Rekordgetal inskrywings stroom in vir Aitsa-toekennings

Corlea Botha is al met ‘n Aitsa-musiektoekenning beloon. (Foto: Verskaf)

ʼn Rekordgetal van 449 inskrywings het vanjaar vanuit die Afrikaanse musiekbedryf vir die 2023 Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings ingestroom.

Die Aitsa-musiektoekennings, aangebied deur Pretoria FM, vind plaas op Dinsdag 19 September by die Choose Life Ouditorium in Moreletapark, Pretoria. Kunstenaars wat tydens dié geleentheid gaan optree is Jo Black, Herman Kleinhans, Samantha Leonard, Bernice West, Scheppel, Rooksein, Zaan Sonnekus, Eloff, Brendon Peyper en Dodo Nyoka.

Die Aitsas is sedert 2019 ʼn platform om Afrikaanse kunstenaars, liedjieskrywers, vervaardigers, bestuurders en platemaatskappye te vereer vir hul bydraes tot die plaaslike musiekbedryf.

Bekendes soos Elandré, Eloff, Riana Nel, Corlea Botha en Irene-Louise van Wyk is al met ʼn Aitsa-beeldjie beloon.

‘n Handjievol van Afrikaans se grootste kunstenaars verlede jaar op die Aitsas-verhoog. (Foto: Verskaf)

In 2019 is daar 288 inskrywings en in 2021 is daar 503 inskrywings ontvang omdat hulle weens die Covid-pandemie oor ʼn tweejaartydperk gestrek het.

Verlede jaar het die musiekpryse ʼn totaal van 389 inskrywings ontvang.

Vanjaar se 449 inskrywings verteenwoordig dus ʼn 55% groei vergeleke met die eerste Aitsa-toekenningsgeleentheid in 2019. Slegs snitte wat vanaf 1 April 2022 tot 31 Maart 2023 uitgereik is, kon vir vanjaar se toekenningsgeleentheid ingeskryf word.

Willie Spies, voorsitter van die Aitsa Trust, het voorheen gesê dat vanjaar se groeiende aantal inskrywings bewys dat Afrikaanse musiek ʼn bloeitydperk beleef en deurlopend nuwe talent oplewer.

Volgens Spies is die kategorieë vir popliedjie van die jaar, liedjieskrywer van die jaar, luisterliedjie van die jaar en nuweling van die jaar weer uiters gewild onder vanjaar se inskrywings.

Maroela Media het vroeër berig dat vanjaar se nuwe kategorie, klassieke snit van die jaar, ook vir goeie mededinging sorg.

Riaan Benadé wen die toekenning vir suksesvolste Afrikaanse snit: manlik, op verlde jaar se Aitsa-musiektoekenningsgeleentheid. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

ʼn Paneel onafhanklike beoordelaars het die beoordeling van al die snitte op 7 en 8 Junie 2023 gedoen. Die onafhanklike beoordelaars word jaarliks aangewys op grond van hul toepaslike ervaring en kundigheid. Vanjaar se paneel bestaan uit Carlé van Deventer, AJ Opperman, Rian Swanepoel, Rèvan Lüus en Anza-Annaretha Naude.

Die Aitsa Trust se ouditeure, wat reeds van die begin af in 2019 betrokke was by die Aitsas, verifieer die beoordelaars se uitslae.

Vanaf Vrydag 23 Junie sal elke kategorie weekliks aan die publiek bekendgestel word tydens ʼn program wat Vrydagaande onder leiding van Riaan Grobler op Pretoria FM uitgesaai gaan word.

Die publiek kan daarna luister op 104.2 FM, DSTV kanaal 887, www.pretoriafm.co.za of op Pretoria FM se app.

Kaartjies vir die Aitsa-toekennings is reeds teen R250 beskikbaar by https://itickets.co.za/events/472390.

  • Vir enige verdere inligting, stuur gerus ʼn e-pos aan [email protected] of volg Pretoria FM op Facebook en Instagram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.