Soms Wen Die Wolf: ‘Ons is ʼn bleeksiel-swaarmetaal-orkes’

Werner Mielies Human, Ernst Roets, Charles Kemp en James Kemp vorm saam deel van die groep Soms wen die wolf. (Foto: Verskaf)

Werner Mielies Human, Ernst Roets, Charles Kemp en James Kemp vorm saam deel van die groep Soms Wen Die Wolf. (Foto: Verskaf)

Bedags beklee Ernst Roets, Werner “Mielies” Human, James Kemp en Charlie Kemp voltydse kantoorposte, maar saans, wanneer die rekenaars uiteindelik afgesit is en hulle kinders in die bed is, is hulle ook talentvolle musikante wat kragte saamgesnoer het om ʼn rockgroep, Soms Wen Die Wolf, te vorm.

Roets is ʼn bekende burgerregte-aktivis en hoof van beleid en aksie van AfriForum terwyl Human onder andere ʼn adjunkbestuurshoof in die regsafdeling van Solidariteit is. James Kemp is ʼn nuusredakteur en omroeper by Pretoria FM en sy broer, Charlie, is die voorsitter van die Nasionale Poligraafvereniging van Suid-Afrika (PASA).

Dit was juis James, baskitaarspeler en sanger, wat aanvanklik die res van die groep genader het om saam te speel. James is ook ‘n talentvolle liriekskrywer.

“Ons almal speel vir ʼn stokperdjie kitaar of ander instrumente. Ons het besluit: terwyl ons dit nou in elk geval by die huis vir ontspanning doen, kom ons doen dit meer georganiseerd,” vertel Roets in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Ons het vir mekaar gesê ons neem die groep nie té ernstig op nie – dis nie asof ons nou uit ons werk gaan bedank en voltyds die rock and roll-lewe wil ingaan nie. Maar ons doen dit in elk geval, so kom ons tree op en reël ʼn paar vertonings.”

Werner Mielies Human, Ernst Roets, Charles Kemp en James Kemp vorm saam deel van die groep Soms wen die wolf. (Foto: Verskaf)

Werner Mielies Human, Ernst Roets, Charles Kemp en James Kemp vorm saam deel van die groep Soms wen die wolf. (Foto: Verskaf)

Volgens Human, wat kitaar speel vir die groep, het ʼn gedeelde belangstelling in dieselfde musiek ook die groep byeen gebring. “Ek dink nie een van ons het twee jaar gelede gedink ons gaan deel wees van ʼn musiekgroep nie, hoewel ons mekaar gereeld gesien het. Dit is wonderlik hoe ons iets gemeenskapliks kon vind wat ons saam kan oefen.”

Roets beaam dit. “Ons het baie met mekaar te doen in ons professionele lewe en ons is ook vriende ná ure, so dit het alles goed uitgewerk,” sê hy.

Hulle vertel die groep se naam was die idee van Charlie, die tromspeler vir die groep. “Ons het verskriklike idees gehad, die belaglikste name waaraan ʼn mens kan dink. Maar hier aan die begin rond het Charlie gesê kom ons noem die groep Soms wen die wolf, en dié naam het net bly terugkom,” vertel Roets.

Die groep het mense laat regop sit met sy eerste enkelsnit, “Wolf wolf hoe laat is dit”, wat in die heavy metal-genre val. Volgens Roets is die terugvoer op die snit geweldig positief.

Werner Mielies Human, Ernst Roets, Charles Kemp en James Kemp vorm saam deel van die groep Soms wen die wolf. (Foto: Verskaf)

Werner Mielies Human, Ernst Roets, Charles Kemp en James Kemp vorm saam deel van die groep Soms wen die wolf. (Foto: Verskaf)

“Ons het onlangs in Bloemfontein opgetree en daar was studente van Kovsies wat die konsert kom kyk het. Hulle het vooraf vir ons gesê hulle ken ons en hulle kom net na die konsert toe uit nuuskierigheid en dat hulle eintlik meer van Afrikaanse sokkiemusiek hou. Agterna het hulle vir ons gesê hulle was mal oor die konsert.”

Hoewel die eerste enkelsnit heavy metal is, is dit nie die enigste genre waarin dié groep musiek maak nie. “Ons wil vir mense sê hulle moet nuuskierig bly. Ons het ʼn arsenaal van 14 liedjies uit ons eie pen en jy gaan benewens die harde musiek ook akoesties-instrumenteel en elektries-instrumenteel kry.”

Roets, wat kitaar speel en sing en ook liedjies skryf vir die groep, vertel wanneer die groep optree by konserte is hulle óf die swaarste groep, of die ligste. “Ons spot en sê ons is ʼn Afrikaanse bleeksiel-swaarmetaal-orkes, want ons is almal maar werkers wat bedags agter die rekenaar sit.”

“En ons almal dra ʼn bril ook,” lag Human.

Soms Wen Die Wolf tree Vrydag 17 Januarie om 19:30 by Railways Café in Irene, Centurion op saam met Bouwer Bosch. Die toegangsfooi is R50.

  • “Wolf wolf hoe laat is dit” is beskikbaar op alle digitale platforms soos SpotifyApple Music en Google Play.
  • Soms Wen Die Wolf kan ook op Facebook, Instagram en YouTube gevolg word of besoek die webtuiste vir meer inligting oor musiek en optredes.
  • Soms Wen Die Wolf het ook in Maroela Media se ateljee kom draai en met Leonie Bezuidenhout gesels. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

Kyk na die musiekvideo van “Wolf wolf hoe laat is dit” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Capie ·

Soos ‘n koel seebriesie na ‘n snikhete dag. Verfrissend. Julle laaities mag maar.

Carel ·

Moet net nie ‘n liedjie skryf oor die ou landsvlag nie, dan is julle weer in die sop, hahaha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.