Radioman MD Greyling weer slaggereed vir die verhoog

MD Greyling se hande het behoorlik gejeuk om weer die kitaar op te tel en musiek te skryf. Ná ʼn gaping van ses jaar is hy nou terug op die Afrikaanse musiektoneel met ʼn splinternuwe enkelsnit getiteld “Boer se geloof”.

Die 36-jarige musikant, wat ook sy stem inspan as omroeper vir die gemeenskapsradiostasie Pretoria FM, sê hy het inspirasie vir “Boer se geloof” geput uit die onsekere tye waarin ons leef.

“Ons as mens moet sterk staan in ons geloof en ons nie bekommer oor alledaagse goed nie. Ons moet almal normaal kan funksioneer terwyl die wêreld rondom ons disfunksioneel is, en ons kan dit slegs regkry as ons ons geloof in die Here plaas en nie in aardse dinge nie,” sê Greyling.

“Kom ons hou ons geloof sterk, ons oë op die Here en ongeag die situasie, sal dinge beter gaan. Om ʼn liriekreël uit die liedjie aan te haal: ‘Dit is God se genade wat jou en jou huis hierdeur sal dra’.”

As pa van twee seuns, Divan (4) en Lenro (3), probeer hy juis fokus op die positiewe dinge wat uit die algehele afsonderingstydperk spruit, soos die ekstra gesinstyd wat hy en sy vrou, Denise, nou saam met die kinders kan deurbring.

“Ons eet weer almal saam, speel met die kinders in die tuin, en teken en kleur saam met hulle in. Dit is eintlik baie lekker,” sê hy.

Die musikant het ʼn paar suksesvolle Afrikaanse albums, soos Droomkasteel en Foto’s teen die muur, agter sy naam en vertel hy beplan om in die toekoms nog ʼn paar enkelsnitte uit te reik en ook meer op die verhoog te verskyn.

“Die radiostasie en my twee spruite hou my goed besig, maar ek is nou weer lus om musiek te maak en op die verhoog te wees. As musiek eers in jou are is, is dit moeilik om daarvan weg te skram,” sê hy.

Sy liefdesvlam vir die radiowese brand ook steeds hoog en in sy daaglikse joernaalprogram, 14:00 – 17:00 met MD Greyling, deel hy alledaagse inspirasiestories met ʼn ligter aanslag.

“Tot vandag toe is radio steeds een van die wonderlikste bronne van inligting en vir sommige mense is dit die énigste bron van nuus en inligting. Ek voel bevoorreg om in ʼn posisie te kan wees waar ek die verantwoordelikheid het om elke dag duisende mense te bereik met nuuswaardige en geloofwaardige gebeurtenisse en sodoende ʼn positiewe verskil kan maak,” sê hy.

“Boer se geloof” is deel van ʼn speellys wat op verskeie stromingsdienste uitgereik is. Dié amptelike Afrikaans is Groot-speellys, getiteld HOOP, is saamgestel deur dieselfde rolspelers wat die immergewilde Afrikaans is Groot-versamelalbums jaarliks saamstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stof ·

Ware stof tot dankbaarheid. Hierdie man is voorwaar talentvol en vul sy luisteraars met hoop, deur sy musiek en sy radiowerk.
Mag Vader se guns op sy lewe, ruim wees. MD is dit waardig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.