Plaaslike radiostasie is op soek na beste skole rockgroep 

Foto ter illustrasie. (Foto: Chris Zhang/Unsplash)

GROOTfm 90.5 se GROOTtrek-middagspan, het verlede week met ʼn “Battle of the Bands”-kompetisie afgeskop.

As jy skoolgaande, onder 18 en deel van ʼn musiekgroep is, is hierdie jou groot geleentheid om jou orkes aan die wêreld bekend te stel.

GROOTfm bied skool-orkes(te) die geleentheid om via grootfm.co.za tot Maandag 24 April in te skryf. Slegs ʼn selfoonvideo en die voltooiing van ʼn inskrywingsvorm is nodig.

Daarna begin die beoordelingproses met behulp van Bouwer Bosch, van onder andere die Straatligkinders-faam, en Lucinda Neethling, destydse hoofsanger van Die Melktertkommissie. Saam met dié kundige span, gaan Roux Cloete van Universal Music South Africa ook sy kundigheid inspan om een van tien finaliste te kies. Jou orkes moet ʼn minimum van drie lede hê om vir die volgende rondte te kwalifiseer.

Die top 10 “bands” word kort daarna aangekondig, van waar daar ʼn volgende uitkloprondte gaan plaasvind, met weeklikse onderhoude met die groepe op Vrydae gedurende die GROOT Trek-middagprogram saam met Doepie du Preez en Nina Coetzer. Die weeklikse onderhoude gaan ʼn profielonderhoud wees, en die liedjie wat deel vorm van die inskrywing, gaan regstreeks op die lug uitgesaai word.

Die finale wenner word op 11 Augustus aangekondig, en stap, oftewel dans, weg met ʼn R20 000-geskenkbewys van Oosthaven’s Musiekwinkel en ʼn professionele opname van drie enkelsnitte deur Universal Music South Africa.

Kriteria waarvolgens finaliste en daarna wenners gekies word sluit in talent, oorspronklikheid en algehele “vibe”. Vir die volledige kriteria, en lys van bepalings en voorwaardes van die kompetisie, besoek grootfm.co.za.

So, as jy gewonder het wat om hierdie skoolvakansie met jou tyd te maak, maak musiek.

(Grafika verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nommer 7 ·

Miskien het SA ook ‘n rockgroep soos “The Warning”, die 3 sussies van Mexiko. Hulle is nou 18, 20 en 22, en bestaan al 10 jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.