Staande applous lei Gelofteweek in

SingFonix, ’n mansensemble, het saam met die Pretoria Simfonieorkes vir die mooiste Kersmusiek gesorg. (Foto verskaf)

Die opening van die Gelofteweekvieringe is Donderdagaand met ’n staande toejuiging by die Voortrekkermonument ontvang.

Honderde mense het die Heldesaal in die monument toegestroom vir ’n besonderse ervaring en die skare is vermaak met die mooiste Kersmusiek gelei deur die Pretoria Simfonieorkes, asook ’n ongelooflike vertoning deur SingFonix, ’n mansensemble.

“Ons sien al hoe meer dat die monument ’n plek word waar mense lewe en ’n plek waar mense mekaar ontmoet om hul kultuur uit te leef,” sê ds Cassie Aucamp, die voorsitter van die monument se direksie.

“Dit was absoluut fantasties. Dis so spesiaal dat só ’n vertoning aan die algemene publiek beskikbaar gemaak is. Drie generasies van een gesin kon dit geniet – oupa en ouma, pa en ma én die kinders het almal die geleentheid geniet.

“Dit is ongelooflik dat dit so ’n interaktiewe konsert was, waar die orkes gespeel het, maar waar die gehoor ook self deel kon wees,” sê Poy Opperman wat hierdie Kerssang by kerslig-konsert bygewoon het.

Dit is Kersfees by die Voortrekkermonument. (Foto verskaf)

Vir Barry Müller, kultuurorganiseerder in die noordelike provinsies, is musiek sielskos.

“Een van ons grootste kultuurerfenisse is musiek. Musiek het die vermoë om mense saam te bring, te inspireer en selfs nostalgies te maak. Hierdie aand was weereens ’n bewys van hoe hierdie kultuurskat met die siel van elke Afrikaner gesels en die flikkering van hoop in elkeen se oë weer laat skyn. Musiek is steeds die sielskos van ons mense en gisteraand is ons behoorlik gevoed.”

Geliefde liedere soos “Somerkersfees,” “Stille nag” en “Herders op die ope velde” het oor die monumentterrein gedreun en groot opgewondenheid geskep vir die weeklange fees wat voorlê.

Die Trekroetetuin is ook omskep in ’n pragtige liggietuin wat mens kinderlik opgewonde vir Kerstyd maak.

Kom geniet die heerlike reeks feesvieringe saam met jou gesin by die Voortrekkermonument tot 16 Desember en sluit die jaar op ’n hoë noot af. Registreer hier: vtm.org.za/gelofteweek2022/

Konsertgangers is op pad na die vertoning vir Kersmusiek. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.