Prop en sy Mieke verwelkom wonderwerkbaba

Prop en sy vrou, Mieke, het hul wonderwerkbabatjie verwelkom. (Foto: Appelliefie Art & Photography)

Ná ʼn twee jaar lange stryd met in vitro-bevrugting, genetiese toetse en duisende rande, het Jan-Adriaan van Rooyen, beter bekend as die sanger en liedjieskrywer, Prop, en sy vrou, Mieke, uiteindelik hul wonderwerkseuntjie, Adriaan, verwelkom.

“Ons wil ons storie deel, want ons is beslis nie die enigste paartjie wat hierdie pad moes stap nie,” het Mieke, met Adriaan op haar skoot en Prop aan haar sy, aan Maroela Media verduidelik.

“Mense is skaam om daaroor te praat, veral mans. Eintlik moet ons dit normaliseer om meer oor fertiliteitsprobleme te praat,” het Prop sy vrou se woorde beaam.

Vir dié paartjie was dit nie net ʼn stryd met fertiliteitsprobleme nie, maar hulle wou probeer verhoed dat Prop se semidwergisme-geen nie oorgedra word na hul baba nie.

Prop moes deur sy kinderjare heen sowat 27 operasies ondergaan om te verseker dat hy sal kan loop. Dit was nie maklik nie, erken hy, die behandelinge was duur, die herstelproses tydsaam en hy is dikwels op skool geboelie.

“Gelukkig, gegewe sy persoonlikheid, het die boelies hom nie geaffekteer nie,” sê Mieke.

(Foto: Appelliefie Art & Photography)

Hy is in 1986 as sewe maande oue baba met septisemie gediagnoseer. Hy was in daardie stadium die enigste persoon ter wêreld onder die ouderdom van 14 wat dié dikwels noodlottige siekte oorleef het. Dit is ook die oorsaak van die letsels op sy arms en die rede waarom van sy vingers geamputeer moes word.

“ʼn Pediater het in daardie stadium besluit dat ek die virus gaan moet uitbloei voordat dit in my organe intrek. Ek moes vyf bloedoortappings ʼn dag kry, en my pa-hulle moes self Pretoria plat ry om bloedbanke te soek wat genoeg bloed gehad het,” vertel hy.

“Dit het my lewe gered.”

Prop se ouers het in daardie stadium nog nie besef dat hy nie reg groei nie, dit het hulle eers agtergekom toe hy vier jaar oud was. Hy is daarna met Pseudoachondroplasie, oftewel semi-dwergisme, gediagnoseer.

Sy lewe het daarna ʼn ommeswaai gehad. Dit was ʼn voortslepende stryd om te verseker dat hy gemaklik beweeg en dat sy bene en spiere so ontwikkel dat hy wel eendag sal kan loop.

Hy was vir lang tydperke in ʼn rolstoel gewees, en dokters het selfs geglo dat hy nooit weer sal kan loop nie. Dit was toe, te midde van sy mediese stryd, dat hy die kitaar opgetel het. Musiek het sy uitlaatklep geword.

Voordat hy ʼn huishoudelike naam met sy treffersnit, “Kwaaitjie”, geword het, het hy vir 10 jaar saam met Robbie Wessels as kitaarspeler getoer.

(Foto: Appelliefie Art & Photography)

Hy het egter in 2013 in die ouderdom van 27 argitektuur aan die Universiteit van Pretoria begin studeer, en in 2019 sy meestersgraad daarin verwerf. Dit is ook tydens sy studies waar hy sy vrou ontmoet het.

“Dit is ʼn regte liefdesverhaal. Ek het nie gedink dat dit my liefdestorie sal wees nie, maar ek het wel gebid vir ʼn vriend, en dit is presies wat hy vir my was,” vertel Mieke.

Dié paartjie het in 2017 op Paternoster se strand getrou en het kort daarna besluit dat hulle graag ʼn babatjie wil hê. Hulle het reeds toe ernstige gesprekke gehad oor hoe hulle die babatjie sou verwek, en hoe hulle sou keer dat Prop se Pseudoachondroplasie oorgedra word aan die baba.

“Kyk daar is ʼn vyftig/vyftig-kans as mens die normale pad stap. Ek weet om gene te toets is vir baie mense kontroversieel, maar ek weet watter pad ek gestap het en ek sal dit graag vir my kind anders wil hê,” het Prop verduidelik.

“Ongeag, sal ons baie lief wees vir ons kind, maar ons wil hom net die uitdagings daarvan spaar.”

Die paartjie het aan die begin van 2020 met ʼn proses begin om gene te laat toets. Hulle het aanvanklik beplan om die geen te identifiseer, dit uit te laat skakel, en daarna swanger te probeer word deur middel van in vitro-bevrugting. In daardie stadium kon hulle slegs sewe van Prop se gene toets om te sien watter een die Pseudoachondroplasie bevat. Dié toetse het egter nie vrug afgewerp nie, en hulle kon nie bepaal watter geen dit is nie.

(Foto: Appelliefie Art & Photography)

Ná ʼn wyle, het hulle besluit om self swanger te probeer raak. Dit was ʼn lang en moeilike reis, erken hulle. Prop moes selfs ʼn operasie ondergaan om te poog om fertiliteitsprobleme aan te spreek. Hulle was egter nie suksesvol in dié pogings nie, en het teruggekeer na die idee van in vitro-bevrugting.

In 2022 het hulle die proses om Prop se gene te toets hervat, en kon dié keer meer as 300 gene toets. Dit was egter weer onsuksesvol.

Die paartjie het daarna besluit om die waagsprong te neem en voort te gaan met die in vitro-bevrugting sonder die uitskakeling van die semidwergisme-geen. Daar is in totaal drie embrio’s geskep, wat die paartjie die hoop gee om nie te lank te wag voordat hulle die gesin uitbrei nie.

“Dit was ʼn saak van geloof. Omdat ons toetse op die embrio’s laat doen het, en daar bepaal is dat hulle elkeen gesond sal wees, het ons besluit om net een te laat inplant,” verduidelik Mieke.

“Ons is baie gelukkig dat dit die eerste keer gewerk het.”

Adriaan is tans ses weke oud en word dopgehou om te sien of daar enige tekens is dat die geen oorgedra het, maar Prop verduidelik dat hy eintlik langer as die gemiddelde baba in daardie ouderdomsgroep is. Hulle sal egter eers met sekerheid weet wanneer hy ouer is.

“Ons glo in ons harte dat hy ʼn normale lewe sal lei, maar as hy nie doen nie, sal ons hom liefhê en aanvaar soos hy is. Hy is ons wonderwerkkind.

“Mense vra altyd so maklik uit wanneer jy ʼn kind kry, maar dit is nie iets om oor skaam te wees nie. Ons moet meer oor infertiliteitsprobleme begin praat, en dit normaliseer om jou fertiliteitsreis met ander te deel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B-Man ·

Dankie dat julle deel, Prop! Ons moes self 3 keer PICSI en is baie gelukkig om vandag twee pragtige kinders te hê. Ons hoef nie skaam te wees daaroor nie en was altyd verbaas oor die getalle mense (van alle rasse en klasse) wat die spreekkamers volsit. Julle, en andere wat dalk bang/angstig is, is beslis nie alleen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.