verrassing saam met Mathys Roets op te tree tydens die teater se verjaardagkonsert. Die tweede was toe hy seker gemaak het ons kry ʼn gepaste datum in my druk teaterdagboek om my 60ste verjaardag te vier, en die derde keer is nou. Ek is ongelooflik baie dank aan hom verskuldig.

Mathys Roets op die verhoog tydens een van die teater se verjaarsdagvieringe. (Foto: Verskaf)

“Jannie gaan as kunstenaar en gastehuiseienaar self nou deur diep waters en die feit dat hy ten spyte daarvan steeds kans sien om die ondersteuningsfonds vir die teater te dryf, is ongelooflik,” sê Koen.

Benewens die talle musiek, teater- en kinderteaterproduksies wat aangebied word, bied die teater ook reeds die afgelope 17 jaar gereeld optredes deur mense met gestremdhede aan as deel van ʼn konsertreeks getiteld “Ten spyte van”.

“Die doel van die konserte is drieledig. Dit gee gestremdes die kans om op ʼn verhoog te kom en om voor ʼn gehoor op te tree. Hulle trek ook finansiële voordeel uit die optredes, want die kaartjieverkope se opbrengs gaan net so aan die individu of groep wat opgetree het. En dan skep hierdie optredes ook bewusmaking oor gestremdhede, nie net vir die breër publiek nie maar onderling tussen mense met verskillende gestremdhede.”

Die optredes word moontlik gemaak deur Fanie Marais, hoof van die Cordis-trust. “Cordis is ʼn Griekse woord wat beteken ‘uit die hart’. Marais is saam met Koen se broer, Johann, ʼn spesialis op die gebied van korporatiewe bestuur, aan die stuur van die Pierneefteater Ondersteuningsfonds.

Koen voeg by dat die Bombshelter Bikers Church Pretoria, wat reeds die afgelope twee jaar elke Sondag hul dienste in die teater hou, by monde van pastoor Cobus Siebrits laat weet het dat hulle steeds die teater sal vergoed vir die Sondae wat hulle nie dienste kan hou as gevolg van die algehele afsonderingstydperk nie.

“Dit was ʼn welkome oproep om te kry in ʼn baie donker tyd. Daar is ongelooflike seëninge wat oor ʼn mens se pad kom wat ʼn mens nie verwag nie,” sê Koen.

  • Die Ondersteuningsfonds sal gebruik maak van ʼn geregistreerde trust met onafhanklike trustees, wat alle fondse sal bestuur ooreenkomstig erkende trust-beginsels. Verslae sal ook beskikbaar wees op aanvraag van enige donateur, ten einde te kan bevestig dat die fondse oordeelkundig en in lyn met die Ondersteuningsfonds se doelwitte geadministreer sal word. Indien jy belang stel om ʼn bydrae te maak, stuur ʼn e-pos na [email protected] of [email protected].

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michael 1 ·

Hierdie inisiatiewe moet nie verdwyn nie ons as gemeenskap moet dit ondersteun en laat groei.

Leon ·

Dit is ‘n baie oulike teater. ‘n Vriendin van ons onderrig sangers in die omgewing en elke jaar hou sy haar finale in die teater. Sy gee ook die mense wat nooit in die hoofstroom sou kon sing ‘n kans.
Die teater is ‘n juweel in die Moot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.