Potch se Geesfees help honger magies voed

Demi Lee Moore.

Van die land se gewildste Afrikaanse kunstenaars is eersdaags by die Virseker Geesfees te sien waar hulle ten bate van Solidariteit Helpende Hand se #StopHonger-voedingskema optree.

Dié fees word van 24 tot 26 Maart by die Lekwena Wildlife Estate ongeveer 10 km buite Potchefstroom aangebied.

Kunstenaars soos Demi Lee Moore, Appel, Juan Boucher, Eloff en Bernice West is op die verhoog te sien. Besoekers kan ook uitsien na ʼn kuiertuin en verskeie stalletjies met lekker kos en aktiwiteite vir oud en jonk.

Manne wat dink hulle baard kan ander baarde in die skande steek, kan gerus vir die Buffelsfontein-baardkompetisie inskryf. Die akteur Neil Sandilands het verlede jaar as die Internasionale Baardkampioen koning gekraai.

“Die feesorganiseerders en -borge poog om voedsel vir die siel te verskaf en terselfdertyd bewusmaking van hongersnood onder die land se kleuters te skep,” het René Roux, adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand, gesê.

René meen dat dit een ding is om feestelik te wees, maar die organisasie wil ook graag die fees aan ʼn groter doel koppel. “Die werklikheid is dat daar elke aand kleuters is wat honger gaan slaap, want hul ouers kan net eenvoudig nie bekostig om vir hulle kos te voorsien nie.”

Op die oomblik word meer as 8 000 kleuters deur Helpende Hand se #StopHonger-voedingskema gehelp. Die veldtog help kleuterskole in Afrikaanse gemeenskappe met koopbewyse om kos vir hulpbehoewende kleuters aan te koop, en vir talle van dié kleuters is dit hulle hoofmaaltyd vir die dag.

Renier van der Westhuizen, Megan Danner en Dian Maritz van Rooksein. (Foto: Verskaf)

In 2022 het Helpende Hand en Virseker kragte saamgesnoer om ʼn nuwe kunstefees op die been te bring. Die fees sorg nie net vir ʼn feestelike atmosfeer onder feesgangers nie, maar help ook om behoeftige kinders se honger magies te voed. Dié fees was so gewild dat dit op openbare aanvraag weer aangebied word.

Op Vrydag 24 Maart is Prop, Reën, Juan Boucher en Appel op die Geesfees-verhoog te sien. Pieter Smith, Eloff, Bernice West, Brendan Peyper en Robbie Wessels staan gereed om feesgangers op Saterdag 25 Maart te vermaak, terwyl Rooksein, Chris Else, Demi Lee Moore, Ricus Nel en Carma op Sondag 26 Maart optree.

ʼn Beperkte aantal kaartjies is aanlyn op Tixsa se webwerf, by Kooperasie Kroeg & Kos in Potchefstroom of by die hek te koop. Hou Geesfees 2023 se Facebook-blad dop vir die jongste nuus oor die fees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.