Skryfnet-liedjieskryfkursus inspireer nog ʼn enkelsnit

Jopie Pienaar en Weco van Basten (Foto: Gerduan Kemp van Gerduan Kemp Photo & Film)

Deur Annelien van Basten

Skryfnet se eerste liedjieskryfkursus het in Mei 2023 plaasgevind en teen die einde van die jaar ʼn liedjie en musiekvideo, “Om myself te vind”, opgelewer uit die pen van die 21-jarige Elsje du Toit.

Nou het nog ʼn deelnemer, Weco van Basten, ook sy liedjie wat deur dié kursus geïnspireer is vrygestel saam met sy kitaarspeler, Jopie Pienaar, onder hulle verhoognaam Victor Bravo.

“Lê my neer” is ʼn Afrikaanse rock-snit wat gaan oor daardie liefdes-haat-verhouding wat jy dikwels het met die plek waar jy vandaan kom.

“Wanneer jy jonk is, voel die plek waar jy bly en grootgeword het te klein vir al die groot drome wat jy vir die toekoms het en wil jy aanbeweeg na groter en beter dinge,” vertel Van Basten.

“Ek was self só en het direk ná skool Amerika toe verhuis. Daarna het die lewe gebeur en het ek al op verskillende plekke gewoon, maar iets bring my vir die een of ander rede altyd terug na my grootword-plek, die Vaaldriehoek, met sy unieke bekoring en interessante mense.”

Hoewel Victor Bravo reeds in 2018 die musiekbedryf betree en reeds verskeie enkelsnitte en toekennings op hul kerfstok het, glo Van Basten dat jy deurlopend jou vaardighede moet opskerp en het daarom besluit om in te skryf vir Skryfnet se Skryf ʼn liedjie-kursus, onder leiding van Deon Meiring.

“Ek het eintlik gedurende die aanlyn gedeelte van die kursus aan ʼn ander liedjie geskryf, maar gedurende die praktiese sessie het ʼn gesprek met my mede-deelnemers oor die Vaaldriehoek hierdie snit geïnspireer.

Victor Bravo se albumomslag met Weco van Basten en Jopie Pienaar

“Geen plek is perfek nie en die Vaaldriehoek het ook sy probleme en reputasie, maar ek het besef dat ongeag van waar ek myself in die lewe bevind, ek graag eendag my laaste rusplek tussen die wilgerbome en ‘mense van die misweer’ wil hê, want dit is waar ek vandaan kom, waar ek tuis voel, waar ek geleer het oor mens wees, waar my familie bly en waar ek my vrou ontmoet het… die plek wat my gemaak het wie ek is.

“Ek glo dat die liedjie sal aanklank vind by enigiemand wat lief is vir die plek waar hulle vandaan kom en dalk weg werk en verlang na hul mense.”

“Lê my neer” is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms en kan hier afgelaai word: https://vyd.co/Lemyneer

As jy ook graag jou liedjieskryfvaardighede wil opskerp, kan jy nou inskryf vir vanjaar se liedjieskryfkursus!

Skryf ‘n liedjie-kursus

Skryf ʼn liedjie is ʼn unieke leerprogram wat op 6 Mei 2024 aanlyn afskop en op 7 en 8 Junie 2023 afsluit met ʼn tweedaagse praktiese werkswinkel in Pretoria.

Die inhoud van die kursus is ontwikkel deur Clive Ridgway en is verwerk en word aangebied deur die gewilde musikant en liedjieskrywer, Deon Meiring.

Deon Meiring (Foto: Blyde Smit)

Deon het op laerskool sy eerste liedjies begin skryf. Hy het gedink dit gaan help met sy sukkelende romantiese loopbaan. Dit het nie, maar hy het nogtans aanhou skryf. Vandag is hy getroud en sy liedjies speel reg oor Suid-Afrika met sy gevestigde solo-projek en groepe Glaskas en Dans Dans Lisa. Dié begaafde musikant se musiek is al in films en op TV gebruik en hy het al talle opkomende liedjieskrywers begelei om hulle vaardighede te verfyn. Hy skryf en bring ook steeds gereeld nuwe musiek uit.

Gedurende die vier weke aanlyn sessie sal Meiring deelnemers begelei om hulle idees om te skakel in treffende lirieke.

Tydens die naweek se kontaksessie sal al die nuwe skeppings getoonset en afgerond word tot ʼn werkbare liedjie wat voorgelê kan word vir opname.

Deelnemers sal ook die kans kry om hulle musiek met die res van die groep te deel om die kampvuur en daar gaan ook ʼn prys wees vir die beste liedjie.

Om jou plek te bespreek, klik hier. Sodra die registrasieproses afgehandel is, sal daar ʼn e-pos met verdere inligting deurgegee word om toegang te kry tot die leerplatform.

Deelnemers wat die kursus voltooi, ontvang ʼn sertifikaat van Akademia. Inskrywings sluit op 3 Mei 2024. Koste beloop R5 300 per persoon en sluit nie verblyf en vervoer in nie.

Vir meer inligting oor die kursus, besoek ook Skryfnet se webwerf, stuur ʼn e-pos na [email protected] of volg ons op Facebook en Instagram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.