Video: Fatman voeg stem by lied ten bate van kinderhospitaal

Die kunstenaars wat Amen sing (Foto: Verskaf)

Sewe Suid-Afrikaanse kunstenaars het pas ʼn liedjie genaamd “Amen” uitgereik om die Rooikruis Kinderhospitaal te help met fondse om hul nuwe noodeenheid klaar te bou. Elke sent wat uit hierdie liedjie gemaak word, gaan na dié hospitaal.

Fatman, Deon Meiring, Almarie du Preez, Gerry Liberty en 8 Misses Croon is almal deel van hierdie liedjie, saam met Jimm Harrisson wat die projek bestuur.

Fatman, oftewel Johan Brummer, het aan Maroela Media gesê hy het vir Harrison gevra of hy ook deel kan raak van dié projek nadat hy gehoor het hoe mooi die liedjie is. Dié projek vorm deel van Jimm Harrison Project & Vriende.

“Ek het die liedjie vir Jimm vervaardig toe ek dit vir die eerste keer gehoor het. Ek het hom gevra wat die planne met die liedjie is en hy het vir my verduidelik. ʼn Halfuur later het ek my deel daarin opgeneem,” sê Fatman.

Hy sê dit was ook wonderlik vir hom om musiek te maak vir so ʼn goeie doel.

Jimm Harrisson en Fatman (Foto: Verskaf)

“Ek is mal oor kinders; ek wou nog altyd ʼn kinderalbum uitgebring het. Om die kinders te ontmoet en hulle saam in die musiekvideo te hê, was baie lekker. Dit is ʼn goeie liedjie vir ʼn goeie doel,” sê hy.

Margot van Wyk, publisiteitsbestuurder van Jimm Harrisson Project & Vriende, het aan Maroela Media vertel dat 100% van die geld wat deur hierdie liedjie ingesamel word, na die Rooikruis Kinderhospitaal in Kaapstad gaan.

“Hulle is tans besig om ʼn nuwe noodeenheid te bou. Hulle het reeds R50 miljoen ingesamel, maar hulle kort nog R70 miljoen om die projek voor 2021 klaar te maak. Ons hoop om deur dié liedjie mense aan te spoor om geld te skenk sodat die hospitaal hul opgraderings kan afhandel,” sê Van Wyk.

Van Wyk het gesê hulle wou juis dié hospitaal help omdat dit die beste kinderhospitaal in die land is en omdat die hospitaal pasiënte help selfs al het hulle nie ʼn mediese fonds nie.

“Kinders is die toekoms. Ek help baie graag eerder iemand wat nie homself kan help nie, soos ʼn kind, ʼn hond of ʼn ou mens. Dit maak ʼn mens se hart so seer om die kinders met sulke ernstige siektes te sien. Hul kleine lyfies kan dit nie hanteer nie.”

Dié groep wil nou mense aanmoedig om “Amen” af te laai of te stroom, omdat elke bietjie sal bydra tot die groot bedrag wat ingesamel moet word. “Die musikante hoop om ’n merkwaardige verskil te kan maak,” het Van Wyk gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

WOW ·

WOW WOW WOW dis al wat ek kan se WOW !!!!! Gaan AMEN beslis aflaai.

Hallelujah ·

More, dit is nou net positiewe nuus vir ‘n Dinsdag. Amen klink soos ‘n fantastiese liedjie veral met Fatman daarin. Gaan dit aflaai. Rooikruis Kinderhospitaal wens in ‘n sense ek kan daar gaan werk – love ook kids en mense wat behoeftes het wat ander mense nie verstaan nie. Amen aan hierdie projek.

kolla ·

Goeie projek vir ‘n fantastiese hospitaal. Ek was self as kind daar behandel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.